Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Pensioenfondse moet help betaal, sê Cosatu

Pensioenfondse moet via regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gedwing word om in sleutelkwessies soos infrastruktuur, water, energie, onderwys en gesondheid te belê.

Die vakverbond Cosatu het dié versoek weer Vrydag aan die parlement se staande komitee oor toedelings gerig as deel van sy voorlegging oor die toedelingswetsontwerp vir die 2020-’21-boekjaar.

Cosatu
Matthew Parks, parlementêre koördineerder van die vakverbond Cosatu.

Dit heropen die voortslepende debat wat die ANC reeds op sy beleidskonferensie in 2017 aan die gang gesit het oor voorgeskrewe bates.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, sê behalwe die regering se stimulusplan van R500 miljard behoort daar ’n stimulusbegroting van tot R1 000 miljard te wees.

Hy het toegegee die regering sal op sy eie nooit genoeg geld hê nie, en daarom behoort die private sektor ingetrek word om te help finansier.

Regulasie 28 van die pensioenfondswet moet gebruik word om pensioenfondse te dwing om impakbeleggings te doen in sleutelbeleggings vir infrastruktuur, water, energie, onderwys en gesondheid.

Om vrese te besweer en vertrouensgapings te vul behoort ’n adviesraad aangestel te word bestaande uit verteenwoordigers van die staat, sakesektor en die arbeidsektor om toesig te hou oor dié beleggings, meen Parks.

Die komitee moes Vrydag ’n openbare sitting oor die toedelingswetsontwerp vir die 2020-’21-boekjaar hou. Dit is bloot ’n administratiewe proses, want dié wetsontwerp moet eers goedgekeur word voordat Tito Mboweni, minister van finansies, sy spesiale toedelingsbegroting kan indien om op die Covid-19-pandemie te reageer.

Nog ruimte vir hoër belasting

Parks meen daar is wel nog ruimte vir belastingverhogings, veral by mense wat meer as R1,5 miljoen verdien, by boedelbelasting en om inflasie-aanpassings weg te laat vir die boonste twee inkomstebelastingkerwe.

Daar behoort eerder ’n verligting te wees op BTW, en ’n groter bydrae tot gratis elektrisiteit en water.

Parks het herhaal die staatsdiens se salarisrekening moet uitgelos word en dat dit nie so buitensporig gestyg het as wat beweer word nie. Teen 35% van die totale begroting is dit op internasionale norme.

Daar kan eerder gesny word aan die kabinet en burgemeesterskomitees se vergoeding, en daar moet ’n perk op die vergoeding van staatsondernemings se besture wees.

Deursigtigheid gevra

Die Budget Justice Coalition (BJC) vra op sy beurt groter deursigtigheid oor die regering se noodaankope tydens die Covid-19-pandemie, en oor die algemeen groter deursigtigheid en openbare deelname in die begrotingsproses.

Zukiswa Kota van die BJC het aan die komitee gesê daar behoort ’n sterker reaksie in die regering se noodbegroting te wees op hongersnood.

Minstens 55% van die bevolking leef onder die broodlyn met ’n inkomste van R1 267 per persoon per maand en minder, en voor die pandemie het 13 miljoen mense reeds gereeld hongersnood of wanvoeding ervaar, sê Kota.

Kota het gewaarsku die regering se reaksie om welsynstoelae te verhoog, is vertraag en daar was nie genoeg dringendheid nie.

Die lewering van basiese dienste moet prioriteit kry. Maar dit lyk of die regering selfs op noodsaaklike basiese dienste nie sy geld reg kan bestee nie. In die afgelope boekjaar is R250 miljoen van die regering se elektrifiseringsprogram nié bestee nie en die geld is terug na die staatskas.

’n Spesiale gesondheidsbegroting behoort oorweeg te word, vra Kota. Die departement van gesondheid behoort inligting bekend te maak oor sy personeelgetalle en vakatures.

Sy het die deursigtigheid van en openbare deelname aan die begrotingsproses gekritiseer.

Die komitee behoort beter toesig te hou oor die regering se noodverkryging tydens die pandemie, waarsku Kota.

Die BJC meen die styging in welsynstoelae is nie genoeg nie. Sy stel voor die kindertoelae moet met nog R500 per kind verhoog word.

Die koalisie steun die ouditeur-generaal se aanbod om kundiges van sy kantoor aan te bied om met die noodbegroting te help.

Hulle vra dat openbare besteding en inligting oor staatsaankope op openbare platforms soos VulekaMali gepubliseer word.

Meer oor:  Cosatu  |  Matthew Parks  |  Pensioenfondse  |  Voorgeskrewe Bates  |  Begroting  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.