Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Só reageer Transnet-oues op moontlike skikking

Dit lyk asof die meeste Transnet-pensioentrekkers in hul skik is met die moontlikheid dat hulle binnekort gedeeltelike verligting kan kry vir die agteruitgang van hul welstand weens die Transnet-pensioenfondse se 2%-verhoging per jaar ongeag inflasie. Maar sommige is hoogs ontevrede en meen die voorgestelde skikking is net oëverblindery.

   

’n Vorige betoging teen Transnet se karige pensioenbetalings wat in 2017 by Kerkplein in Pretoria gehou is. Foto: Deon Raath

Die skikkingsvoorstelle waaroor die fondstrustees Donderdag sal besluit, behels drie jaar se opeenvolgende verhogings van onderskeidelik 13%, 9% en 6%, tesame met drie opeenvolgende bonusse van R10 000 per pensioentrekker per jaar.

Tom Dunn, ’n lid van die Transnet Pensioenarisaksiegroep (TPAG), het op Facebook gesê as die skikking aanvaar word, kan dit vinniger in werking gestel word as die wetlike maksimum tyd van 60 dae nadat dit deur ’n hof bekragtig is.

Die bekragtiging van die skikking is ook nie afhanklik van die oorspronklike hofdatum van 7 Oktober wat vir die pensioentrekkers se groepseis vasgemaak is nie.

Die prokureursfirma Geyser & Coetzee het gewaarsku as voortgegaan sou word met die groepseis en die pensioentrekkers die saak sou wen, het hulle geen twyfel dat Transnet en sy pensioenfondse teen die uitspraak sal appelleer nie.

Dit kan enige toekenning aan die pensioentrekkers met nog soveel as vyf jaar vertraag. Dit is nie in die belang van die pensioentrekkers nie, waarsku Geyser & Coetzee.

Dunn meen die drie bonusse wat in 2018 aan pensioentrekkers uitbetaal is, het ’n wesenlike negatiewe uitwerking gehad op die persentasie waarmee pensioene ingevolge die skikkingsvoorstel gelig kon word.

“Betaling van bonusse teen daardie tempo is in elk geval nie volhoubaar nie en sou nie weer gebeur het nie.”

Van die pensioentrekkers het egter gekla hulle is al oud en sal dalk nie meer leef teen die tyd dat al die beter voordele ingevolge die skikking uitbetaal is nie.

Charlotte le Roux het op Facebook geskryf dit is jammer die skikking kom te laat vir haar pa, Johan Taute, wat op 8 Junie op 93-jarige ouderdom dood is ná jare se uithou en wag.

Desmond Koen het daarop gewys die voorgestelde verhogings sluit die statutêre 2%-verhoging per jaar in, dus is die 13%-verhoging in die skikking vir die eerste jaar eintlik net 11%. Volgens hom is dit ’n teleurstellende skikking in ag genome die tydperk wat verloop het en die verwagtinge wat daar is.

Ontleding

’n Ontleding van die jongste skikking wys dit lyk soos ’n kompromis tussen die pensioentrekkers se aanvanklike skikkingsvoorstel in die onderhandelings van 2018, en dít wat Transnet toe aangebied het maar wat verwerp is.

Die pensioentrekkers het gevra vir ’n verhoging van 42% in die basisbedrag van alle pensioene, ’n bonus van R20 000 en daarna jaarlikse verhogings van 70% van inflasie onderhewig aan bekostigbaarheid.

Transnet se aanbod was toe net vir die verhogings van 70% van inflasie, met ’n eenmalige bonus, maar sonder ’n aanpassing in die basisbedrag.

Die jongste skikking kom neer op ’n verhoging van bloot 22 persentasiepunte oor drie jaar van die basisbedrag, teenoor die 42% wat aanvanklik gevra is.

Die drie bonusse van R10 000 elk oor drie jaar vergoed nie werklik daarvoor nie, want dit is eenmalige enkelbedrae verspreid oor drie jaar, en is nie proporsioneel tot elke pensioentrekker se huidige pensioen nie. Dit sal wel vir die armste pensioentrekkers welkome verligting bied.

  • Vir iemand met ’n maandelikse pensioen van Transnet van R2 000, beteken die skikking dat hy in die eerste jaar ’n verhoging van R260 sal kry tot R2 260 per maand. Dan styg dit tot R2 463,40 in die tweede jaar en R2 611,20 in die derde jaar.
  • As die pensioen steeds met net 2% per jaar sou styg, sal die persoon onderskeidelik R2 040, R2 080,80 en R2 122,41 per maand ontvang.
  • Teen die derde jaar sal die persoon se maandelikse pensioen danksy die skikking dus 23% meer wees, hoewel die bonusse tydelike verligting sal bring.

Die jongste skikkingsvoorstel bevat nie gewaarborgde verhogings van 70% van inflasie daarna nie, maar wel ’n mikpunt om dit met soveel of selfs meer te verhoog onderhewig aan aktuariële bekostigbaarheid en die fondstrustees se diskresie.

Meer oor:  Transnet  |  Transnet-Pensioenfonds  |  Pensioenarisse  |  Tpag  |  Pensioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.