Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Vroeg aftree? Klink lekker, maar dis baie riskant

Sat vir die daaglikse pendel of is jou baas bloot ’n pyn in die nek? As jy 55 nader en jou werkgewer ’n opsie vir vroeë aftrede het, is die versoeking dalk groot om dit te benut, maar doen eers die somme, waarsku ’n kenner.

Dit is belangrik om vir jou aftrede te beplan, maar as jy wil vroeg aftree is die onus op jou om heeltemaal voorbereid te wees. Foto: iStock

Selfs staatsamptenare – wat ’n gewaarborgde pensioen kry met ’n gewaarborgde minimum verhoging elke jaar – moet twee keer dink voordat hulle vroeg aftree wanneer die staatsdiens dié aanbod doen aan mense ouer as 55 jaar.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Februarie se begrotingsrede gesê die staatsdiens gaan personeel verminder deur pakkette vir die nagenoeg 30 000 staatsamptenare in dié kategorie aan te bied, sonder dat hulle enige normale aftreevoordele verbeur.

Hul pensioen word egter bereken op grond van hul laaste salaris, wat beteken met vroeë aftrede verbeur hulle vyf tot tien jaar se verhogings, wat in die staatsdiens méér as inflasie beloop.

Die werklikheid is dat die meeste Suid-Afrikaners nie hul lewensgehalte in aftrede op dieselfde vlak kan hou as wanneer hulle werk nie, waarsku Tristan Naidoo van Old Mutual Persoonlike Finansies.

Net meer as 8% van lede van private pensioenfondse het genoeg geld gespaar om ’n volhoubare pensioen te voorsien wat nagenoeg 70% van hul laaste salaris verteenwoordig, volgens navorsing wat Old Mutual einde 2018 gedoen het.

Dis belangrik dat mense die somme doen of laat doen oor hoe vroeë aftrede hul toekoms gaan beïnvloed.

Twee belangrike dinge gebeur wanneer jy vroeër aftree:

  • 1. Jou beleggingshorison kom nader – met ander woorde daar is minder tyd oor om genoeg geld te spaar; en
  • 2. Die aantal jare ná aftrede word meer.

Jy het dus tegelykertyd minder aftreekapitaal en ’n langer tydperk waaroor dit gerek moet word.

“As jou aftreespaargeld genoeg is, kan vroeë aftrede ’n wonderlike geleentheid wees om ’n opwindende nuwe fase van jou lewe te betree. As jy in dié stadium van jou lewe die verkeerde besluit neem, kan dit ernstige gevolge hê,” maan Naidoo.

David Gluckmann, hoof van spesiale projekte van Sanlam Werknemervoordele, het ook onlangs gewaarsku Suid-Afrikaners moet anders begin dink oor hul aftreeouderdom. Teen 55 of selfs teen 65 het baie mense nog nie regtig lank genoeg tot ’n pensioenfonds bygedra om genoeg vir die res van hul lewe te hê nie – veral gegewe hoeveel langer mense deesdae leef.

Naidoo stel die volgende lysie voor waaraan jy kan meet of jy regtig kan bekostig om af te tree:

1. Doen die somme

Praat met ’n onafhanklike finansiële adviseur, wat vir jou die volgende somme kan doen:

  • Hoeveel aftreekapitaal het jy nodig, gegewe jou spesifieke omstandighede?
  • Is jy op koers met jou aftreebeplanning?
  • As daar ’n gaping is tussen wat jy het en wat jy nodig het, hoe kan jy dit toemaak?
  • Het jy toegang tot mediese sorg en dekking vir ernstige siektes?

2. Stel doelwitte

Naidoo sê mense moet ’n duidelike, realistiese prentjie probeer skets van wat hulle ná aftrede gaan doen. Dit sluit in groot besluite soos waar hulle wil woon en hoeveel maandelikse inkomste hulle nodig het.

3. Oorweeg jou opsies met beleggings

Benewens jou pensioenfonds en moontlik ’n aanvullende uittree-annuïteit, kan jy jou aftreespaargeld met belastingvrye beleggings of diskresionêre beleggings aanvul. Elkeen het sy eie voor- en nadele, maar dis belangrik dat jy alle opsies oorweeg.

4. Verstaan die belastingimplikasies

Dis belangrik dat jy sowel terwyl jy vir aftrede spaar as wanneer jy aftree die belastingimplikasies besef van alles wat jy doen.

5. Stel jou plan op en hou daarby

Selfs al het jy ’n bietjie te lank gewag om jou aftreespaargeld aan te vul, begin dadelik.

6. Hersien jou plan gereeld

Jy moet jou aftreeplan in aanloop tot jou aftrede minstens jaarliks hersien om te verseker jou beleggings is op koers, glo Naidoo. Jy moet ook jou finansiële adviseur inlig indien daar groot veranderinge in jou lewe is – soos as jy trou of skei of ’n nuwe werk begin. Dit kan alles ’n uitwerking op jou aftreeplan hê.

Naidoo waarsku daarteen dat mense hul aftreegeld vir ’n ander doel gebruik – of dit nou ’n eie onderneming, ’n oorsese reis of die afbetaal van skuld is.

“Dis noodsaaklik dat jy jouself herinner aan die doelwit waarvoor jy gespaar het – om in jou behoeftes te voorsien met aftrede. As ’n deel van daardie spaargeld bestee word aan iets waarvoor dit nie oorspronklik bedoel is nie, is dit belangrik dat jy steeds genoeg geld elders het wat met aftrede in jou behoefte kan voorsien.”

Meer oor:  Aftrede  |  Rentekoerse  |  Beleggings  |  Spaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1469,3 (614)
  • Top 40 52785,56 (-39862)
  • All Share 59102,67 (-44213)
  • Resource 10 47168,71 (-55190)
  • Financial and Industrial 30 78874,98 (-43661)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.