Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Swaai jou kop oor aftrede
Daar is geen rede hoekom ’n mens op 65 móét aftree nie. As jy aanhou werk, ploeg jy jou ondervinding in die maatskappy terug, en help ook om jou eie finansiële welvaart later in die lewe te verseker.Foto: istock

Suid-Afrikaners moet anders oor aftrede begin dink. Nie net oor hoeveel hulle moet spaar nie, maar ook oor wanneer hulle gaan aftree en watter veranderinge hulle bereid is om te maak.

Dit is die gevolgtrekking van ’n paneel kenners wat onlangs dié vraagstuk bespreek het op ’n Allan Gray-beleggingseminaar in Johannesburg.

Hoewel daar verskillende menings is oor presies hoeveel jy moes gespaar het teen die tyd dat jy aftree, sê Mike Wilmot, beleggingshoof by Nedbank Private Wealth, dit gaan nie noodwendig oor hoeveel jy moet spaar nie, maar eerder oor hoe aftrede in die toekoms daar gaan uitsien.

“Die metode hoe daar tans bereken word hoeveel jy moet spaar, is reg, maar daar is soveel veranderlikes dit kan moeilik wees om dié doelwitte te behaal,” sê hy.

Jeanette Marais, direkteur van Allan Gray, sê hul berekening wys jy moet teen die tyd dat jy aftree minstens 17 keer jou finale jaarlikse salaris vir aftrede gespaar hê.

Dit is selfs meer as wat Karen Wentzel, hoof van annuïteite by Sanlam, in Augustus gesê het vir aftrede gespaar moet word. “As jy teen 65-jarige ouderdom aftree, moes jy 15 keer jou finale jaarlikse salaris gespaar het om ’n inflasiegekoppelde annuïteit te kan koop wat jou salaris gaan vervang.”

“Die metode hoe daar tans bereken word hoeveel jy moet spaar, is reg, maar daar is soveel veranderlikes dit kan moeilik wees om dié doelwitte te behaal.
Mike Wilmot van Nedbank

Wilmot sê die eerste veranderlike is juis die vraag oor of mense en maatskappye steeds 65 as aftreeouderdom moet aanvaar.

“Hou in gedagte toe daar meer as 130 jaar gelede op dié ouderdom vir aftrede besluit is, was dit ’n raaiskoot. Dit was deels daarop gegrond dat die gemiddelde lewensverwagting heelwat minder as 65 was, dus het bitter min mense in der waarheid toe afgetree,” sê hy.

“Vandag, danksy moderne tegnologie en veral ten opsigte van mediese sorg, is mense se lewensverwagting baie langer, wat beteken jy gaan waarskynlik heelwat langer ná aftrede leef as waarop voorheen gereken is. Boonop kan mense steeds ’n ekonomiese bydrae lewer, al is hulle ouer as 65,” sê hy.

Indien ’n maatskappy geen amptelike aftree-ouderdom het nie, en die werkgewer en die werknemer is bereid om aftrede vir vyf jaar uit te stel, gee dit jou in werklikheid 15 jaar van bykomende finansiële sekerheid:

  • Eerstens beteken dit jy werk totdat jy 70 is, wat beteken dat jy nie in dié vyf jaar van jou aftreegeld leef nie;
  • Jy dra vir nog vyf jaar by tot jou aftreegeld; en
  • Boonop gaan jy vyf jaar korter afgetree wees totdat jy sterf.

Viresh Maharaj, hoofbemarkingsaktuaris by Sanlam, het voorheen gesê mense wat selfs nadat hulle afgetree het aanhou om ’n inkomste te genereer, hetsy uit vryskutwerk of deur ’n nuwe beroep te volg en dus nie onmiddellik hul pensioengeld onttrek nie, kan hul belegging aansienlik vergroot.

Waar kom 65 vandaan?

Die voorstel dat ’n mens op 65-jarige ouderdom aftree, was die idee van Otto von Bismarck, premier van die sterkste Duitse staat Pruise en later die eerste kanselier van die Duitsland wat hy verenig het.

Von Bismarck het vanaf 1881 ’n stelsel ontwikkel waar die staat vir mense ’n inkomste sal betaal wanneer hulle te oud word om self te werk. Daar is op 70 as aftree-ouderdom besluit.

Die Duitse regering het egter nie nodig gehad om baie pensioen te betaal nie, want die lewensverwagting was omtrent dieselfde ouderdom.

In die vroeë 1920’s het Amerika op 65 as die beste aftree-ouderdom besluit. Weer eens omdat die meeste mense nie veel ouer as 60 geword het nie. Die lewensverwagting in die VSA was toe 58.

As jy jou pensioengeld sewe jaar bykomend kan belê, sal die bedrag verdubbel, terwyl dit volgens hom ná tien jaar sal verdriedubbel.

Nog ’n veranderlike wat Winston Monale, verantwoordelik vir welvaartbestuur en internasionale beleggings by Barclays Africa, uitwys, is watter opbrengskoers gebruik word om die somme te doen. 10% word gereeld gebruik, en hy sê: “Dit is net nie tans realisties nie.

“Ook in watter mate inflasie in die toekoms kan verander, is onvoorspelbaar. Om dus ’n spesifieke bedrag te noem, bly altyd moeilik.”

Die kenners is dit eens – hoe lank ’n afgetrede persoon se pensioen gaan hou, hang ook van die individu se keuse van lewenspeil af.

As jy bereid is om byvoorbeeld na ’n kleiner huis te trek wat minder gaan kos om te onderhou en die wins wat jy maak uit die groter huis se verkoop met oorleg belê, gaan jy ook beter finansiële sekerheid in aftrede bewerkstellig.

Hoewel kenners nie noodwendig saamstem oor watter bedrag jy nou presies moet spaar vir aftrede nie, sê almal: As jy nog nie ernstig begin spaar het nie, is daar geen beter tyd as vandag om te begin nie.

“Onthou, saamgestelde rente is die agtste wonder van die wêreld.

“Hoe vinniger jy begin spaar, hoe groter gaan jou opbrengs wees,” sê Marais.

Meer oor:  Aftrede  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.