Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Staat se pensioenfonds kry nuwe hoof

Musa Mabesa, waarnemende hoof van die staatspensioenfonds (GEPF), is pas permanent in dié pos aangestel.

Musa Mabesa, nuwe hoof van die staatspensioenfonds.

Mabesa is gekies uit ’n “indrukwekkende lys van talentvolle kandidate met wie onderhoude gevoer is”, het dr. Renosi Mokate, voorsitter van die GEPF, Maandagoggend in ’n verklaring gesê.

Mabesa het sedert Mei as hoof van die pensioenfonds van meer as 1,2 miljoen staatsdienswerkers gedien nadat Abel Sithole, vorige hoof, as nuwe uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) aangestel is. Die OBK is die staatsbeheerde batebestuurder wat die GEPF se bates asook die beleggings van ander staatsfondse soos die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds bestuur.

Volgens Mokate is Mabesa ’n leier van hoë kaliber met die nodige vaardighede asook die nodige strategiese en bedryfskennis van die GEPF en die pensioen- en beleggingsbedryf. Mabesa was voorheen hoof van korporatiewe dienste by die GEPF.

As nuwe hoof van die GEPF betree Mabesa ’n politieke mynveld te midde van druk vanuit sekere oorde om staatsamptenare se aftreegeld te gebruik om in “voorgeskrewe bates” soos infrastruktuur te belê in ’n poging om die ekonomie te laat groei.

Daar is ook volgehoue vrese dat die regering dit oorweeg om die OBK se bates in sukkelende staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens te stort.

Een van die omstrede voorstelle, van die vakverbond Cosatu, is dat die OBK sowat R250 miljard van Eskom se skuld van meer as R488 miljard oorneem om sy las te verlig. Sithole het in Februarie nog in die parlement gesê die GEPF is nog nie oor so ’n voorstel geraadpleeg nie, maar dat dit oorweeg sou word as dit ’n goeie belegging is en aan die fonds se beleggingsvereistes voldoen. Die GEPF besit via die OBK reeds sowat R84 miljard se Eskom-effekte.

Mabesa het volgens die GEPF se webblad ’n MSc-graad van die Universiteit van Londen, ’n BCompt-graad van Unisa en het ’n leierskapsprogram by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool voltooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.