Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Transnet: Gordhan het ‘niks te doen’ met skikking
’n Vorige betoging teen Transnet se karige pensioenbetalings wat in 2017 by Kerkplein in Pretoria gehou is. Foto: Deon Raath

Dit is nie waar dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die skikking hoef goed te keur waaraan Transnet se regspan en die regspan van sy pensioentrekkers werk nie.

Wynanda Coetzee van die prokureursfirma Geyser & Coetzee het Donderdag gesê die minister is nie ’n party tot die verrigtinge nie.

Die skikking gaan oor beter pensioenvoordele aan Transnet-pensioentrekkers wat vir jare net verhogings van 2% per jaar ontvang het en sodoende algaande verarm het.

Sy het nie gesê of Transnet se direksie wel die skikkingsooreenkoms of dele daarvan moet goedkeur nie.

Transnet se voorwaarde vir die skikking is dat die twee betrokke pensioenfondse moet saamsmelt in ’n enkele aftreefonds.

Ná verskeie navrae is dit steeds nie bekend of die Transnet-direksie of die minister wel dié stap eers moet goedkeur nie. Navrae aan Transnet hieroor is ook nog onbeantwoord.

Dit is ook nie bekend hoe lank dit nog kan duur voordat die skikking uiteindelik gefinaliseer en as ’n hofbevel bekragtig kan word sodat dit in werking gestel kan word nie.

Die skikking behels dat afgetrede lede van Transnet se Tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds vir die volgende drie jaar verhogings van onderskeidelik 13%, 9% en 6% sal kry plaas van net 2%, tesame met bonusse van R10 000 per pensioentrekker oor die volgende drie jaar.

Vanaf die vierde jaar sal pensioene met minstens 70% van inflasie per jaar verhoog word, mits aktuariële berekeninge wys daar is genoeg geld in die saamgevoegde nuwe aftreefonds.

Teen einde Maart verlede jaar was daar 49 908 lede van die Tweedevastevoordeelfonds oor. Coetzee kon nie sê hoeveel daar tans oor is en hoeveel lede die Transnet-subfonds het nie. Die getalle wissel daagliks, sê sy.

Vrae oor die proses om die twee pensioenfondse saam te voeg, is ook nie beantwoord nie. Die samevoegingsproses van die twee fondse vorm volgens Coetzee nie deel van die skikking nie.

Dit is in teenstelling met Geyser & Coetzee se verklaring op 15 Junie dat Transnet vereis dat die skikkingsooreenkoms voorwaardelik moet wees aan die konsolidasie van die bates, laste en lede van die twee fondse in ’n enkele aftreefinansieringsentiteit sodat die skikking ekonomies meer volhoubaar is.

Op die vraag oor wat gebeur met die voordele van lede wat sterf nadat die skikking bekragtig is maar voordat die eerste voordele uitbetaal word, is gesê dit sal kragtens die fondsreëls hanteer word.

Die twee regspanne het volgens Coetzee ooreengekom om nie die fynere besonderhede van die ooreenkoms openlik te bespreek voordat dit gefinaliseer is nie.

Dit blyk kwessies oor koste, ’n voorstel oor die beleid oor pensioenverhogings in die toekoms, en kwessies oor korporatiewe bestuur was teen middel Junie nog nie afgehandel nie. Volgens die prokureursfirma is dit “nie van wesenlike belang” vir die Transnet-pensioentrekkers nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.