Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Só lyk wysigings aan regulasie 28

Te midde van vrese dat dit bloot die eerste subtiele stap in die rigting van voorgeskrewe bates is, het die nasionale tesourie Vrydagaand die beloofde konsepwysigings aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet gepubliseer.

’n Trein wat ystererts vervoer, op die Olifantsrivier-brug naby Vredendal, in die Wes-Kaap. Die wysigings aan Regulasie 28 van die Pensioenfondswet is bedoel om dit vir aftreefondse makliker te maak om in infrastruktuur te belê. Foto: Transnet

Kommentaar op die konsepregulasies sal nou tot 29 Maart ingewag word.

Volgens die tesourie sal die regulasies dit vir pensioenfondse makliker maak om in infrastruktuurprojekte te belê deurdat die definisie van “infrastruktuur” duideliker uitgespel word.

Die tesourie sê die bestaande regulasie het nie infrastruktuur as ’n spesifieke beleggingskategorie gedefinieer nie.

Fondse kan dus tans via ’n wye reeks bateklasse – van aandele en effekte tot private ekwiteit en lenings – in infrastruktuur belê.

Die huidige inligting oor aftreefondse se beleggings dui dus nie aan presies hoeveel geld in infrastruktuur belê word nie.

Die nuwe voorgestelde regulasie verdeel verder verskansingsfondse, private ekwiteit en “ander bates” in drie afsonderlike bateklasse waar dit voorheen alles as een bateklas saamgegooi is.

Nou kan spesifieke perke vir elkeen gestel word, sê die tesourie.

Die voorgestelde nuwe regulasies bepaal dat die totale belegging deur ’n fonds in infrastruktuur regoor alle batekategorieë nie meer as 45% vir plaaslike beleggings moet wees nie, en nie meer as 10% vir beleggings in die res van Afrika nie.

Die blootstelling aan ’n enkele infrastruktuurprojek mag nie meer as 25% van die totale bates van ’n fonds bedra nie.

Waar die bestaande regulasies fondse voorheen verhoed het om meer as 10% van hul geld in private ekwiteit te belê, is die perk nou tot 15% verhoog.

Die maksimum waarin egter in infrastruktuur in sowel private ekwiteit as verskansingsfondse belê mag word, is 5%. Die perk vir infrastruktuurbeleggings via aandele wissel van 5% tot 10%, en via effekte of ander skuldinstrumente wissel dit van 3% tot 25% afhangend van of dit genoteer of ongenoteer is en hoe groot die betrokke effektebeurs is.

Kommentaar op die veranderings kan gestuur word na retirement.reform@treasury.gov.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.