Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Só skerp daal mense se inkomste ná aftrede

Sal jy op minder as ’n vyfde van jou salaris kan oorleef? Waarskynlik nié – en tog is dít die werklikheid wat ’n groot persentasie werkende Suid-Afrikaners sal moet trotseer wanneer hulle aftree.

  

Die meeste Suid-Afrikaners se spaarvarkie vir aftrede is veels te maer. Foto: iStock

Byna die helfte van pensioenfondslede (49,7%) kan met aftrede minder as 20% van hul salaris as pensioen vervang. Nóg 23,8% sal met minder as 40% van hul salaris tevrede moet wees.

Net 14,5% van pensioentrekkers sal meer as 60% van hul salaris kan vervang en net 8% sal 80% of meer van hul salaris kan vervang. Sien ook grafika hieronder.

Dis die aftreekrisis wat Alexander Forbes se Member Watch, ’n jaarlikse peiling oor die aftreevoordele van die meer as miljoen mense wat dié finansiëledienstefirma bestuur, Maandag uitgereik het.

Die peiling is vir die jaar tot Maart 2019 – dit sluit dus nie die uitwerking van die resessie wat middel 2019 toegeslaan het óf die Covid-19-inperking in nie.

Derduisende Suid-Afrikaners het intussen hul werk verloor en bes moontlik van hul pensioenfondsgeld onttrek om te oorleef. Daarby het baie pensioenfondse mense toegelaat om nou hul bydrae tot hul aftreefonds te verminder ten einde meer kontant vir die krisis beskikbaar te hê. Dit alles sal die aftree-prentjie teen volgende jaar selfs donkerder maak.

Alexander Forbes bereken die totale tekort aan aftreegeld vir al die lede wat hy administreer, het einde Maart 2019 R558 miljard beloop. Dis gemiddeld R1,2 miljoen per lid.

Dis nie nuus dat Suid-Afrikaners met te min geld in hul neseier aftree nie. Alexander Forbes en Sanlam deur sy Benchmark-verslag, wat ook eersdaags uitgereik word, doen jaarliks verslag oor die probleem.

Dalk is dit juis nuus dat Suid-Afrikaners se ingesteldheid teenoor spaar vir aftrede nie verander nie – selfs al sien al hoe meer mense hul ouers in hul goue jare swaarkry. Die Member Watch-peiling wys dat mense eers oor hul aftreegeld bekommerd begin raak soos hulle aftrede nader – en dan verhoog hulle hul bydrae tot hul pensioenfonds.

Die grootste rede vir die probleem is nié dat die JSE swak vaar en die rentekoers daal nie, hoewel Alexander Forbes sê dalende werklike opbrengskoerse speel wel ’n klein rol.

Die drie belangrikste redes vir die aftreekrisis is:

  • Mense dra te min tot hul pensioenfonds by.
  • Mense onttrek van hul pensioenfondsgeld wanneer hulle van werk verander.
  • Meer geld is nodig om ’n pensioen te koop. Laasgenoemde is omdat mense baie langer leef en ook omdat reële opbrengskoers (opbrengs ná inflasie) laag is.

Die groot tekort

Hoeveel spaar mense vir aftrede – en hoeveel móét hulle spaar?

Alexander Forbes, soos die meeste pensioenfondsbestuurders, bereken as mense 75% van hul laaste salaris as pensioen kan kry, sal hulle hul leefstyl van voor aftrede kan volhou. Dis omdat sekere uitgawes wat met werk verband hou, wegval. Dis ’n gemiddelde syfer – individuele omstandighede (mediese uitgawes, of jy jou eie woonhuis besit en of jy ander bronne van inkomste het, byvoorbeeld) kan beteken jy het meer of minder nodig.

  • Om 75% te haal, moet jy 12,22 keer jou pensioendraende salaris in jou aftreefonds hê op die dag wat jy aftree. Suid-Afrikaners het gemiddeld slegs 3,7 keer dié bedrag.
  • Om 75% te haal, moet jy elke jaar vandat jy 25 word, vir 40 jaar lank (dus tot 65 jaar), 17% van jou pensioendraende salaris vir aftrede spaar. Suid-Afrikaners spaar gemiddeld slegs 12,3% (dis sowel hul eie as hul werkgewer se bydrae bygetel, maar lewens- en ongeskiktheidsdekking en administratiewe koste afgetrek).

