Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Transnet-skikking: 10 dinge wat jy moet weet

Transnet se pensioenarisse het verlede maand gehoor hul pensioen gaan in die volgende drie jaar met onderskeidelik 13%, 9% en 6% verhoog in plaas van net 2% wat hulle tot dusver per jaar ontvang het.

Hier is tien dinge wat jy oor die onlangse skikking moet weet.

’n Vorige betoging teen Transnet se karige pensioenbetalings wat in 2017 by Kerkplein in Pretoria gehou is. Foto: Deon Raath

1. Watter pensioenfondse is betrokke by die groepseis?

Die Transnet Tweedevastevoordeelfonds (TTVVF) en die drie subfondse van die Vervoerpensioenfonds, naamlik die SAL-, Prasa- en Transnetsubfondse. Die SAL- en Prasa-fondse is effektiewelik afsonderlik bedryf en het sedert 2011 groter verhogings ontvang as lede van die TTVVF en die Transnet-subfonds.

2. Wat was die pensioenarisse se kwelling toe die regspan genader is?

Die pensioenarisse het aangedui die reël wat hulle net ’n 2%-verhoging toelaat verarm hulle. Die regspan het deur sowat 22 jaar se agendas, aktuariële verslae, kontrakte, korrespondensie en finansiële state van die pensioenfondse gewerk en gevind Transnet (toe nog Suid-Afrikaanse Vervoerdienste) het in 1990 belowe werknemers sal nooit slegter af wees in die nuwe bedeling as hulle by die bestaande pensioenfonds bly nie. Ingevolge die belofte sou hul pensioen jaarliks met 2% verhoog asook ’n aanvulling van 70% van inflasie. Die belofte is gehou tot met 2002, waarna aangekondig is dat pensioenarisse voortaan net die 2% per jaar sal ontvang.

3. Wat was die eise teen Transnet?

Die eerste eis was gegrond op die belofte wat nie gehou is nie. Die tweede eis was oor die kansellasie van T11-effekte in die vroeë 2000’s wat die rede was waarom Transnet nie meer die belofte kon hou nie, want Transnet het nie meer rente op die effekte betaal nie. Die doel van die eis was dus om geld in die pensioenfondse te bring sodat die pensioenarisse se posisie reggestel kon word. Die derde eis was oor die verdeling van bates deur Transnet en die pensioenfondse ná die herwaardering van die fondse in 2003. Dit was oor die vraag of die fondsreëls wel so ’n verdeling gemagtig het.

4. Wat was die gemiddelde pensioen van lede van die TTVVF teen Februarie vanjaar?

R2681 per maand.

5. Wie gaan baat by die skikking?

Alle lede van die TTVVF en die Transnet-subfonds en hul begunstigdes wat reeds voordele uit die fondse ontvang. As soortgelyke verhogings aan lede van die SAL- en Prasa-fonds gegee word (onderhewig aan goedkeuring deur hul fondstrustees en Transnet as werkgewer) sal dit nie betaal word uit die saamgestelde TTVVF en Transnet-subfonds nie.

6. Gaan pensioenarisse met die laagste inkomste nie minder baat vind by die skikking nie?

Nee, dit is ’n valse siening. Aktuariële inligting wys die skikkingsbonus van R30 000 (R10 000 per jaar oor drie jaar) is ekwivalent aan ’n verhoging van 21,2% vir mense wat ’n pensioen van tussen R1 000 en R1 999 per maand kry – ’n kategorie wat 20,7% van die pensioenarisse verteenwoordig. Vir mense wat minder as R1 000 kry en wat 18,3% van die pensioenarisse verteenwoordig, is dit ’n verhoging van 49,54%. Vir dié wat tussen R2 000 en R2 999 kry is dit ’n verhoging van 11,34%.

A Transnet logo stands on a rail mounted gantry cr
Die kenteken van Transnet in die Durbanse hawe. Foto: Getty Images

7. Maar wat van die eis van R100 miljard, en die getuienis voor die Zondo-kommissie oor die geplundery en staatskaping by Transnet? Waarom kom daardie geld nie die pensioenarisse toe nie? Transnet en die pensioenfondse skuld ons minstens vier tot vyf keer ons pensioen plus twee gewaarborgde bonusse per jaar!

Dit is nie korrek nie. Die totale waarde van die T11-effekte was R17,1 miljard waarvan R10 miljard as ’n inkomstedraende bate gebruik is om die pensioenfondse te finansier voordat dit gekanselleer is. Die skikking sal oor drie jaar sowat R3 miljard na pensioenarisse vloei wat grootliks die oorspronklike belofte sal akkommodeer. Kumulatief sal die bedrag aansienlik meer wees. Die skikking sou nie bekostig kon word as die pensioenfondse nie saamgesmelt word sodat lede se oorskot en Transnet se oorskot vrygestel kan word om die verhogings te betaal nie. Die pensioenfondse is vastevoordeelfondse, met voordele wat deur die fondsreëls bepaal en gewaarborg word.

Transnet se kommersiële bedrywighede het geen betrekking op die groepseis nie.

8. Hoe gaan die skikking die pensioen verbeter?

Tans is die gemiddelde pensioen per maand R2 681, teenoor R3 509 wat dit sou wees as verhogings van 70% van inflasie sedert 2003 betaal sou word.

Met die verhogings oor die volgende drie jaar ingevolge die skikking sal die pensioen verhoog tot R3 500 per maand, teenoor R3 852 as dit verhoog sou word soos per die oorspronklike belofte. Dit is sowat 91% daarvan.

9. Wat gebeur ná die eerste drie jaar?

Die pensioenfondse se verhogingsbeleid en reëls moet gewysig word om verhogings van hoër as 2% toe te laat onderhewig aan bekostigbaarheid. Die voorsitter van die nuwe saamgesmelte pensioenfonds sal onafhanklik wees, nie meer ’n Transnet-aanstelling nie. Tans word die fondse deur hul eie wetgewing gereguleer en nie ingevolge die Pensioenfondswet van 1956 nie. Daar word ernstig gekyk na die opsie om die fondse onder die Pensioenfondswet te laat resorteer.

10. Wat is die pad vorentoe?

Die regspan beoog om die finale skikking binne die volgende maand te finaliseer. Die kommersiële deel daarvan is reeds afgehandel. Waaroor daar nog onderhandel word is die verhogingsbeleid en reëlwysigings. Verteenwoordigers van Transnet, die pensioenfondse, en die twee eisers in die groepseis sal die skikking onderteken. Die minister van openbare ondernemings het nie ’n rol daarin nie.

Sodra die skikking onderteken is, word die regter wat die proses bestuur genader om ’n hofdatum toe te ken waar die partye die hof oor die skikking sal toespreek. ’n Aktuariële verslag sal voor die hof dien. Die hof sal versoek word om die skikking ’n hofbevel te maak as dit redelik en bekostigbaar bevind word. Daar is reeds ’n hofdatum vir die groepseis vir 7 Oktober vasgestel, en as ’n vroeër datum verkry word sal pensioenarisse ingelig word.

* Inligting van die webblad van die prokureursfirma Geyser & Coetzee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.