Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Staat se pensioenfonds koop duur grond
Die grond langs die N12 tussen Klerksdorp en Stilfontein wat die staatspensioenfonds teen R570 525 per ha gekoop het.Foto: VF Plus

Wil die staatspensioenfonds (GEPF) boer of myn? En hoekom betaal hy R570 525 per ha vir die grond?

Dis die vrae wat staatsdienswerkers en afgetrede staatsamptenare vra ná ’n terloopse kennisgewing van ’n grondkooptransaksie in die Coligny-omgewing in Noordwes wat in die landboutydskrif Landbouweekblad se uitgawe van 31 Januarie verskyn het.

Hiervolgens het die GEPF R586,5 miljoen – dus meer as ’n halfmiljardrand – vir ’n stuk grond van 481 ha genaamd IP (564) en vir Palmietfontein (403) van 547 ha betaal. Dit is R570 525 per ha, wat volgens Wouter Wessels, VF Plus-woordvoerder oor finansies, veel hoër is as die heersende prys in die omgewing vir soortgelyke grond, wat minder as R20 000 per ha is.

Die grond is langs die N12 tussen Klerksdorp en Stilfontein en grens aan die oostekant aan ou goudmynontwikkelings en aan die westekant aan dorpsontwikkelings by Klerksdorp.

Dit blyk egter die Mededingingstribunaal het al einde 2018 die transaksie goedgekeur. In sy redes vir die goedkeuring verduidelik die tribunaal die transaksie soos volg:

Die GEPF koop ’n 60%-belang in die grond van Isago @ N12 Development, ’n eiendomsontwikkelaar van die Klerksdorp-omgewing.

’n Belang van 74% van Isago word tans deur Anglo Saxon Development besit, wat op sy beurt deur die Karoo Boerdery Trust besit word en wat deur Doreen en Una Marie Crause beheer word. Die oorblywende 26% word deur Moedi Bosele, ’n plaaslike beleggingsfirma, besit.

Nadat die GEPF die 60%-belang in die grond gekoop het, sal die oorblywende 40% oorgedra word na ’n nuwe maatskappy, Isago Holdings, waarin Moedi Bosele 19,5% sal besit en die Suid-Afrikaanse Militêre Veteranevereniging 1%.

Volgens die tribunaal wil die GEPF eiendom op die grond ontwikkel wat werk sal skep, vaardighede sal oordra en tot die ontwikkeling van die streek sal bydra.

Isago is betrokke by eiendomsontwikkelings in Klerksdorp, maar is volgens mediaberigte ook die onderwerp van ’n ondersoek deur die Valke oor ’n ander omstrede eiendomstransaksie waarin meer as R200 miljoen se geld van die pensioenfonds vir munisipale raadslede (MCPF) gebruik is.

Die MCPF is tans onder kuratorskap en die kurators het in 2018 ’n skikking met Isago bereik dat hy die fonds R137 miljoen moet terugbetaal. ’n Deel van die skikking was dat die wins uit die verkoop van die twee plase aan die GEPF moet help betaal vir dié bedrag wat Isago aan die MCPF moet terugbetaal.

Matau Molapo, mediawoordvoerder vir die GEPF, het navrae na die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verwys wat volgens hom die fonds se eiendomsbeleggings namens hom doen. Die OBK het ontvangs erken van navrae en sy reaksie word nog ingewag.

Die OBK is gevra wat die beleggingsrasionaal agter die transaksie is, waarom die prys so hoog is, wat hy met die grond wil maak en of die regte proses in die beleggingsbesluit gevolg is.

Die ‘Landbouweekblad’-kennisgewing oor die twee plase wat die staatspensioenfonds vir meer as ’n halfmiljardrand gekoop het.Foto: Landbouweekblad

Die MCPF se kurators wou aanvanklik in 2018 aansoek doen dat Isago gelikwideer word, het The Star destyds berig. Dit blyk ook uit ’n berig in die Pretoria News van Julie 2018 dat die Valke die eiendomstransaksie tussen die MCPF en Isago ondersoek ná beweringe van bedrog, diefstal en wanbestuur van die MCPF se geld.

Isago ontken dat hulle iets verkeerd gedoen het. E-posnavrae aan dr. Martin Khunou, direkteur van Isago, is nog nie beantwoord nie.

Die OBK het ’n afsonderlike eiendomsafdeling genaamd Pareto wat namens die OBK se kliënte (soos die GEPF, die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Vergoedingsfonds en andere) in nywerheids-, kommersiële en kleinhandelseiendom belê. Die OBK kan via sy afdeling vir ongenoteerde aandele of vir impakbeleggings ook in eiendom belê, maar dis nog onseker onder watter van sy afdelings die bogenoemde transaksie val.

Wessels sê in ’n verklaring hy het self gaan kyk wat op die betrokke plase aangaan wat die OBK namens die GEPF gekoop het en hy kon op die oog af geen ontwikkeling sien nie. Volgens hom gaan die VF Plus aandring op antwoorde oor waarom die GEPF so ’n buitensporige prys vir die grond betaal het, wie die transaksie gemagtig het en wanneer en vir hoeveel Isago die grond bekom het.

“Wat blote landbouwaarde betref, is daar geen manier hoe hierdie prys per ha geregverdig kan word nie,” sê Wessels.

Meer oor:  Gepf  |  Vf Plus  |  Wouter Wessels  |  Staatspensioenfonds  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.