Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Pensioene: Cyril-plan klink soos ‘Jakkals en Gansie’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Argief

“Jakkals nooi vir Gansie, kom eet vanaand by my!”

Wie kan nog dié kinderrympie onthou?

Adamus Stemmet, woordvoerder van die vereniging vir die monitering en voorspraak van staatsdienspensioene (AMAGP), sê dié rympie het onmiddellik by hom opgekom toe hy die staat se uitnodiging sien aan pensioenfondse om in infrastruktuurprojekte te belê.

Stemmet se reaksie volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag sake, banke, pensioenfondse en ander belanghebbendes, aangemoedig het om die staat se planne te steun om die ekonomie weer aan die gang te kry deur middel van infrastruktuurprojekte.

Ramaphosa sê daar word beoog om oor die volgende vier jaar R1 000 miljard te lok in beleggings in infrastruktuur.

’n Spesiale infrastruktuurfonds is geskep vir dié doel.

Ramaphosa het ontwikkelingsbanke, kommersiële banke en pensioenfondse bedank dat hulle ingestem het om met die regeringstrukture van die infrastruktuurfonds saam te werk.

LEES OOK: ‘Infrastruktuur moet behoorlik beplan word,’ sê Cyril

Die uitnodiging klink goed en wel, maar hoe verloop die res van die rympie oor Jakkals en Gansie, en hoekom waarsku Stemmet dat Ramaphosa se planne vir hom daaraan herinner?

Die hele rympie klink as volg:

Jakkals nooi vir Gansie, kom eet vanaand by my.

Daar is heerlike kossies, en uintjies uit die vlei.

“Nee dankie,” sê die Gansie.

“Al staan jy op jou kop.

“As ek by jou kom eet, eet jy my sekerlik op!”

Stemmet sê hy is oortuig daarvan dat sou pensioenfondse in die staat se infrastruktuurprojekte belê, hulle ook “sekerlik opgevreet sal word”.

“Die regering het in die verlede nie die vermoëns getoon wat nodig was om beleggings en beleggers te beskerm nie en ook nie om ’n suksesvolle sakeonderneming te bestuur nie.

“Inteendeel, ons hoor elke dag van nog ’n mislukte entiteit in staatsbesit wat ’n reddingsboei moet kry,” sê hy in ’n verklaring.

Stemmet verwys ook na die ouditeur-generaal se onlangse verslag oor al die probleme wat by die Werkloosheidsversekeringsfonds onthul is oor hoe die spesiale Covid-19-Ters-voordeel betaal is.

Stemmet sê daar is reeds kommer oor wie hul posisies sal misbruik om hul hande te kry op die geld wat vir die infrastruktuurprojekte ingesamel word.

Hy sê dit is goed en wel dat die president onderneem dat daar rekenskap gegee sal word van elke sent, maar dit gaan nie help as hy dan verduidelik hoe dit verlore gegaan het weens korrupsie, werk wat nie op standaard was nie, of projekte wat begrotings oorskry het nie.

Die ‘gebrek aan dringendheid’ wat die GEPF aan die Mpati-kommissie getoon het (in die hersiening van hul beleggingsbestuursooreenkoms), sal in hierdie geval ’n baie welkome en gepaste optrede wees.
Adamus Stemmet

Stemmet sê teen nou het die staat se pensioenfonds (GEPF) heeltemal te veel “ete-uitnodigings” van die staat aanvaar.

Hy wys daarop dat oor die laaste net meer as tien jaar sowat ’n derde van die GEPF se bates reeds tot die beskikking van die regering gestel is.

Stemmet sê die AMAGP glo dat die GEPF dus reeds te veel blootstelling het aan projekte en/of entiteite wat aan die staat behoort.

“Ons pleit dat die GEPF-trustees op die oomblik selfbeheersing moet toon om aan hierdie infrastruktuurbeleggings deel te neem.

“Die ‘gebrek aan dringendheid’ wat die GEPF aan die Mpati-kommissie getoon het (in die hersiening van hul beleggingsbestuursooreenkoms), sal in hierdie geval ’n baie welkome en gepaste optrede wees,” sê hy.

“Ons stel voor dat die trustees nou agteroor sit en hierdie projek die geleentheid bied om te ontwikkel. Hierdie posisie kan dan binne drie tot vyf jaar hersien word indien die regering uiteindelik ’n bewese rekord het van die beskerming van beleggings en beleggers, deur te verseker dat diegene wat van plan is om te steel, te plunder, te sny, om te koop en af te pers, agter tralies is.

“Die infrastruktuurprogram sal in elk geval oor ’n periode van tien jaar ontvou, daarom is daar genoeg geleenthede later om wel te belê, sou omstandighede verbeter,” sê hy.

Meer oor:  Gepf  |  Cyril Ramaphosa  |  Adamus Stemmet  |  Infrastruktuur  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.