Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Wat is voorgeskrewe bates en hoe raak dit jou?

Die hele jaar al woed die debat oor voorgeskrewe bates sedert die ANC dit uitdruklik in sy verkiesingsmanifes genoem het. Maar wat presies is dit en hoe raak dit jou?

eiendom
Daar is baie oorwegings wanneer ’n mens vir jou aftree-eiendom be­plan. Foto: iSTOCK

   

Voorgeskrewe bates – wat beteken dit?

  

Dit verwys na die persentasie van aftreefondsgeld wat wetlik verplig word om in sekere staatsgoedgekeurde beleggingsinstrumente belê te word.

Dit is vir die eerste keer in 1956 in Suid-Afrika bekend gestel toe die Wet op Pensioenfondse van krag geword het. Destyds was die voorgeskrewe bates staatseffekte. Pensioenfondse is dus gedwing om ’n sekere persentasie van hul lede se geld in staatseffekte te belê. Dit is in effek ’n lening aan die staat met die belofte van die staat dat hy die bedrag later met goeie rente sal terugbetaal. Dit is dus nie noodwendig ’n slegte belegging nie. Destyds het die apartheidsregering die beleid benut om finansiering te bekom omdat hy weens sanksies nie meer internasionaal geld kon leen nie.

Die beleid is in 1989 geskrap, maar oor die grootste deel van dié tydperk moes pensioenfondse meer as die helfte van hul bates in Suid-Afrikaanse staatseffekte en effekte van staatsondernemings belê het.

Daar bestaan wel ook ’n mate van voorgeskrewe bates vir pensioenfondse, maar dis baie breed- en losweg gestipuleer. Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse skryf byvoorbeeld voor dat minstens 60% van pensioenfondse se geld in Suid-Afrikaanse bates moet wees, met ’n maksimum van 30% in die buiteland en 10% elders in Afrika.

  

Waar kom dit nou vandaan?

   

Die ANC het al in Desember 2017 op sy nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg verwys na voorgeskrewe bates, maar in sy verkiesingsmanifes vanjaar het hy dit vir die eerste keer in meer besonderhede uitgestippel dat hy aan pensioenfondse wil voorskryf waar hulle hul geld moet belê. Dit is om geld te kry om in werkskepping en in “maatskaplik produktiewe beleggings soos behuising, infrastruktuur vir maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en township-ekonomieë” te belê.

Dit het ’n groot geskarrel in batebestuurskringe ontketen.

  

Hoekom wil die ANC dit doen?

    

Namate Suid-Afrika se kredietwaardigheid deur kredietgraderingsagentskappe tot rommelstatus afgegradeer word, word dit al hoe duurder vir die nasionale tesourie om geld by banke – plaaslik en internasionaal – te leen vir die enorme ontwikkelingsbesteding wat die regering wil aangaan.

Hoe swakker jou beleggingsgradering, hoe groter die risiko vir die lener en hoe meer rente soek hy by jou. Dít terwyl die behoefte aan lenings ook toenemend groei weens die toenemende reddingsboeie aan sukkelende staatsondernemings soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Denel of die Suid-Afrikaanse Poskantoor. Die staat se skuldlas groei ook, want weens swak ekonomiese groei hou sy inkomste uit belastinginkomste nie by met sy groeiende uitgawes soos welsynstoelae en salarisse wat teen meer as inflasie styg nie.

Dit is makliker en goedkoper vir die regering om dus te put uit die groot poel van pensioenfondsgeld in die land. Die ANC redeneer die geld is daar om benut te word tot voordeel van die land, teen ’n laer koste as om by banke te leen. Die pensioenfondsgeld word ook beskou as ’n bron van goedkoop lenings sodat die regering nie by die Internasionale Monetêre Fonds hoef te gaan leen nie.

  

Wanneer kan dit realiseer?

   

Dit kan jare duur as die debat maar nou eers begin, want daar is nog geen amptelike groen- of witskrif van die regering daaroor nie. As dit wetgewing verg, sal dit ’n parlementêre proses, openbare deelname en onderhandeling in die Nedlac-forum behels.

Magnus Heystek van Brenthurst Wealth waarsku egter dit sal nie noodwendig so lank duur as dit bloot ’n wysiging aan ’n regulasie van die wetgewing behels nie.

