Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Stokperdjie ná aftrede: Hou Eskom met valkoog dop
Nico Bruwer, ’n besorgde afgetrede verbruiker wat met sy finansiële kennis al jare lank teen Eskom se hoë tariefverhogingsaansoeke beswaar maak.Foto: DEON RAATH

Die ideale pensioenaris-stokperdjie is om die een ná die ander vergadering by te woon om Eskom op hul tone te hou, meen Nico Bruwer (68).

Dié pensioenaris van Centurion het nie die stereotipiese stokperdjies nie. Hy lees, “maar eerder vakliteratuur en aktuele stukke oor Eskom, Steinhoff en ander dele”, en oefen gereeld.

Maar sy éintlike stokperdjie is om met elke openbare sitting van die energiereguleerder (Nersa) voorleggings te gaan maak.

Bruwer is al so ’n instelling by Nersa-sittings dat hy altyd ’n spreekbeurt kry en dikwels ’n ekstra minuut of twee.

Niemand betaal hom nie en hy kry geen persoonlike voordeel uit die werk wat hy doen nie.

“Ek besef maar net hoe belangrik Eskom vir die land is en dat verbruikers nie onnodig onder druk geplaas moet word nie,” verduidelik hy.

Bruwer sê nog voor sy aftrede ná byna 30 jaar by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, het mense hom gevra om sy kennis te gebruik om insette aan Nersa te lewer namens verbruikers wat swaar trek om elektrisiteitsverhogings van ver bo inflasie te absorbeer.

Bruwer, ’n bourekenaar wat ekonomie studeer het, vertel by die Ontwikkelingsbank was hy as finansiële adviseur gemoeid met projekfinansiering in die openbare en korporatiewe sektor. Hy was lank ’n waarnemer in direksies waar projekte Eskom betrek het en moes verslae oor die volhoubaarheid daarvan vir die direksies opstel.

“Ja, ek verstaan syfers,” antwoord hy half verleë op ’n vraag.

Dis dié dat hy besef hoe belangrik Eskom is: Die entiteit verskaf die krag waarsonder Suid-Afrikaners nie kan klaarkom nie, maar dit moet teen ’n billike prys wees wat verbruikers nie onnodig onder druk plaas en die ekonomie kniehalter nie.

Hy sê die afgelope week het hy ’n groter dringendheid gesien uit onder meer die staal- en goudmynbedryf wat nie weet wat om te doen om steeds mededingend sake te doen nie.

“Daar is al hoe meer rolspelers wat vra dat daar geen tariefverhogings moet wees nie.”

Nico Bruwer, ’n besorgde afgetrede verbruiker wat met sy finansiële kennis jare lank al teen Eskom se hoë tariefverhogingsaansoeke beswaar maak om verbruikers te beskerm. Bruwer het byna 30 jaar lank by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gewerk met die finansiering van projekte.Foto: DEON RAATH

Na sy mening behoort hoogstens ’n inflasieverwante verhoging toegestaan te word, maar selfs daaroor is hy huiwerig.

Nersa probeer hard, maar kyk ingevolge sy mandaat na ’n beperkte prentjie, sê Bruwer. Nersa fokus op inkomste en nie op die groter finansiële prentjie nie. En om Eskom reg te ruk, moet daar na die struktuur van die balansstaat gekyk word, sê hy.

“Dit slaan my dronk dat Eskom steeds nie ’n behoorlike strategiese vyfjaarplan met duidelike doelwitte op die tafel het nie. Dan het jy ’n raamwerk waarbinne jy werk en kan jy die doelwitte haal. ’n Maatskappy soos Edcon is besig met ’n plan; hy maak aanpassings om te oorleef.

“Eskom moet ook planne maak en kan nie aanhou dink dat hy die probleme deur tariefverhogings kan oplos nie.”

Volgens Bruwer het dinge by Eskom in 2008 breekpunt bereik toe tariefverhogings hoër as die inflasiekoers die norm geword het. Die verhogings is nou sowat drie keer meer as kumulatiewe inflasie en lyk nie of dit gou weer na inflasie gaan terugkeer nie.

Hy sê dinge het begin skeefloop weens kapitaalbesteding aan projekte soos Medupi en Kusile. Baie swaargewig-ingenieurs met die nodige tegniese kennis het Eskom verlaat en gevolglik is die volhoubaarheid nie deeglik ondersoek nie.

Bouwerk aan die twee steenkoolkragstasies sal ’n geraamde sowat R292 miljard kos, wat byna dubbel die aanvanklike ramings is. ’n Eskom-amptenaar het boonop verlede week aan Money­web gesê dit kan tot R8 miljard kos om herstelwerk te doen wat tydens konstruksie ontstaan het.

Bruwer sê ondanks die kapitaalbesteding is daar nie meer vermoë beskikbaar nie. “Ek dink Eskom het die ding heeltemal misgesit met hul vooruitskattings omdat hulle BBP op 4% geraam het.”

Hy sê die situasie het handuit geruk en gaan ’n hele paar jaar neem om reg te stel. Op kort termyn moet Eskom se kontantvloei gestabiliseer word, want daarsonder is daar nie ’n lang termyn nie. Ongerymdhede soos met steenkoolkontrakte moet onmiddellik aandag kry.

Hy meen dit sal minstens vier jaar neem om Eskom te begin omswaai. “Tensy iemand iewers ’n sak geld het waarvan ek nie weet nie.”

Intussen sal hy aanhou om as ’n betrokke Suid-Afrikaner insette te lewer en te help waar hy kan. As iemand iewers luister en hy kan ’n bydrae lewer, is dit goed genoeg vir hom.

Kragtens wet moet Nersa teen 15 Maart sy besluit bekend maak oor die tariefverhogings wat Eskom kan implementeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1612,44 (2888)
  • Top 40 48956,52 (-6304)
  • All Share 55194,61 (-6537)
  • Resource 10 45305,91 (39031)
  • Financial and Industrial 30 72089,01 (-32615)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.