Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
2021 dalk nie goud se beste jaar

Die goudprys gaan waarskynlik weer vanjaar styg, maar nie soveel as in 2020 nie, raam die Wêreldgoudraad.

Die Wêreldgoudraad sê die goudprys gaan nie vanjaar ligte uitskiet nie, maar kan minder wisselvallig wees as aandeelpryse.

Die raad maak dit in ’n vooruitskouing oor 2021 duidelik hoe moeilik dit is om goud se prestasie te voorspel in die lig van die onsekerheid wat nog oor die Covid-19-pandemie heers. Die einste onsekerheid kan egter die goudprys aanhelp.

In 2020 het die goudprys in dollar met 24,6% gestyg en in rand met 30,9%, volgens die Wêreldgoudraad. Die rekordprys van $2 067 per fynons is op 6 Augustus behaal, en goud het die jaar op $1 888 per fynons gesluit.

Volgens die raad lyk dit asof baie beleggers einde 2020 gereken het die ergste van die pandemie is oor, aangevuur deur hoop oor entstowwe wat nou uitgereik word. Die optimisme het beleggings in riskante (oftewel meer wisselvallige) bateklasse soos aandele aangevuur, wat teen goud – as ’n sogenaamde veiligehawebate – tel.

Daar is egter baie beleggers wat steeds in goud belê uit vrees dat die markborrel gaan bars.

Boonop het die nuus oor die nuwe variant van die virus wat Covid-19 veroorsaak, een wat baie vinniger versprei, markte weer opnuut versigtig gemaak, wat die goudprys kan aanhelp.

Die vraag na fisieke goud gaan ook na verwagting in 2021 styg danksy sneller ekonomiese groei, veral in ontluikende lande.

k

In Indië, een van die lande waar verbruikers die meeste goud aankoop, was verkope in aanloop tot die Dhanteras-fees in November stewig. Dit wys die vraag na juweliersware het baie herstel van die laagtepunte in die tweede kwartaal. Dis egter steeds ondergemiddeld, volgens die raad.

Dhanteras is die eerste dag van die vyfdaagse Diwali-liggiesfees.

In China is daar tradisioneel ’n verband tussen sterk ekonomiese groei, wat vanjaar verwag word, en die verkope van goue juweliersware.

Die raad wys egter op gedempte vraag na goue juweliersware in ander dele van die wêreld weens voortslepende swak ekonomiese groei.

Wat sentrale banke betref, is die prentjie nie so fantasties vir die goudprys nie. Ná baie jare waarin goudaankope deur sentrale banke net gestyg het, was daar in die tweede helfte van 2020 sommige maande waarin netto verkope hoër was. Die grootste rede daarvoor is omdat die sentrale bank van Rusland sy koopprogram in April gestaak het.

Vir die jaar as geheel was sentrale banke wel netto kopers van goud, maar heelwat minder as in 2018 en 2019.

Wêreldwye lae rentekoerse maak beleggings in goud ook redelik aanloklik, volgens die raad.

Meer oor:  Goud  |  Goudprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.