Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Regering wil jou pensioen hou
Retirement savings golden nest egg in a businessma
Baie afgetredenes onttrek ’n onvolhoubare pensioen. Foto: iStock

Die regering kan Suid-Afrikaners wat geëmigreer het of beplan om te emigreer, binnekort vir minstens drie jaar toegang belet tot hul pensioengeld wat nog in die land is.

Dié bepaling is vervat in die konsepwysigingswet op belastingwette (TLAB) en kan reeds op 1 Maart 2021 van krag word. Die konsepwysigingswet is twee weke gelede vir kommentaar gepubliseer. Kommentaar moet die wetmakers teen einde vandeesmaand bereik.

Jerry Botha, besturende vennoot van die belastingadviesfirma Tax Consulting, sê die bepaling beteken Suid-Afrikaners wat wil emigreer of finansieel wil emigreer (’n formele proses wat beteken jy is nie meer belastingpligtig in Suid-Afrika op wêreldwye inkomste nie) of dié wat dit reeds gedoen het, sal vir minstens drie jaar nie hul eie geld wat hier in aftreeannuïteite, pensioen- en voorsorg-bewaringsfondse is, kan onttrek om oorsee te neem en daar te belê of te gebruik nie.

Botha sê tot dusver kon dié Suid-Afrikaners hul volle aftreevoordele uit die fondse onttrek het sodra hulle die emigrasieproses deur die Reserwebank voltooi het. Dít verander nou vir Suid-Afrikaners wat geëmigreer het of beplan om ná 1 Maart volgende jaar te emigreer.

Voortaan sal jy eers moet bewys dat jy vir belastingdoeleindes vir minstens drie jaar ononderbroke nie volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geag te wees as a belasting-inwoner nie. Botha sê hoe dit bewys moet word anders as deur finansiële emigrasie, of om elke jaar ’n ingewikkelde proses oor dubbele belasting te volg, is tans onduidelik.

Hy sê Suid-Afrikaners vrees dít is die eerste daadwerklike stap na voorgeskrewe bates vir private pensioenfondse omdat die ANC goedkoper toegang tot geld vir ontwikkeling wil kry.

As art. 28 van die Pensioenfondswet wat bepaal pensioenfondse moet in lede se beste belang optree, gewysig word, kan vereis word dat fondse ’n voorgeskrewe persentasie van hul bates in byvoorbeeld sukkelende staatsbeheerde ondernemings soos die SAL en Eskom of infrastruktuurprojekte belê.

’n Hewige debat woed hieroor omdat nie al dié beleggings noodwendig optimale opbrengste bied nie, sê kenners.

Botha sê Suid-Afrikaners is toenemend bekommerd oor hul aftreegeld. Die firma is die afgelope twee weke oorval met navrae van mense wat deur die voorgestelde wysiging geraak word en nou finansiële emigrasie wil versnel. Al hoe meer meen hulle moet hul geld in aftreeannuïteite of bewaringsfondse hier so gou moontlik onttrek, al moet hulle dan belasting op aftreegeld tot ’n maksimum koers van 36% betaal. Daarna het hulle minstens vrye keuse om hul geld in die buiteland te belê.

Hy sê ook diegene wat beplan om ná aftrede te emigreer, raak haastig om binne die volgende ses maande hul geld te onttrek.

Dis moeilik om te sê hoeveel Suid-Afrikaners hulle in dié bootjie bevind, want statistieke is nie geredelik beskikbaar nie. Botha glo egter miljarde rande kan in die volgende paar maande landuit geneem word omdat mense ’n situasie wil vermy waar hulle vir drie jaar nie hul aftreegeld kan onttrek nie.

Tax Consulting kry al hoe meer navrae van Suid-Afrikaners wat emigrasie oorweeg. Die laaste paar weke het meer as 600 mense vyf webinare bygewoon oor emigrasie-moontlikhede net na Mauritius, sê Botha.

Terwyl geluide voortdurend opklink oor ’n welvaartbelasting of solidariteitsheffing om die gevolge van Covid-19 vir die kwesbaarstes van die bevolking te versag, is Suid-Afrikaners meer gemotiveerd om self volle beheer oor hul aftreegeld te hê, sê hy.

Tax Consulting vind ook al hoe meer mense wat vir jare tot ’n pensioenfonds bygedra het, bedank op aftree-ouderdom eerder as om af te tree omdat hulle dan hul volle aftreebedrag kan vat. Dit moet egter deeglik oorweeg word om te verseker jy verbeur nie post-aftreevoordele soos mediesefondsbydraes nie. Dit sal ook nie sin maak as jy tot ’n vastevoordeelfonds soos die GEPF behoort nie.

Maak seker jy raadpleeg meer as een finansiële raadgewer.

Botha sê die voorgestelde wetswysiging is ’n verrassing. Daar was geen aankondiging in die begroting nie en geen witskrif of ander proses wat die metodologie verduidelik en breër konsensus probeer bereik nie. Gewoonlik sal daar ’n witskrif wees as ’n beleidsverskuiwing soos dié ter sprake is.

In die 2020-Begrotingsoorsig het die tesourie nog verwys na die “modernisering van die valutabeheerstelsel”.

Volgens Botha kom die voorgestelde wysiging eerder neer op strenger valutabeheer en is in teenstelling met die wêreldwye neiging om dit af te skaf.

Meer oor:  Pensioen  |  Pensioengeld  |  Aftrede  |  Belasting  |  Voorgeskrewe Bates  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.