Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Regulasies keer nog nie lekkasie van aftreegeld

Die meeste werkende Suid-Afrikaners laat die besluit oor hoe hul aftreegeld belê word, doodluiters aan hul werk se aftreefonds oor.

Retirement savings golden nest egg in a businessma
Wanneer mense bedank of aftree, onttrek die meeste groot bedrae kontant uit hul aftreefonds, wat langtermyngevolge inhou. Foto: iStock

Dis óf weens onbetrokkenheid – iets wat die aftreebedryf al jare lank bekommer – óf hulle is heeltemal tevrede met aftreefondse se verstekopsies.

Aan die ander kant is daar baie min mense wat “vergeet” dat hulle ’n pot spaargeld het wanneer hulle bedank – die meeste mense onttrek dit wel.

By die meeste aftreefondse (72% van die fondse) is 80% of meer lede in die verstek-beleggingsopsies belê. Net by 10% van aftreefondse is minder as 50% van lede in die verstekopsies belê.

Die verstekopsies is die opsies waarin mense outomaties geplaas word as hulle nie self ’n ander opsie kies nie. ’n Meerderheid van 58% van fondse skep verstekopsies wat lede op grond van hul ouderdom belê – jonger lede word dus outomaties in ’n aggressiewer portefeulje belê en ouer lede in ’n konserwatiewer portefeulje, tensy hulle self iets anders kies.

Die inligting kom uit ’n verslag oor aftreefondse wat PwC uitgereik het. Altesame 50 fondse is in die peiling betrek wat altesame R542 miljard se aftreegeld bestuur. Dit sluit pensioenfondse, voorsorgfondse, sambreelfondse en uittree-annuïteite in.

Die regulasies oor verstekopsies is 1 Augustus gepubliseer en fondse moes teen 1 Maart 2019 daaraan voldoen. Dit het drie regulasies ingevolge die Wysigingswet op Pensioenfondse behels.

k

PwC se peiling wys dat 89% van pensioenfondse teen 1 Maart 2019 reeds verstekbeleggingsopsies ingestel het wat deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor goedgekeur is. Net 8% van fondse het uitstel gevra. Alle fondse het sedertdien wel die verstekopsies in werking gestel.

Wat is die drie verstek-regulasies?
  • Regulasie 37: Alle aftreefondse moet nou ’n weldeurdagte verstek-beleggingstrategie hê wat toepaslik is vir elke ouderdomsgroep. Dit beteken jou geld word outomaties in ’n sekere portefeulje belê, tensy jy aktief iets anders kies. Baie groot fondse het twee of drie opsies. Kleiner fondse wat net een opsie het, word nie hierdeur geraak nie.
  • Regulasie 38: Alle pensioenfondse moet nou ’n verstek-bewaringstrategie hê, dus ’n fonds waarin jy jou aftreegeld kan bewaar as jy van werk verander. Lede mag steeds hul geld onttrek of oordra na ’n ander bewaringsfonds, maar as hulle geen keuse uitoefen nie, bly dit in hul pensioenfonds se bewaringsfonds.
  • Regulasie 39: Alle pensioenfondse moet nou ’n verstekopsie hê waardeur daar ná aftrede vir jou ’n pensioen gekoop kan word – dus ’n lewende óf lewensannuïteit. Dié verstekopsie is nié – soos die ander verstekopsies – outomaties tensy jy ’n keuse uitoefen nie. Jy móét aktief kies om dit te benut.

    Regulasie 37: Verstek-beleggings

    Dis nie noodwendig ’n slegte ding dat mense verstekopsies kies of by verstek daarin belê is nie – dis juis geskep om pensioenfondslede te help beskerm.

    k

    Onder die menings wat uitgespreek is, is: “Die meeste aftreefondslede is nie vaardig of gemaklik om beleggingskeuses te doen nie, wat verstekopsies ’n byna volmaakte oplossing maak. Verstekbeleggingsopsies is nie perfek nie, maar bly die beste model om lede by te staan om behoorlik vir aftrede te beplan.”

