
Die grond langs die N12 tussen Klerksdorp en Stilfontein wat die staatspensioenfonds teen R570 525 per ha gekoop het. Foto: VF Plus
Die Vereniging vir die Monitering van Staatspensioene (Amagp) vra opnuut vrae oor die omstrede transaksie in 2018 waarin die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens die staatsdienspensioenfonds (GEPF) grond by Klerksdorp in Noordwes gekoop het.
Die OBK het in November 2018 R586,5 miljoen vir ’n 60%-belang in die stuk ontwikkelingsgrond tussen Klerksdorp en Stilfontein gekoop, maar uit navorsing deur Amagp het daar nou nog nie enige sigbare ontwikkeling op die grond plaasgevind nie, het Albert van Driel, ’n bestuurslid van Amagp, in ’n brief aan die GEPF geskryf.
Intussen het Isago Property Holdings, die eiendomsontwikkelaar by wie die grond gekoop is, reeds sy geld gekry.
Daar kon geen duidelike bewyse gevind word dat die Matlosana-munisipaliteit, onder wie se jurisdiksie die grond val, wel al stadsbeplanning- en ontwerpspesifikasies vir enige ontwikkeling deur Isago op die perseel goedgekeur het nie, sê Van Driel.
Die doel van die beoogde stedelike ontwikkeling op die grond is beskryf as “multidissiplinêre ontwikkelings” ten bate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Militêre Veteranevereniging Trust – ’n liggaam wat gestig is om die lewensomstandighede van sowat 170 000 huisgesinne van voormalige MK- en Apla-vegters te verbeter. Dié trust het ’n 1%-belang in die grond. Amagp voer in sy brief aan die GEPF aan dit is duidelik dat die departement van militêre veterane of die departement van maatskaplike ontwikkeling eerder die regte instelling sou wees om die grond te gekoop het, met steun van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie of die Nasionale Bemagtigingsfonds.
Van Driel meen dit is ongehoord dat die swaarverdiende aftreespaargeld van staatsamptenare vermors moes word op ’n twyfelagtige sosio-ekonomiese projek van dié aard.
Die transaksie om die grond van 1 028 ha vir R586,5 miljoen te koop, werk uit op R554 985 per hektaar, wat nie ooreenstem met die Matlosana-munisipaliteit se waardasierol van 2018-’19 wat die grond op R25,52 miljoen waardeer het nie, sê Amagp.
Die DA, die VF Plus, die landbou-organisasie Saai, asook die vakbond Solidariteit is van die ander entiteite wat ernstige vrae begin vra het oor die transaksie, ingevolge wetgewing meer inligting daaroor aangevra het by die OBK en GEPF, en selfs ’n strafregtelike klag daaroor by die polisie ingedien het. Die VF Plus wil hê die Valke moet die transaksie ondersoek.
Die OBK het vroeër aangedui die transaksie is deur ’n deeglike noulettendheidstudie voorafgegaan en is volgens die OBK se beleggingsmandaat goedgekeur.
Baie van die OBK se beleggingstransaksies van die afgelope jare is egter deur die Mpati-kommissie ondersoek en die kommissie het aanbeveel dat die OBK se beleggingsprosesse verbeter moet word.