Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Skerp kritiek oor GEPF meer ongenoteerd wil belê

Die Vereniging vir die Monitering van Staatspensioene (AMAGP) is onbeïndruk met die uitsprake van Abel Sithole, hoofbeampte van die staatspensioenfonds (GEPF), verlede week oor die finansiële gesondheid van die fonds.

GEPF
Abel Sithole, hoofbeampte van die staatspensioenfonds.

Volgens Sithole behoort die GEPF sy beleggings in ongenoteerde bates te verhoog om wyer blootstelling te kry aan die ekonomie se groeipotensiaal as bloot net via die JSE. Sithole het beklemtoon dit moet egter “reg” gedoen word.

Maar Adamus Stemmet van die AMAGP wys juis op die korrupsie en bedrog wat betref die ongenoteerde beleggings wat tans knaend voor die Mpati-kommissie oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) openbaar gemaak word. Die OBK is die staat se batebestuurder wat die GEPF se aftreegeld namens lede bestuur.

“Wat doen die GEPF om dit ‘reg’ te doen? Alles oorgelaat aan hul agent die wyle Openbare Beleggingskorporasie? Wat miljarde by die vensters uit laat waai?” vra Stemmet.

Volgens Stemmet strook Sithole se syfers ook nie met die besonderhede wat dr. Dan Matjila, vorige uitvoerende hoof van die OBK, in Oktober 2017 oor die ongenoteerde beleggings bekend gemaak het nie. Hiervolgens het die OBK toe al reeds die ongenoteerde beleggings uitgebrei en het dit toe R140 miljard beloop. Hy het boonop toe reeds bygevoeg dat 30% van dié beleggings onderpresteer.

Volgens Sithole het die GEPF se belang in ongenoteerde binnelandse beleggings teen Maart verlede jaar met 37% tot R50,683 miljard gegroei, teenoor die fonds se genoteerde aandele wat met 10% tot R970 miljard gegroei het, binnelandse effekte en skuldbriewe wat met 6% tot R563 miljard gegroei het, en buitelandse beleggingsfondse wat met 7% tot R98,2 miljard gegroei het.

Die AMAGP het ná sy onlangse jaarvergadering boonop sy kommer uitgespreek dat dit lyk asof die OBK by belangrike besluite van die GEPF inmeng. Hulle meen die OBK moenie die rol van die GEPF se Raad van Trustees ondermyn nie. Dit is volgens die AMAGP uiteindelik die raad van trustees wat verantwoordelik is vir die fonds se welstand, en wat moet sorg dat hul lede se aftreegeld verstandig en volhoubaar bestuur moet word.

Uit getuienis voor die Mpati-kommissie blyk dit egter nou dat die OBK onbehoorlike invloed oor die bestuur van die GEPF en sy bates het, en asof die trustees hul verantwoordelikhede aan die OBK afstaan.

Waardasie

Alexander Forbes het onlangs die GEPF se aktuariële waardasie gedoen nadat Towers Watson die afgelope vyf jaar daarvoor verantwoordelik was. Alexander Forbes het bevind die GEPF se langtermynfinansieringsvlak het verswak van 79,3% in Maart 2016 tot 75,5% in Maart 2018. Op lang termyn kom dit daarop neer dat vir elke R1 se pensioenvoordele wat ’n lid eis, daar net 75,5c om die eis te dek. Die huidige minimum finansieringsvlak is wel 108,3%, wat beteken as die fonds vandag al sy verpligtinge moes nakom daar R1,08 is vir elke eis van R1. Dit is egter reeds swakker as die vlak van 115,8% van Maart 2016.

Sithole klink nie besorg oor die daling in minimum finansieringsvlak tot 108,3% nie. Volgens hom kan dit selfs tot 90% daal, maar as dit onder 90% daal moet die trustees ingryp om te sorg dit styg binne drie jaar tot minstens 90%.

Eise vs bydraes

Wat wel ook kommer wek uit die GEPF se onlangse syfers is dat hy meer eise uitbetaal as wat hy bydraes ontvang. In 2018 is R70,4 miljard se bydraes van lede ontvang, maar R95 miljard se voordele is uitbetaal. Die groei in voordele wat uitbetaal is was 7,5%. Die groei in bydraes was 7,3%, en die fonds se beleggingsopbrengs was 8,5%.

Bedankings

Sithole het verlede week gesê te veel mense bedank uit die pensioenfonds. In die 2018-boekjaar is R27,2 miljard se bedankingsvoordele uitbetaal aan 26 690 mense wat uit die staatsdiens bedank het. Volgens Sithole behoort dit vir ’n fonds van dié grootte eerder twee derdes hiervan te wees.

Meer oor:  Abel Sithole  |  Staatspensioenfonds  |  Gepf  |  Obk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.