Andrew Canter van Futuregrowth Asset Management het egter al gesê so ’n stap se grondwetlikheid kan betwis word omdat dit eiendomsreg aantas wat deur die handves van menseregte beskerm word.

Enige regstappe teen die regering se poging om voorgeskrewe bates amptelike beleid te maak, kan die proses verder vertraag.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Daily Sun

    

Kan dit positief wees?

   

Pres. Cyril Ramaphosa het in die parlement gesê ’n belegging in infrastruktuur kan goeie opbrengste lewer.

In beginsel is dit ’n edele idee om in projekte te belê wat tot voordeel van die gemeenskap is en wat onregstreeks tot ekonomiese groei en welvaart sal lei.

Sommige kenners meen voorgeskrewe bates moet in spesifieke, geteikende en omheinde effekte belê word wat projekspesifiek is, sodat die resultate gemeet, gemonitor en bestuur kan word.

  

Wat kan skeefloop?

    

Die vrese oral is dat die regering die geld wil gebruik as reddingsboei vir staatsondernemings, met rampspoedige gevolge vir opbrengste.

Maar volgens Old Mutual is dit onwaarskynlik. ’n Meer waarskynlike scenario is dat in infrastruktuur en behuising belê gaan word – iets wat sigbaar beter maatskaplik-ekonomiese resultate kan oplewer.

Dit sal nie sin maak om belastingverligting te bied vir aftreebeleggings en dan die beleggings te vermors nie.

Maar selfs as in ontwikkelingsprojekte belê moet word en dit lewer swakker as kommersiële opbrengste, vernietig dit welvaart. Buitelanders besit tot 47% van Suid-Afrika se staatseffekte. As hulle voel hulle word nie genoegsaam vergoed vir die risiko wat hulle neem nie, kan hulle besluit om hul effekte te verkoop.

  

Het dit elders of in die verlede gewerk?

   

In die 1960’s was Suid-Afrika se inflasie 3% en het voorgeskrewe bates ’n positiewe reële opbrengs gelewer, maar in die 1970’s was inflasie 11% en was die opbrengs op voorgeskrewe bates ’n negatiewe 4%. In dieselfde tyd het die aandelebeurs ’n opbrengs van meer as 24% per jaar gelewer.

Rusland het in 2013 voorgestel dat sy pensioenreserwes gebruik word om lenings van $43,5 miljard aan drie groot infrastruktuurprojekte en ander beleggings te gee. Dit sluit ’n snelweg om Moskou, ’n sneltrein tussen Moskou en Kazan en die modernisering van die Trans-Siberiese spoorlyn in. Maar Rusland se nasionale welvaartfonds wat sy pensioenfondse ondersteun het oorskotte wat hy wetlik kan gebruik vir sulke projekte.

  

Hoe kan dit die bedryf en die markte raak?

   

Verpligte bates skep kunsmatigheid in die markte. Pryse van bates word nie meer deur vraag en aanbod bepaal nie. Dit verwyder die motivering vir doeltreffende bestuur.

As pensioenfondse hul batetoewysings moet verander, het dit ’n impak op die pryse van die bates waarvan hulle onder dwang ontslae moet raak. Fondse sal dit stelselmatig wil doen om prysskokke te vermy.

  

Wat kan ek doen?

 

Die finansiële beplanner Andró Griessel van ProVérte Welvaart- en Risikobestuur waarsku dat mense koelkop moet bly oor hul pensioenfondsgeld en nie irrasioneel en oorhaastig moet optree nie.

Roekelose gedrag kan insluit om te bedank sodat jy jou hande op jou pensioenfondsgeld kan lê om dit buite die pensioenfondsregulering te belê.  

  

Hoe raak dit die pligte van die trustees van ’n pensioenfonds?

   

Die Wet op Pensioenfondse sê pensioenfondse het ’n fidusiêre plig om in die beste belang van hul lede op te tree. As hulle die hoogste moontlike opbrengs nastreef maar terselfdertyd verplig word om in bates te belê wat nie die beste opbrengs lewer nie, druis dit in teen huidige wetgewing en die pligte van trustees, en skep dit ’n baie moeilike situasie.

Bronne: Old Mutual, Netwerk24-argiewe, Helen Suzman Stigting, The Zimbabwe Herald, Sygnia

Meer oor:  Pensioen  |  Pensioengeld  |  Bates  |  Aftrede  |  Voorgeskrewe Bates
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.