Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Só voel bedryf oor gedwonge aftree-beleggings

Aftreefondse is nie onwillig om in infrastruktuurprojekte te belê nie. Dit is eerder dat daar ’n gebrek bestaan aan projekte wat die soort opbrengs sal lewer wat hulle sal oortuig om te belê.

ANC-voorstelle oor voorgeskrewe beleggings deur private pensioenfondse maak baie mense bekommerd. Foto: iStock

Só het Gill Raine, ’n senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), Donderdag op ’n beleggingseminaar van die aktuariële vereniging gesê. Asisa is die bedryfsliggaam vir lewensversekeraars en batebestuurders.

Sy sê dit kan gesien word in hoeveel vennootskappe tussen die private en openbare sektor (PPP’s) bestaan. Volgens haar neem dit af. Raine sê tans beplan die private sektor om by net 2,2% van die beplande infrastruktuurbesteding van die regering van R834,1 miljard oor die komende drie jaar betrokke te raak.

“Dit is omdat die meeste projekte nie ekonomies is nie, maar maatskaplik-ekonomies, en nie die soort opbrengste gaan gee wat nodig is vir die private sektor om aan deel te neem nie. Meer projekte en meer behoorlike projekbeplanning is nodig.”

Sy meen nie voorgeskrewe bates (regulasies wat aftreefondse verplig om ’n sekere persentasie van hul geld in sekere staatsprojekte te belê) gaan die probleem oplos nie.

“Dit gaan nie oor ’n gebrek aan vraag (van die private sektor nie) maar ’n gebrek aan aanbod...”

Die aangeleentheid van voorgeskrewe bates het vanjaar na vore gekom nadat die ANC in sy verkiesingsmanifes gesê het die bekendstelling daarvan in wetgewing moet ondersoek word.

Lees ook: Pensioenfondse ‘sal grondwethof toe’ oor ANC-plan

Sy sê die vraag is of dit gaan vereis dat ’n gedeelte van fondse in staatseffekte of die skuldbriewe van staatsondernemings of moontlik in bepaalde ontwikkelings- projekte of -sektore belê sal moet word.

Die kommer daaroor hou verband met die fidusiêre pligte van die trustees van pensioenfondse teenoor lede. Die inleiding van regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse lui dat ’n fonds ’n fidusiêre plig het om in die beste belang van lede op te tree. Dit lui die plig hou verband met ’n gepaste opbrengs wat vir lede se spesifieke situasie geskik is.

Sy sê daar is “groot syfers” in die aftreefondsbedryf, maar dit is nie “los bates” nie, want dit is aan aanspreeklikhede gekoppel. Die aanspreeklikhede is die huidige waarde van die toekomstige betalings aan pensioenarisse.

Baie van die geld van aftreefondse is in aandele belê en “enige verandering aan die batetoewysing wat ’n impak op aandele het, het ’n potensiële sistemiese risiko”.

“Die verkoop van aandele om uit groeibates te beweeg na, sê nou maar, vaste-inkomstebates gaan ’n reuse-impak op (Suid-Afrikaners se) welvaart hê.”

Voorgeskrewe bates is nie nuut vir Suid-Afrika nie. Van die laat 1950’s af is aan pensioenfondse voorgeskryf hoeveel van hul bates in staatseffekte en ander goedgekeurde skuldbriewe belê kon word.

’n Komitee wat dit moes ondersoek, het gesê die oorspronklike voorneme was om polishouers en pensioenfondslede te beskerm, maar voorgeskrewe beleggings is mettertyd as ’n “versekerde bron van finansiering vir die openbare sektor gesien”.

Veral in die 1970’s en 1980’s was daar ’n negatiewe reële opbrengs uit dié bates. Dit is summier afgeskaf in die begroting van 1989.

Dit het ’n groot verandering in die toewysing van bates meegebring.

Op die oomblik skryf regulasie 28 slegs voor wat die maksimum beleggings is ten einde risiko te versprei. Pensioenfondse mag byvoorbeeld ’n maksimum van 75% in aandele belê, maar nie meer as 15% in ’n enkele groot maatskappy nie.

Die grootste gesprekspunt die afgelope paar jaar met oorsese bates was dat die perk van 30% in oorsese beleggings.

Meer oor:  Asisa  |  Aftrede  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.