Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
‘Wees waaksaam oor voorgeskrewe bates’
Die IRR is al meer as ’n jaar besig met ’n veldtog om batebestuursfirmas aktief betrokke te kry by die stryd téén voorgeskrewe bates. Foto: Pixabay

’n Langdurige bekgeveg oor voorgeskrewe bates het dié week uitgekring, met die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) wat die bedryfsliggaam vir batebestuursfirmas “naïef, onkundig of vals” noem.

Ter sprake is of die regering pensioenfondse wil dwing om in infrastruktuurprojekte te belê en of regulasie 28 van die Pensioenfondswet verander gaan word om dit teweeg te bring.

Die IRR is al meer as ’n jaar besig met ’n veldtog om batebestuursfirmas aktief betrokke te kry by die stryd téén voorgeskrewe bates. Asisa sê op sy beurt hy en die firmas wat hy verteenwoordig – onder meer Allan Gray, Coronation, Sanlam, Momentum en PSG – is inderdaad teen voorskrywing gekant, maar onderhandel wél met die regering oor die onderwerp en ook oor hoe beleggings in infrastruktuur aanlokliker gemaak kan word.

LEES OOK: Goeie beleggings in infrastruktuur ‘is nié geld mors’

Hermann Pretorius, adjunkbeleidshoof van die IRR, kap ’n verklaring wat Leon Campher, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), Dinsdag uitgereik het. Campher sê daarin dit lyk nie asof voorgeskrewe bates ’n dreigende gevaar is nie. Nóg vakbonde nóg die regering het voorgeskrewe bates deel van die oplossing gemaak in planne vir ekonomies herstel wat in die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) voorgelê is.

Pretorius sê pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Tito Mboweni, minister van finansies, het al almal oor voorgeskrewe bates gepraat. Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese beleid, het ook al gesê voorgeskrewe bates sal gebruik word in gevalle waar mense onwillig is om te belê.

Ramaphosa het Maandagaand gesê infrastruktuurprojekte moet “sekerder en aanlokliker” gemaak word sodat die trustees van pensioenfondse daarin wíl belê.

Pretorius sê egter dis duidelik dat die ideologiese, politieke en ekonomiese beperkinge waaronder die regering gebuk gaan, beteken hy kan nie sy pad uit finansiële probleme “belas, leen of besnoei” nie.

“Dit beteken die enigste oorblywende opsies is om geld te druk of bates te gryp.”

Pretorius sê die regering kan voorgeskrewe bates by die agterdeur indwing, byvoorbeeld deur die maksimum perk op buitelandse beleggings vir pensioenfondse (tans 35%) te verminder, asook die maksimum blootstelling aan aandele (tans 75%). “Deur dit te doen, word voorgeskrewe bates by die agterdeur in bekend gestel, aangesien staatseffekte eintlik die haalbaarste beleggingsbestemming sal bly.”

Pretorius sê hoewel Asisa aanvoer hy het al meer as ’n jaar gelede die IRR se vrae beantwoord oor wat die bedryf doen om voorgeskrewe bates te keer, moet Asisa toegee dat daar enorme verskille is tussen Julie 2019 en Oktober 2020 “in die geldsake van gewone Suid-Afrikaners, die ekonomie, die fiskale situasie, en in planne vir staatsbesteding”.

Hy trek te velde teen Asisa se pogings om met die regering te onderhandel oor hoe beleggings in infrastruktuur wel kan werk.

“Wanneer sal korporatiewe Suid-Afrika leer uit die mislukkings van die mynbou, wat probeer het om ’n openlik ideologiese regering tot pragmatiese beleid te paai, net om te sien hoe hy as ’n volhoubare sektor in die land agteruitgaan?

“Die beste tyd om ’n rampspoedige beleid te keer, is voordat dit in werking gestel word. Korporatiewe Suid-Afrika dring blykbaar daarop aan dat ons ’n benadering van ‘wag en kyk’ moet volg.

“Wel, ons het gewag en ons het gesien. Maar miskien belangriker, beleggers het ook gesien, en hul geld doen die praatwerk deur pad te gee.”

Pretorius sê die Asisa en die maatskappye wat hy verteenwoordig moet die spaargeld en pensioene van Suid-Afrikaners beskerm. Hulle word betaal om waaksaam te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.