Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Transnet-pensioene: Gordhan moet nog ja sê
A Transnet logo stands on a rail mounted gantry cr
Die kenteken van Transnet in die Durbanse hawe. Foto: Getty Images

Die voorgestelde skikking tussen Transnet en sy pensioenfondse aan die een kant en sy pensioentrekkers aan die ander kant is wel Donderdag deur die trustees van die Transnet Tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds goedgekeur.

Maar die volgende stap is dat die direksie van Transnet die skikking moet goedkeur, waarna dit verwys moet word na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is Vrydag verneem.

Daarna moet die amptelike reëls van die pensioenfondse ook verander word om vir meer as net die statutêre verhoging van 2% per jaar sedert die vroeë 2000’s voorsiening te maak.

In ’n verklaring wat die prokureursfirma Geyser & Coetzee Donderdagmiddag uitgestuur het, is bevestig dat die trustees van die twee pensioenfondse Donderdag vergader het, met verteenwoordigers van Transnet en die pensioentrekkers as genooide gaste.

In formele regstaal wat bykans onverstaanbaar is vir gewone mense, het Geyser & Coetzee gesê “onderhandelings oor die kommersiële beginsels wat as grondslag dien vir ’n bindende skikkingsooreenkoms is deur al die partye in die regsgeding gefinaliseer”.

Verder sal die “ooreenkomste en implementeringsplan voorberei word en soos toepaslik gekommunikeer word”.

Wanneer dit deur al die partye voorberei en goedgekeur is, sal die finale ooreenkoms voor die hof gelê word om te bekragtig.

Lees ook: Só reageer Transnet-oues op moontlike skikking

Teen einde Maart 2018 was daar 49 908 begunstigdes in die Transnet Tweedevastevoordeelfonds, het Geyser & Coetzee verlede week gesê. Op grond van dié syfer sal die skikkingsvoorstel se drie bonusbetalings van R10 000 oor die volgende drie jaar sowat R1,5 miljard kos, maar die getal begunstigdes krimp by die dag soos wat bejaarde pensioenfondslede afsterf.

Die oorspronklike groepseis was vir ’n bedrag van nou al sowat R100 miljard, want dit moes vergoed vir die verlore inkomste aan pensioentrekkers weens swak beleggingsbesluite van Transnet en sy pensioenfondse in die vroeë 2000’s en beloftes oor inflasieverwante pensioenverhogings wat nie nagekom is nadat die ou Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens tot ’n maatskappy genaamd Transnet omskep is nie.

Hoewel Transnet een van die min winsgewende staatsondernemings is, is hy ook die afgelope jare van staatskaping deur bedrieërs besteel soos blyk uit die jongste openbarings voor die Zondo-kommissie. Dis egter duidelik Transnet sou dit nie kon bekostig om te verloor in die saak waarin die pensioentrekkers ’n groepseis teen hom en sy pensioenfondse aanhangig gemaak het nie. Transnet se regspan het deurgaans die eis teengestaan.

Transnet se kontantsaldo was teen Maart 2018 maar R4,38 miljard, en sy totale bates was sowat R370 miljard. As die groepseis toegestaan was, sou dit dus meer as ’n kwart van Transnet se totale bates opgevreet het, wat sy vermoë kon raak om sy bedrywighede voort te sit, lenings terug te betaal en werknemers in diens te hou. Dit sou ’n sneeubaleffek op die staatskas hê as Transnet dan ook soos die ander staatsondernemings soos Eskom, die SAL, SAUK en Denel met belastingbetalersgeld gehelp word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.