Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
OG hof toe gevat oor mediese toelae
Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal. Foto: Argief

’n Geskil tussen pensioentrekkers en die ouditeur-generaal (OG) oor mediese toelaes het nou in die hooggeregshof gedraai.

Bertie Loots, Louis van Rooyen, Francois Joubert en Günter Witthöft beweer dat die OG sedert 2002 nog nooit hul maandelikse toelae tot hul mediese fonds verhoog het nie.

Loots was voor sy aftrede in 1998 die adjunk-OG.

Die vier pensioentrekkers wat die saak bring, het tussen sewe en 42 jaar lank vir die kantoor van die OG gewerk.

Daniël Eloff, die pensioentrekkers se regsverteenwoordiger, het aan Netwerk24 verduidelik dat die vier ’n totaal van 202 pensioentrekkers verteenwoordig wat almal dieselfde probleem het.

Hy sê die probleem met die bydrae is van toepassing op alle werknemers van die OG wat voor 2004 aangestel is en wat óf reeds afgetree het, óf nog moet aftree. Dit is omdat die wetgewing in 2004 verander het.

In ’n beëdigde verklaring wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is, voer die pensioentrekkers aan dat hoewel die ouditwetgewing in 2004 verander is, het die nuwe wetgewing nie dié regulasie verander dat bydraes tot hul mediese fonds op ’n jaarlikse grondslag hersien en aangepas moet word nie.

Die Wet op Ouditreëlings van 1992 is op 1 April met die Wet op Openbare Oudit vervang.

“Ingevolge art. 54(2) van die Wet op Openbare Oudit beïnvloed die herroeping van die wetgewing in art. 53 (Wet op Ouditreëlings) nie die diensvoorwaardes van werknemers wat onder meer in die eerste verweerder se diens was voor die herroeping van sodanige wetgewing nie, insluitende enige opgehoopte pensioen, verlof of ander voordele waarop sodanige persoon geregtig was onmiddellik voor die herroeping van daardie wetgewing,” lui die pensioentrekkers se verklaring.

Hulle gaan voort en sê “ingevolge die reëls vir die interpretasie van wette, word daar aanvaar dat die wetgewer deur die Wet op Openbare Oudit uit te voer, nie van plan was om die bestaande regte van afgetrede werknemers te beïnvloed met betrekking tot mediesefondsvoordele wat hulle voor die instelling daarvan verkry en geniet het nie”.

Hulle wys ook in hul verklaring daarop dat die Wet op Ouditreëlings dit duidelik gestel het dat “ ’n amptenaar of werknemer wat nog in diens is van die kantoor, afgetree of met pensioen afgetree het, nie anders behandel sal word as werknemers in die staatsdiens nie”.

Bydraes

Luidens die verklaring het Loots in 2015 uitgevind dat die staat se bydrae tot die mediese fondse van staatsamptenare van 1 Januarie daardie jaar tot R1 850 verhoog is.

In daardie stadium (en tot op hede) ontvang hy net R1 042 per maand. Die ander drie eisers in die saak ontvang elk R1 015 per maand.

In 2016 is die bydrae vir staatsamptenare verder verhoog tot R2 017 per maand.

Geen van die 202 pensioentrekkers wat volgens die ou wetgewing “dieselfde” as ander staatsamptenare behandel moet word, het enige verhoging ontvang nie.

Luidens hul verklaring het mediese inflasie net tussen 2000 en 2014 reeds 375% beloop.

Hoewel die eisers die kwessie van verhogings onder die aandag van die kantoor van die OG gebring het, is die bydraes steeds nie aangepas nie.

Bekostigbaarheid

Die groot verweer van die OG is dat hoewel daar vereis word dat bydraes jaarliks hersien moet word, is die voorwaarde vir ’n verhoging dat die OG dit moet kan bekostig.

Die OG sê dat hy dit nié kon bekostig nie weens “ernstige finansiële beperkings”.

Oor of die hersiening gedoen is of nie, is daar ook onduidelikheid. Aan die een kant word daar in ’n brief van die kantoor van die OG gesê dat dit wel gedoen is.

Kimi Makwetu, die huidige OG en derde verweerder in die saak, sê egter in ’n brief gedateer 8 Julie 2016 “dit is my ervaring dat geen gedetailleerde oorsig van die verhogings in die subsidie ??ooit aan die einde van die jaar uitgevoer is nie, behalwe op hoëvlakbeoordelings”.

Wat betref die OG se verweer dat hy nie die verhoging kan bekostig nie, voer die eisers aan dat die kantoor se finansiële state ’n ander storie vertel.

Luidens die OG se finansiële state van 1998 is daar toe reeds volledig voorsiening gemaak deur geld opsy te sit in ’n beleggingsrekening om die aanspreeklikheid te dek.

Die eisers voer aan dat sou al 202 pensioentrekkers se bydraes in 2015 en 2016 op soorgelyke wyse aangepas wees soos dié van ander staatsamptenare, sou dit die OG onderskeidelik sowat R2 miljoen en R2,4 miljoen gekos het.

Luidens die OG se jaarverslag vir 2018-’19 het hy R179,2 miljoen in beleggings om die aanspreeklikheid te dek.

Die kantoor van die OG wou nie kommentaar lewer oor die hofsaak nie. “Die OG litigeer nie sake deur die media nie,” was sy reaksie op Netwerk24 se versoek om kommentaar.

Die ouditeur-generaal en adjunk-ouditeur-generaal is die eerste twee verweerders in die saak.

Regter Ronel Tolmay hoor van Maandag die saak aan.

Meer oor:  Ouditeur-Generaal  |  Kimi Makwetu  |  Pensioene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.