Jy moet in dié scenario uiteraard deurlopend tot ’n pensioenfonds bydra en ook nooit enige geld uit jou pensioenfonds onttrek nie.

Slegs 8,8% van Suid-Afrikaners hou hul hande heeltemal van hul pensioenfonds af wanneer hulle bedank, afgedank of afgelê word. Dis effens meer as in 2018 (toe dit 8,7% was), maar baie minder as in 2012, toe 11,5% van pensioenfondslede hul aftreegeld bewaar het.

Die persentasie geld wat bewaar is, beloop gemiddeld 48,4%, teenoor 50,6% in 2012.

Regulasies wat op 1 Maart 2019 in werking getree het, maak dit baie makliker vir mense om hul aftreegeld te bewaar wanneer hulle van werk verander. Regulasie 38 van die Wysigingswet op Pensioenfondse bepaal dat alle fondse ’n verstek-bewaringstrategie hê, dus ’n fonds waarin jy jou aftreegeld kan bewaar as jy van werk verander. Jy mág steeds jou geld onttrek of oordra na ’n ander bewaringsfonds. As jy geen keuse uitoefen nie, bly dit in jou pensioenfonds se bewaringsfonds. Dié regulasie was net ’n maand van krag vir die Member Watch-peiling en die potensiële positiewe invloed daarvan kan dus nog kwalik gemeet word.

Daar is wel goeie nuus

  • 49,7% van afgetredenes kan minder as 20% van hul salaris vervang. Dis beter as in 2018, toe dit 51,7% was.
  • Net 8% kan 80% of meer van hul salaris vervang, maar dis ook beter as in 2018, toe dit 5,2% was.

Raad voor aftrede

Wat kan jy doen as jy op enige tydstip voor aftrede besef dat jy te min geld in jou pensioenfonds het?

1. Werk langer

As jy jou aftrede van 55 tot 65 jaar (dus met tien jaar) uitstel, kan jou vervangingskoers byna verdubbel. Mense wat vanaf 25 jaar oud 11,75% van hul salaris tot ’n pensioenfonds bydra, sal op 55 jaar 27,1% van hul salaris kan vervang, maar as hulle tot 65 jaar werk, sal hulle 51% kan vervang.

2. Dra meer tot aftrede by

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bepaal dat mense tot 27,5% of R350 000 van hul pensioendraende salaris elke jaar belastingvry in aftreeprodukte mag spaar. Die meeste mense kan dus ruim meer bydra vir aftrede.

Pensioenfondslede mag gewoonlik een keer per jaar hul bydrae verhoog.

Een manier om jou aftreepot te verhoog sonder om jou maandelikse kontantvloei te raak, is om ’n groter persentasie van enige belastingterugbetaling, bonus of selfs verjaardag- of Lotto-geld in ’n uittree-annuïteit te belê – mits dit ’n buigsame soort produk is wat jou toelaat om ekstra beleggings te doen.

3. Maak seker jy is in die regte beleggingsopsie vir jou

Die Member Watch-peiling toon net 1% van pensioenfondslede het verlede jaar hul beleggings verskuif. Of hulle noodwendig die regte besluit geneem het, sal mense nie weet nie – maar minstens het hulle belangstelling getoon in die opbrengs op hul beleggings en oor die moontlikhede besin.

Alle pensioenfondse moet ’n verstek-beleggingstrategie hê, dus ’n portefeulje wat geskik is vir elke ouderdomsgroep. Dit beteken jou geld word outomaties in ’n sekere portefeulje belê, tensy jy aktief iets anders kies.

Baie groot fondse het twee of drie opsies, wat wissel van ’n aggressiewe portefeulje vir jonger mense wat wisselvalligheid kan verduur ter wille van beter langtermyngroei, tot ’n baie konserwatiewe portefeulje vir mense wat aftrede nader en hul kapitaal wil beskerm.

4. Kry kundige raad

Alle pensioenfondse moet ’n adviesdiens bied wat jou kan help besluit oor jou beleggings. Die meeste groot fondse, of hul bestuurders, sal jou kan help bepaal of jy op koers is met jou aftreespaargeld, en sal kan raadgee oor hoeveel méér jy dalk moet bydra.

Dis nooit ’n slegte idee om ’n ontleding van jou finansiële omstandighede te doen nie – selfs al gee dit jou net gemoedsrus dat jy op koers is.

k
Meer oor:  Alexander Forbes  |  Aftreebeplanning  |  Pensioenfonds  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.