
Enoch Godongwana, baasbrein van die regering se idee van voorgeskrewe bates. Foto: Getty Images
“Dit gaan nie meer nodig wees nie,” sê Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, oor voorgeskrewe bates, maar die private sektor sal volgens hom moet wys hy sal vrywillig daarin belê.
Godongwana, wat homself die oorsprong van die idee van voorgeskrewe bates noem, het in ’n gesprek met Alexander Forbes bevestig die ANC meen die instelling van voorgeskrewe bates sal nie meer nodig wees nie.
“Uit die party se oogpunt is ek die een wat hierdie ding dryf,” sê Godongwana.
Hy reken nou dit is beter om aansporings te skep wat dit vir private beleggers, soos pensioenfondse, aantreklik maak om self te besluit om in die regering se infrastruktuurprojekte te belê.
Alexander Forbes sê Maandag in ’n verslag oor die gesprek wat onlangs plaasgevind het, hulle ondersteun die idee daarvan om beleggings eerder aantreklik te maak sodat pensioenfondse self kan besluit om daarin te belê.
Regulasie 28, wat in die visier van die ANC is, kan dalk steeds gewysig word om wel beleggings in infrastruktuur te vergemaklik en meer regstreeks te dryf, sê Godongwana.
Alexander Forbes is nie heeltemal teen so ’n wysiging gekant nie.
Pensioenfondse ‘kán belê in infrastruktuur’
Baie hang nou egter af van die sukses van pres. Cyril Ramaphosa se Volhoubare Infrastruktuurontwikkelingsimposium (Sids).
Godongwana sê dié enorme infrastruktuurprojek gaan honderd miljarde rand kos.
“Die private sektor moet dus fokus op hoe hy tot hierdie veldtog kan bydra, aangesien die suksesvolle insameling van finansiering die behoefte aan voorgeskrewe bates tot niet sal maak,” sê Alexander Forbes.
“Ons het egter besef dit is nie die ANC se bedoeling om ’n voorskriftelike beleid in te stel as daar ander kommersieel lewensvatbare bronne van fondse is om in die land se infrastruktuur en ontwikkelingsdoelwitte te belê nie.
“Daar is vasgestel dat groot internasionale beleggers wat ingevolge die Sids-inisiatief genader is, regsgebiede met beleggersvriendelike beleid sou soek, en dit sou strydig wees met ’n voorgeskrewe benadering.”
Die private sektor moet dus fokus op hoe hy tot hierdie veldtog kan bydra, aangesien die suksesvolle insameling van finansiering die behoefte aan voorgeskrewe bates tot niet sal maak.
Ingevolge regulasie 28 erken Alexander Forbes dat pensioenfondse aansienlik kan belê in infrastruktuur in verskillende bateklasse soos aandele en eiendom, lui die verslag.
Die uitdaging is nie die regulatoriese beperkings ingevolge regulasie 28 nie, maar eerder die aard van die meeste aftreefondse in Suid-Afrika wat gedefinieerde bydraers is en dus beperk word tot die feit dat dit wesenlik in nie-likiede bates belê.
Alexander Forbes meen daar moet baie aandag gegee word aan die skepping van likiede geleenthede vir pensioenfondse om in infrastruktuur te belê, en die bedryf is aangemoedig om kreatief te wees om hierdie inisiatiewe aan te dryf aangesien dit die risiko vir die instelling van voorgeskrewe bates sal verminder.
Alexander Forbes reken Sids-projekte, hetsy paaie of windplase, kan ’n uitstekende belegging vir pensioenfondse wees, mits die regering die regte aansporings skep.
“Een van die 50 projekte wat ingevolge die Sids-inisiatief bespreek is, is die bou van ’n ekstra brug by die Beitbrug-grenspos om die verkeersopeenhopings tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te verlig. Dit sal bydra tot die veiligheid van ons paaie en sal ’n lewensvatbare beleggingsopsie wees.”
Alexander Forbes reken Godongwana se uitlatings is bemoedigend en ’n welkome afwyking van die vorige debat waarin daar vasbeslotenheid was om voorgeskrewe bates as ’n reddingsboei vir die regering in te span.
“Ons standpunt was nog altyd dat dit nie ’n gebrek aan kapitaal vir investering in inisiatiewe was nie, maar eerder ’n gebrek aan beleggingsgeleenthede, insluitende likiede geleenthede.”