Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Solidariteit waarsku: Alle pensioengeld in gevaar

As Cosatu sy sin kry dat die staatsdienspensioenfonds (GEPF) gebruik moet word om Eskom se skuld te help betaal, is dit net ’n kwessie van tyd voordat private pensioenfondse óók gedwing gaan word om sukkelende staatsondernemings te help finansier. Dis hoekom die vakbond onmiddellik met regstappe teen dié voorstel begin het.

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van die vakbond Solidariteit, het Woensdag in Johannesburg hierdie boodskap oorgedra met die bekendstelling van ’n veldtog téén die pensioenvoorstel.

Dr. Dirk Hermann. Foto: Elvira Wood

Solidariteit het reeds ’n brief aan die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gestuur om te sê dat sou Cosatu se voorstel goedgekeur word, hulle ’n dringende aansoek by die hof sal indien om dit te keer.

Volgens die Solidariteit-regsbrief sal enige stap of aksie om werknemers se pensioen te gebruik om Eskom of enige ander staatsonderneming te red, buite die mandaat van die GEPF en die OBK wees.

“Dit sal ook ’n verbreking van die kontraktuele ooreenkoms met die lede van die fonds wees. Daar is geen manier waarop ’n belegging in ’n totaal insolvente onderneming in die direkte beste belang van die pensioenfondslid kan wees nie,” sê Hermann.

Anton van der Bijl, regshoof van Solidariteit, sê daar is wette wat voorskryf dat pensioenfondse se geld tot voordeel van lede bestuur moet word. Solidariteit glo dat as geld in Eskom belê word, dit dié wet oortree.

Die vakbond Cosatu het twee weke gelede voorgestel dat die regering, die OBK, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) ’n finansieringsentiteit met die spesiale doel vorm om Eskom se skuld van meer as R450 miljard met sowat R250 miljard te verminder. Business Unity South Africa (Busa) steun ook die plan.

Die plan het vinnig vastrapplek onder regeringsamptenare begin kry, maar die GEPF, wat die teiken is van die meeste van dié gesogte finansiering, het verlede week in ’n verklaring gesê hy het nog nie enige voorstel in dié verband ontvang nie en is nie deur Cosatu of enigiemand anders oor die vermindering van Eskom se skuld geraadpleeg nie.

“Dit is nie werkers se verantwoordelikheid om bankrot staatsondernemings te finansier nie. Pensioenkaping kan nie die skade van staatskaping regstel nie,” sê Hermann.

Hoewel verskeie werkersorganisasies reeds hul teenkanting teen die plan uitgespreek het, is Solidariteit die eerste om amptelik met regstappe te begin.

Hermann sê om pensioengeld vir Eskom te gebruik, is om een groot fout met ’n volgende te probeer regstel. Dit kan ook die begin van ’n tendens word om sukkelende staatsondernemings finansieel met pensioengeld te help.

“Eers is dit Eskom en later gaan dit Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en e-tol word,” waarsku hy.

“Dit begin by die GEPF en as ’n vrywillige bydrae. Later word private fondse betrek en dan word die bydrae verpligtend.”

Om mense se aftreegeld sonder hul toestemming te gebruik, is ekonomies dwaas en immoreel.
Dirk Hermann

Hy sê hulle sê nie net hierdie besluit die stryd aan nie, maar hulle baklei teen die volle gevolg van besluite wat nog gaan kom.

“Om mense se aftreegeld sonder hul toestemming te gebruik, is ekonomies dwaas en immoreel,” sê Hermann.

“Werkers se pensioen is nie staatsgeld nie – dit is hul eie geld.”

Hoewel die GEPF ’n vastevoordeelfonds is – wat beteken staatsamptenare se pensioen moet uitbetaal word, of die fonds geld het of nié – waarsku Hermann: “In die lig van die huidige toestand van staatsfinansies kan werkers nie staatmaak op staatswaarborge vir hul pensioengeld nie. Staatswaarborge is geen waarborg nie.”

Bloomberg berig Dinsdag hoewel die verwagting was dat pres. Cyril Ramaphosa ’n aankondiging hieroor in sy staatsrede sou maak, sê Cosatu self verdere gesprekke is eers nodig voordat ’n plan gefinaliseer kan word.

Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede tydens die opening van die parlement in Kaapstad.

“Ons het ooreengekom dat meer gesprekke gevoer moet word en dat alle belanghebbendes gekonsulteer moet word,” het Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, aan Bloomberg gesê.

“Ons het ooreengekom om hierdie gesprekke oor die volgende paar weke te voer.”

Hermann sê die rede hoekom Cosatu ’n ommekeer aangekondig het, is weens die druk uit alle oorde. Hy sê selfs al neem Cosatu ’n tree terug, keer dit Solidariteit nie om dit duidelik aan die OBK te stel dat hy nie so ’n besluit sal toelaat nie.

“Ons dring daarop aan dat hulle ons vandag nog moet antwoord, anders gaan ons voort met ons aansoek by die hof,” sê Hermann.

Hermann sê hulle het reeds R2 miljoen begroot om die veldtog van stapel te stuur.

“Ons is bereid om dié begroting te hersien indien nodig.”

Hermann het voor die mediakonferensie aan Netwerk24 gesê dat die rede hoekom die mediakonferensie in Woodmead gehou is, is omdat hulle ná die geleentheid met André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, gaan vergader.

“Die vergadering is op versoek van De Ruyter. Sover ons weet gaan dit nie oor Eskom se skuld nie, maar eerder oor die planne wat hy het.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Cosatu  |  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Dirk Hermann  |  Pensioengeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.