Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Transnet ontduik vrae oor pensioenarisse se eis
Transnet-pensioentrekkers stap ’n paar jaar gelede na die Uniegebou in Pretoria om te pleit vir hoër pensioene. Foto: Herman Verwey

Transnet het Woensdag die sub judice-reël gebruik om vrae in die parlement te ontduik oor pensioentrekkers se groepeis teen hom.

Die oorlewende sowat 50 000 pensioentrekkers en hul begunstigdes van Transnet se Tweedevastevoordeelfonds en die Transnet Vervoerfonds wil sowat R100 miljard van Transnet en sy pensioenfondse eis oor beloftes in die 1990’s oor inflasieverwante pensioenverhogings wat nie nagekom is nie.

Tesame met swak beleggingsbesluite deur die Transnet-pensioenfondse in die 2000’s het dit meegebring dat pensioentrekkers jaarliks net ’n 2%-verhoging kry en hul pensioen dus stelselmatig deur inflasie opgevreet word.

Siyabonga Gama, uitvoerende hoof van Transnet, het gesê die saak is nog in die hof en as gevolg van die sub judice-reël kan hy nie vrae oor die pensioentrekkers se groepeis beantwoord nie.

Transnet betaal sedert 2008 jaarlikse bonusse aan die pensioentrekkers, is al wat Gama wou sê.

Transnet gaan op 30 Mei ’n geslote vergadering met die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings hê om van die kwessies oor pensioentrekkers te bespreek. Lungi Mnganga-Gcabashe, voorsitter van die komitee, het bevestig die vergadering sal geslote wees vir die publiek en die media omdat sensitiewe kwessies bespreek sal word. Dit sluit ook in bewerings oor die onbillike afdanking van Transnet-werknemers.

Die konstitusionele hof het verlede week ten gunste van die pensioentrekkers beslis deur besware van Transnet teen die pensioentrekkers se voorgenome groepeis met koste van die hand te wys.

Dit beteken die pensioentrekkers kan nou ’n hofdatum vra waarop die groepeis aangehoor kan word, hoewel gegis word dat Transnet dalk met die pensioentrekkers kan skik.

Vier lede van die komitee, Natasha Mazzone en Erik Marais van die DA, Steve Swart van die ACDP en Zukiswa Rantho van die ANC, het Transnet gevra wat hy gaan doen om die pensioentrekkers se lot te verlig. Hulle het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ook gevra om in te gryp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.