Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
117 000 het dalk in Mirror Trading belê

Die moontlikheid is groot dat tot 117 000 beleggers in die ineengestorte beleggingskema van Mirror Trading International (MTI) belê het.

Beleggers in MTI moes met bitcoin belê. Foto: Getty Images

Volgens Brandon Topham, hoof van inspeksies en ondersoeke van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), is dit hoeveel unieke e-posadresse gevind is toe die klopjagte op die verskillende persele van MTI gedoen is.

Maar die vraag presies hoeveel beleggers daar was, sal uiteindelik deur die likwidateurs beantwoord word.

MTI is einde Desember onder voorlopige likwidasie geplaas en die likwidateurs is verlede week aangestel.

LEES OOK: Bitcoin-sage: MTI kry 4 voorlopige likwidateurs

Die likwidateurs sal ook vasstel presies hoeveel belê is. ’n Bedrag van R8 miljard is voorheen genoem.

Moneyweb het berig om deel te neem aan die beleggingskema moes lede bitcoins koop en dit oordra na ’n elektroniese beursie wat vermoedelik deur die baasbrein agter die skema, Johann Steynberg, uitvoerende hoof van MTI, beheer is.

Rapport het in Desember berig beleggers moes aansluitingsgeld van R1 500 betaal, wat in ’n beleggingspoel gestort is. Hulle is dan oortuig om bitcoins te koop en oor te dra na MTI, wat gespog het met ’n vreeslike “slim” rekenaar wat kunsmatige intelligensie gebruik het om met die geld te spekuleer en dan opbrengste van 10% per maand te lewer.

Dit is belangrik vir Suid-Afrikaners om te verstaan as jy aan ’n onwettige skema deelneem, dit nie bloot ’n geval is van so vinnig moontlik in en uit wees en dinge sal in orde wees nie. Deelname aan onwettige skemas en die werwing van mense om deel te neem kan jou ook in die moeilikheid laat beland, aangesien jy help om bedrog te pleeg en as ’n party daartoe beskou kan word.
Topham

Die bemarkingshoof, Cheri Marks, het voorheen aan Moneyweb gesê die maatskappy het 280 000 lede gehad.

In dieselfde berig is genoem dat die regsverteenwoordigers van MTI beleggers op 21 Desember per brief verwittig het dat Steynberg nie meer in die land is nie.

Die FSCA het vandeesweek gesê sy ondersoek is afgehandel en die verslag is aan die likwidateurs oorhandig.

Die FSCA oorweeg nou die strawwe en boetes teen die betrokke individue en ondernemings.

Topham sê die verslag is nog vertroulik.

“Die verslag word net openbaar gemaak wanneer ons administratiewe proses voltooi is en ons die besluite daaroor gepubliseer het. Dit is nog nie voltooi nie.”

Op die vraag teen hoeveel individue straf oorweeg word, sê Topham dié besluit is nog nie geneem nie. “Ons oorweeg nog in watter mate verskeie rolspelers finansiële advies verskaf het, indien enige.”

Topham sê MTI het na bewering ’n “ponzi-skema met elemente van ’n piramideskema” bedryf.

“Lede het ander – wat elemente is van ’n piramideskema – gewerf, waarvoor die maatskappy hulle klaarblyklik beloon het en dan is die bates wat belê is, gebruik om opbrengste aan die ‘beleggers’ te betaal.”

Mirror Trading
Die kennisgewing is in November afgeneem op die deur na 43 Pleinstraat op Stellenbosch. Die selfoonnommer is deur Netwerk24 doodgekrap omdat die persoon wie s'n dit is aanvoer dat hy nie meer daar werk nie.
Mirror Trading
Die bekende gebou in 43 Pleinstraat op Stellenbosch waar MTI skouers geskuur het met talle baie bekende batebestuursmaatskappye.
Mirror Trading
Mirror Trading het in die gebou in 43 Pleinstraat skouers geskuur met baie bekende batebestuurders van Suid-Afrika.

Dit is nie duidelik wanneer die skema begin is nie, want dit het ’n paar gedaantes gehad, maar die hoofskema “wat suksesvol was om groter getalle lede te werf”, het omstreeks Augustus 2019 begin.

Steynberg is volgens berigte van Polokwane.

Volgens Topham is die onderneming in Stellenbosch begin, maar omdat dit op die internet bedrywig was, was dit amper in geheel virtueel bedrywig.

Die FSCA sê hy verstaan die likwidateurs meen die opbrengste wat beleggers ontvang het, kan onwettig wees en dat hulle dit sal moet terugbetaal. Dit is omdat die hele operasie onwettig was ingevolge die insolvensie- en gemenereg in Suid-Afrika.

“Ingevolge die insolvensiereg kan sekere betalings en terugbetalings as regsongeldig verklaar word.

“Dit is belangrik vir Suid-Afrikaners om te verstaan as jy aan ’n onwettige skema deelneem, dit nie bloot ’n geval is van so vinnig moontlik in en uit wees en dinge sal in orde wees nie.

“Deelname aan onwettige skemas en die werwing van mense om deel te neem kan jou ook in die moeilikheid laat beland, aangesien jy help om bedrog te pleeg en as ’n party daartoe beskou kan word.”

Die FSCA sê beleggers wat geaffekteer is, moet die likwidateurs kontak.

Meer oor:  Mti  |  Mirror Trading International  |  Johann Steynberg  |  Beleggings  |  Bitcoin  |  Ponzi-Skema  |  Piramideskema  |  Bedrog  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.