Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Staat se plan met pensioene dalk dié week bekend

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting in die komende week in sy staatsrede hom op pensioenfondse beroep om die sukkelende ekonomie weer aan die gang te help kry.

Die ANC het in sy verkiesingsmanifes belowe om voorgeskrewe bates vir pensioenfondse as strategie te oorweeg. Foto: Pixabay

Pensioenfonds-rolspelers wat gereeld met die regering konsulteer, het aan Rapport gesê hulle is hierop voorberei.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het die afgelope week beleggers ontsenu toe hy by ’n kongres vir pensioenfondse gesê het hul rol sal ná die staatsrede bespreek word. Patel het gesê die regering kyk nie net na die buiteland vir beleggings nie, maar pensioenfondse moet plaaslik in “reële bates” belê.

Sidwell Medupe, Patel se woordvoerder, sê hy het bedoel “direkte beleggings in die produktiewe ekonomie anders as aandele en effekte”. Hy wou egter nie sê wat in die staatsrede aangekondig gaan word nie.

Medupe het benadruk dat Patel net na die “moontlike rol van pensioenfondse” verwys het.

“Die minister se uitlatings is geensins amptelike regeringsbeleid nie,” het Medupe gesê.

Die ANC het in sy verkiesingsmanifes belowe om voorgeskrewe bates as strategie te oorweeg. Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese beleid, het aan Rapport gesê dié opsie is steeds op die tafel, maar geen finale besluit is geneem nie.

Dit word wêreldwyd gedoen, soos in Australië en Kanada byvoorbeeld.
Leon Campher van Asisa

Verskeie belangegroepe het reeds aangedui hulle sal voorgeskrewe bates tot in die konstitusionele hof beveg.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, het Dinsdag op Rapport en Brenthurst Wealth se beleggingseminaar in Kaapstad gesê hy verwag voorgeskrewe bates soos wat die regering meer desperaat raak vir finansiering. “As Moody’s ons ook afgradeer, kom dit beslis.”

Volgens hom het Suid-Afrika ’n massiewe pot belastingspaargeld – teen meer as R4 000 miljard die agtste grootste pot geld ter wêreld – en dis ’n onweerstaanbare bron van finansiering soos dit vir die apartheidsregering was in die 1980’s.

LEES OOK: Só voel bedryf oor gedwonge aftree-beleggings

Belasting as opsie

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, het aan Rapport gesê hy het verwag dat die regering moontlik weer pensioenfondse se opbrengste en kapitaal­winste gaan belas voordat die regering voorgeskrewe bates implementeer.

“ ’n Hele paar jaar terug het ons 10% belasting betaal op pensioenfondse, maar Trevor Manuel (oudminister van finansies) het dit belastingvry gemaak.”

GEPF
Abel Sithole, hoof van die staatspensioenfonds, pleit vir toestemming om meer GEPF-geld oorsee te belê.

Volgens Ackerman is dit ’n maklike manier vir die regering om ekstra belasting te kry.

Ackerman sê baie pensioenfondse en ander rolspelers sal voorgeskrewe bates beveg en dit sal nie oornag kan gebeur nie.

Hy sê daar is reeds ’n mate van voorskriftelikheid, byvoorbeeld: “Ingevolge regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse kan jy net 30% in die buiteland belê.”

Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa), sê voorgeskrewe bates vir pensioenfondse is nie ’n nuwigheid vir Suid-Afrika nie.

In die apartheidsjare is pensioenfondse verplig om staatseffekte te koop in staatsinstellings soos Yskor en Krygkor, sê hy. “Fondsbestuurders moes 55% van pensioenfondsgeld in voorgeskrewe bates belê en 35% in lewensbates.”

Hy meen egter dit is ’n goeie idee dat pensioenfondse in infrastruktuurprojekte belê. “Dit word wêreldwyd gedoen, soos in Australië en Kanada byvoorbeeld.”

Hy sê Suid-Afrika is wêreldwyd geloof oor hoe hernieubare energie van die onafhanklike kragprodusente gefinansier is. “Ons moet daardie model vat en dit dupliseer vir die belegging in ander infrastruktuurprojekte, hetsy skole, energie of water.”

“Die gepaste instrumente sal ontwikkel moet word en daar sal in ag geneem moet word dat pensioenfondse likiditeit nodig het.”

Vorm van onteiening?

Marius Roodt van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het egter aan Rapport gesê beleggings in infrastruktuurprojekte sal miljoene rande vir die top-amptenare van groot beleggingshuise inbring, maar hulle dink nie aan die “kleiner beleggers” wat 40 jaar lank spaar vir aftrede nie.

Frans Cronjé, hoof van die IRV, sê die ANC se visie vir voorgeskrewe bates is niks anders nie as ’n gryp van burgers se bates.

Die regering berei voor om teen Suid-Afrikaners te draai en hul bates te gebruik om regeringsprogramme en -beleid te finansier.
Frans Cronjé van die IRV

“Die regering berei voor om teen Suid-Afrikaners te draai en hul bates te gebruik om regeringsprogramme en -beleid te finansier.”

Só belê GEPF

Pensioenfondse belê reeds baie in die ekonomie en staatskuld. Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) belê luidens hul nuutste jaarverslag reeds R164,7 miljard in effekte van staatsondernemings. Eskom is bo-aan die lys (R87,6 miljard), gevolg deur Sanral (R26 miljard) en Transnet (R22 miljard). Daarbenewens besit die GEPF R830,6 miljoen se Eskom-wissels.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het nou in ’n brief aan die GEPF daarop aangedring dat geen verdere skuld gekoop moet word nie.

Die GEPF word deur beleid en wette gedwing om byna al sy geld (95%) in Suid-Afrika te belê.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die GEPF, het vroeër gesê die fonds sal meer geld in die buiteland móét belê om opbrengste ’n hupstoot te gee. Gesprekke hieroor met die tesourie sleep egter al maande lank voort. Sithole het verlede maand met die bekendmaking van die GEPF se jongste aktuariële evaluasie gesê hy sou “gister al ’n antwoord wou hê”.

Eskom het byna geen kontant nie en sy opsies om geld in die hande te kry, raak op, sê Peter Attard Montalto van Intellidex.

Eskom se skuld is reeds byna R500 miljard en hy kan al einde Junie sukkel om dit te betaal.

Sowat die helfte van die effekte is in rand en die ander in dollar en euro vir buitelanders.

Eskom-effekte bied bo-inflasie-opbrengste vir beleggers. Amerikaanse skuldbriewe bied tans  7,1% en plaaslike mediumtermyn-skuldbriewe bied 9,6%.

As fondse gedwing word om dié skuld te koop, sal die hoër vraag daarna die opbrengste verlaag. 

Montalto meen dit sal ongrondwetlik wees om pensioenfondse te dwing om in staatsondernemings te belê.

Hy verwag eerder dat die Eskom-skuld geruil sal word vir staatseffekte en meen die Openbare Ontwikkelingskorporasie sal dit steun, hoewel hy die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) se kommer oor beleggings in Eskom eers sal moet bylê.

aftreegeld

Meer oor:  Aftrede  |  Gepf  |  Infrastruktuur  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2108,36 (4736)
  • Top 40 52107,18 (37382)
  • All Share 58248,73 (37621)
  • Resource 10 46948,1 (58001)
  • Financial and Industrial 30 77928,13 (37579)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.