Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Transnet-oues ‘nie swart genoeg’

Transnet se verarmde pensioentrekkers kan binne die volgende weke meer as R500 miljoen terugkry wat met staatskaping gesteel is, maar Capitec Bank steek ’n stokkie daarvoor omdat die pensioenfonds nie swart genoeg is nie.

Wilson Aliali stoot Theo van Wijk in sy rolstoel na die Uniegebou in Pretoria op 30 Maart 2016 toe duisende Transnet-pensioentrekkers ’n petisie gaan oorhandig het. Foto: Herman Verwey, Gallo Images

Transnet se Tweede Vaste Voordeelfonds sal ingevolge ’n historiese skikking betaal word met Capitec-aandele, maar die vyfde grootste bank wat gestig is deur Stellenbosse Afrikaner-adel sê hulle kan dit nie toelaat nie omdat die fonds nie ’n “swart” entiteit is nie.

Dié drama – wat ’n futiele persoonlike pleidooi van die fonds aan Santie Botha, Capitec se voorsitter, insluit – blyk uit hofstukke in die hooggeregshof in Johannesburg wat die ondersoekeenheid amaBhungane bekom het.

Die hof sal na verwagting môre ’n stortvloed bewerings en eise tussen die partye oorweeg.

Die ontstaan van die verhaal is die aanstelling van die omstrede Regiments Capital in 2015 om bedenklike dienste aan die pensioenfonds te lewer, glo teen ’n tarief van R320 miljoen per jaar.

Rapport het reeds in 2017 berig dat die Transnet-pensioenfonds vir Regiments en ’n klomp verwante individue gedagvaar het vir R232 miljoen. Dié eis het intussen aangegroei tot R857 miljoen. Dís die bedrag wat die pensioenfonds sê hulle verloor het weens staatskaping.

Nou wil die mense wat tans in beheer van Regiments is met die Transnet-pensioenfonds skik. Luidens die skikkingsooreenkoms wat by die hof ingedien is, is dit vir ’n bedrag van R500 miljoen plus rente.

Die probleem is dat die skikkingsooreenkoms onderhewig is aan die vermoë van Regiments om Capitec-aandele wat hy onregstreeks besit, te verkoop. Dié aandele is jare gelede bekom met ’n swartbemagtigingstransaksie van Capitec. Capitec sê die voorwaardes van die SEB-transaksie was dat die aandele vir ewig in die besit van swart mense moet bly.

Capitec is ook nie die enigste party wat nie wil hê die skikking moet sneuwel nie. Eric Wood, ’n beweerde Gupta-ondersteuner en aandeelhouer in Regiments, het ook ’n dringende hofaansoek ingedien om die skikking wat sy medeaandeelhouers aangegaan het, te kelder.

Eric Wood, ’n aandeelhouer van Regiments en beweerde Gupta-ondersteuner, wil ook die skikking fnuik.

amaBhungane berig die aandeelhouers is in ’n dispuut met mekaar om beheer oor Regiments te kry.

Wood sê in sy hofstukke sy kollegas wil net die skikking met die Transnet-pensioenfonds aangaan om hul eie basse te red en hom met die gemors te los. Hy ontken nog deurentyd dat sy maatskappy by staatskaping betrokke was.

Peet Maritz, hoofbeampte van die fonds, sê in hofstukke die skikking is dringend en in sy pensioentrekkers se belang, want “derduisende gaan nie teen volgende jaar nog lewe nie”.

’n Hofsaak om die eis teen Regiments Capital te bewys kan jare duur.

Die fonds het tans 46 955 pensioentrekkers en hul gemiddelde pensioen is maar R2 683,17 per maand.

Maritz het op 23 Augustus in ’n persoonlike pleidooi aan Botha geskryf:

“Die skikking is beduidend en sal, indien dit geïmplementeer word, die lot van (Transnet) se pensioentrekkers wesenlik verbeter.

“Dit sal ook . . . die grootste enkele terugwinning van staatskapingsgeld tot op datum wees en dis van wesenlike nasionale belang.”

Maritz vra ook of hulle ’n voorlegging aan Capitec se direksie kan maak oor die aangeleentheid.

Botha antwoord ’n week later die direksie sal Capitec-aandeelhouers se toestemming moet kry en “dis moeilik om te dink aan ’n basis vir so ’n motivering as ’n mens dink aan, onder meer, die benadeling van Capitec (weens minder swart aandeelhouding)”.

Oor die versoek om die direksie toe te spreek, sê sy Maritz moet liewer met André du Plessis, finansiële hoof van Capitec, skakel, want die direksielede is oor die land versprei.

Dié brief het die Transnet-pensioenfonds genoop om ’n teenaansoek in te dien teen Capitec om hulle te dwing om saam te werk, sê Maritz in hofstukke.

Trouens, die pensioenfonds en die gewillige skikkersaandeelhouers van Regiments beskuldig in hofstukke vir Capitec dat hulle opportunisties is.

Regiments sê Capitec sal glad nie SEB-punte verloor nie weens die “eens bemagtig, altyd bemagtig”-beginsel.

André du Plessis, finansiële hoof van Capitec, en Gerrie Fourie, uitvoerende hoof. Foto: Jaco Marais

Vrae oor Capitec se motief

Die eintlike motief vir Capitec se onwilligheid, sê Regiments en die Transnet-fonds, is dat Capitec vir Regiments wil dwing om die aandele vir ’n appel en ’n ei te verkoop.

Regiments onthul in die hofstukke dat Capitec aangebied het om die aandele vir hul swart werkers se trust te koop teen net 50% van die markprys. Hulle het geweier.

Boonop is daar ’n strafbepaling in die destydse SEB-ooreenkoms wat beteken Capitec kan die aandele terugkoop teen net R30 per aandeel indien ’n SEB-vennoot soos Regiments die aandele aan nie-swart partye verkoop sonder Capitec se toestemming. Capitec se aandele was teen Vrydagmiddag byna R1 200 stuk werd.

Du Plessis het teenoor Rapport ontken dat die bank opportunisties is in die saak.

“Daar is ander oplossings wat Regiments, ’n ongewenste aandeelhouer, kan toepas om sy Capitec-aandele te verkoop sonder om die (destydse SEB-ooreenkoms) te verbreek.”

Du Plessis sê die destydse ooreenkoms is vrylik aangegaan met die bepaling dat die SEB-vennote net hul aandele aan ander swart partye sal kan verkoop.

Dis Capitec se reg om daarop aan te dring dat hul swart aandeelhouding behoue bly.

Hy is ook skepties oor die wenslikheid van die skikking.

“Die mense wat sal voordeel trek uit dié skikking is die einste partye wat volgens Transnet (se Tweede Vaste Voordeelfonds) betrek word by staatskaping (deurdat die skikking minder is as die bedrag wat geëis is).

“Transnet wil nou hê Capitec moet die prys betaal vir hul foute.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.