Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
1ste kwartaal op beurs ’n bloedbad – en erger kom

Die “ergste kwartaal” in jare vir aandelebeurse weens paniek oor die koronavirus se impak, is agter die rug, maar die pyn vir beleggers is waarskynlik nog nie verby nie.

k
Die beermark is ongewoon, nie oor die omvang van die val nie, maar oor hoe vinnig en wisselvallig dit was. Foto: Pixabay

Dit is nog nie duidelik wat presies die impak van die pandemie, en die inperkingsmaatreëls wat nodig is om dit te beveg, op maatskappye gaan wees nie.

Luidens data van RisCura het die JSE se indeks van alle aandele in die kwartaal tot einde Maart met 21% geval, dié vir genoteerde eiendom met 48% en dié vir kleinhandelaars met 43%.

Die indeks van finansiële aandele het met 39% gedaal en dié vir hulpbronaandele met 25%.

Die portefeuljebestuurder Vestact sê in ’n nuusbrief die MSCI-indeks van wêreldaandele het ook met 21% geval – sy tweede ergste aangetekende kwartaal. Die grootste val was die een van 23% in die laaste kwartaal van 2008 toe die internasionale finansiële krisis begin het en daar wêreldwyd kommer was oor die potensiële ineenstorting van banke.

Financial Times berig Amerikaanse aandele op Wall Street het ook hul grootste kwartaallikse val sedert die finansiële krisis aangeteken. “Dit was die ergste kwartaal vir aandele in baie jare,” sê Chris Gaffney, president van wêreldmarkte by TIAA.

Aandelemark-indekse in Amerika het binne 16 dae van algehele hoogtepunte met 20% geval.

LEES OOK: Covid-19 en jou geld

Peter Oppenheimer, hoofaandelestrateeg van Goldman Sachs, sê dit is baie vinniger as die vorige rekordval tot ’n beermark, in 1929, wat 44 dae geneem het.

“Die beermark is ongewoon, nie oor die omvang van die val nie, maar oor hoe vinnig en wisselvallig dit was.”

Reuters berig dit was die ergste kwartaal vir die S&P 500-indeks in Amerika sedert die 1930’s te midde van toenemende tekens van die grootskaalse skade wat die ineenstorting van die olieprys en die val in sakebedrywighede weens die koronavirus in die kwartaal aangerig het.

Wanneer keer ons terug na normaal?

“Ons bestuur ons portefeuljes al sedert 1974 deur talle krisisse in die markte. Oor die afgelope 20 jaar staan die dotcom-ineenstorting in 2001 en 2002, die internasionale finansiële krisis van 2008 en Nenegate in Desember 2015 (toe oudpres. Jacob Zuma vir Nhlanhla Nene, oudminister van finansies, uit die bloute afgedank het) uit.

Die spoed van die huidige val in die markte is vergelykbaar met die Groot Depressie van 1929 en dus ongekend in ons leeftyd.
Duncan Artus van Allan Gray

“Die spoed van die huidige val in die markte is egter vergelykbaar met die Groot Depressie van 1929 en dus ongekend in ons leeftyd,” sê Duncan Artus, portefeuljebestuurder van Allan Gray, in ’n nuusbrief.

“Die groot vraag vir beleggers tans is of dinge gaan terugkeer na normaal aan die einde van hierdie kwartaal,” sê Vestact.

Die Europese Sentrale Bank het Europese banke gevra om hul dividende te kanselleer in ’n poging om hulle te versterk en sodat hulle kontant kan bewaar.

“Ons het plaaslik ook begin sien maatskappye kanselleer hul dividende.”

Paul Theron, ’n portefeuljebestuurder van Vestact, sê aandele-ontleders probeer nou maatskappywinste in die staat van inperking voorspel.

“Dit is belangrik om te bepaal op watter vlakke aandelepryse moet wees. Dit raak effens duideliker hoe maatskappye se verkope geraak gaan word en die graad waarmee hul verskaffingskettings deur die internasionale produksieprobleme geraak word.”

Dieselfde of erger as 2008

Ricco Friedrich, portefeuljebestuurder van Denker Capital, sê ekonomiese groei en winste gaan ongetwyfeld onder druk kom in die komende jaar.

“Gedurende die internasionale finansiële krisis van 2008 het winste op die JSE met 29% geval, wat wesenlik meer was as enige ander tydperk die afgelope 50 jaar. Ons vermoed 2020 gaan dieselfde wees, of erger.

“Aandele het ’n wilde rit gehad en dit is nie verbasend dat beleggers nie weet wat hulle moet doen nie,” het Jonathan Golub, Amerikaanse aandelestrateeg van Credit Suisse in New York, aan Reuters gesê.

LEES OOK: Bly belê in mark, al is dit onseker

Ongekende aansporings vir die ekonomie en markte het aandelemarkte verlede week effens laat stabiliseer.

Die val in die S&P 500-indeks het meer as $5 000 miljard van die markwaarde op die indeks uitgewis in die eerste kwartaal.

Beleggers vrees dat maatskappye nie lenings sal kan terugbetaal nie en dat nog afleggings kom.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê hulle verwag dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar met 2,7% gaan krimp.

“Suid-Afrika se resessie gaan na verwagting groter wees as met die finansiële krisis ’n dekade gelede.

“Die onsekerheid is nog groot oor wanneer die virus onder beheer gaan wees en vir hoe lank die internasionale ekonomie benadeel gaan word.

“Hoewel ondersteuningsmaatreëls internasionaal baie wesenlik is, en ’n mate van stabilisering na finansiële markte gebring het, gaan die inperking negatiewe gevolge hê vir inkomste, poste en produksie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Markte  |  Beleggings  |  Covid-19  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.