    PwC beskryf dit as “verrassend” dat 16% van aftreefondse aandui dat die verstekopsies ’n vorm van prestasiegegronde beleggingsbestuursgeld insluit. “Dis eienaardig omdat die verklaarde doelwit (van die regulasie) is dat verstekbeleggingsopsies die gebruik van ingewikkelde kostestrukture moet beperk, en ook gegewe hoe moeilik dit is om prestasiegegronde kostestrukture op ’n duidelike, verstaanbare manier aan lede te kommunikeer.”

    PwC wys ook daarop dat die meeste verstekbeleggingsopsies steeds aktief bestuurde beleggings is. Net 4% van fondse se verstekopsies is passief bestuurde beleggings. Dis interessant, ook gegewe dat passiewe beleggings gewoonlik goedkoper is.

    Regulasie 38: Bewaring by verstek

    Baie min lede van aftreefondse “vergeet” van hul aftree-neseier wanneer hulle van werk verander. Verreweg die meerderheid mense onttrek dit – hetsy om dit in kontant te laat uitbetaal of om dit oor te dra na hul nuwe werkgewer se pensioenfonds of ’n bewaringsfonds buite hul ou werkgewer se fonds.

    Verstekbewaring is deels ingestel weens die kommerwekkende tendens dat mense wat van werk verander of bedank, al of die meeste van hul aftreegeld kontant onttrek. Dit skep later ’n groot gaping in hul vermoë om finansieel te oorleef wanneer hulle wel aftree.

    Volgens Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor van 2019 is daar slegs 4% van afgetredenes met ’n pensioen- of voorsorgfonds wat nie van dié geld kontant by aftrede onttrek nie. 21% van respondente het hul volle pensioen kontant onttrek en 75% het ’n deel onttrek.

    Net 10% van fondse het aangedui dat meer as 20% van fondslede hul geld in hul pensioenfonds “vergeet” of kies om dit daar te los. Die geld bly in die fonds as mense nie ’n opsie uitoefen nie.

    k

    68% van fondse het aangedui 80% of meer lede onttrek hul geld.

    Die regulasie is nie van toepassing op klein aftreefondse nie – 22% van fondse het in dié kategorie geval.

    Net 3% van fondse het meer as 200 lede wat bedank het of hul aftrede uitgestel het en in die fonds gebly het as sogenaamde opbetaalde lede (dus lede wat nie meer bydra tot die fonds nie, maar wie se geld daarin bly). 84% van fondse het minder as 50 opbetaalde lede.

    k

    PwC reken dat verstekbewaring nog nie ten volle begryp word nie of nie behoorlik verduidelik word nie. Dit kan wees dat verstekbewaring mettertyd sal posvat.

    “Die opneem van dié opsies is waarskynlik ook deur die betreklik swak ekonomiese klimaat en arbeidsmark beïnvloed, wat beteken dat uitgaande lede eerder toegang tot hul aftreegeld wil hê as ’n manier om hulself te onderhou eerder as om die geld te bewaar.”

    Een van die fondse se verteenwoordigers het egter daarop gewys dat lede nie tans die opsie het om net ’n deel van hul aftreegeld te onttrek en die res in die fonds te bewaar nie. Hulle moet dus als onttrek, al beoog hulle om die meeste daarvan in ’n bewaringsfonds te herbelê. Dit bring bykomende koste mee, wat die oogmerk van die regulasie ondermyn.

    Nog ’n respondent sê die FSCA sluit sy oë vir die “massiewe lekkasie van aftreespaargeld” deur skyn-egskeidings en bedrieglike huislenings. Tot 90% van lede se aftreegeld kan op dié maniere onttrek word.

    Regulasie 39: Verstekannuïteite by aftrede

    Aftreefondse moet aan mense verstekopsies vir annuïteite aanbied wanneer hulle aftree. Met aftrede word mense wetlik verplig om minstens tweederdes van hul aftreegeld in ’n annuïteit te belê. Dit kan óf ’n lewensannuïteit (gewaarborgde annuïteit) óf ’n lewende annuïteit (beleggingsgekoppelde annuïteit) wees.

    37% van aftreefondse bied aan lede albei opsies, 54% bied net ’n lewensannuïteit en net 9% bied slegs ’n lewende annuïteit.

    Die meeste aftreefondse (68%) se verstekopsies word nie deur die fonds self verskaf nie, maar deur ’n eksterne verskaffer. PwC skryf dit aan die koste en administratiewe las toe.

    k
    k
    k
    k
    k
    k
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.