Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Aandele: Húlle was onluste se grootste verloorders

Die onluste verlede week het ’n groot impak op sekere plaaslike aandele gehad, maar wie was die grootste verloorders?

Skade aan ’n Game-winkel nadat die Jabulani-inkopiesentrum in Soweto geplunder is. Game is deel van Massmart. Foto: Tebogo Letsie

Die JSE se indeks van alle aandele het in der waarheid met 0,2% gestyg oor die week omdat Naspers, die swaargewig op die beurs, met 8% gestyg het en die dalings in ander sektore teengewerk het.

Volgens Peter Armitage, uitvoerende hoof van Anchor Capital, het die mark nie ’n refleksreaksie gehad op die gebeure verlede week nie. Net die aandeelpryse van baie spesifieke maatskappye het gedaal.

“Net sowat 40% van die JSE behels maatskappye wie se grootste blootstelling aan die Suid-Afrikaanse mark is, met die res wat niks met die (plaaslike) ekonomie te doen het nie,” sê hy.

Banke en sommige winkelgroepe het onder druk gekom omdat die vooruitsig vir die plaaslike ekonomie versleg het.

Armitage sê gemiddeld sowat 5% van kleinhandelaars se winkels is geraak.

“As 5% van winkels vir ’n paar maande van die jaar geraak word, is dit negatief, maar dis nie ’n enorme syfer nie.”

Die grootste dalings was in die aandeelpryse van Massmart en die eiendomsmaatskappye Arrowhead en Vukile, wie se aandeelpryse elk met 11% gedaal het. Die Investec Property Fund se aandeelprys het met 10% gedaal en Standard Bank s’n met 8%.

LEES OOK: Só lyk genoteerde firmas se skade

Van Massmart se verspreidingsentrums is afgebrand en dus het die onluste ’n groter impak op dié winkelgroep as op ander gehad.

“Al die maatskappye wat geraak is, sê hulle is verseker en dus sal die verlies deur Sasria gedek word.”

Die impak op eiendomsmaatskappye was redelik spesifiek en in geheel negatief.

“Diegene met ’n groot blootstelling aan townships en plattelandse gebiede, soos Arrowhead en Vukile, het met sowat 10% gedaal terwyl die aandeelpryse van buitelandse eiendomsgroepe net effens gedaal het.

“Die markwaarde van sekere maatskappye het dus gedaal, maar die langtermynimpak gaan dalk gevoel word deur laer groei in die bruto binnelandse produk (BBP) en negatiewe beleggersentiment.”

Die genoteerde eiendomsektor het verlede week met 5% gedaal. Growthpoint, Redefine en Resilient het elk met 7% gedaal en Hyprop met 6%.

Onder die klerewinkelgroepe het die Mr Price-groep met 6%; Pepkor met 7%; The Foschini Group (TFG) met byna 4%; Truworths met 3% en Woolworths met 3,5% gedaal.

Pick n Pay en die Spar-groep het elk met 2% gedaal.

Banke se dalings oor die week was: Nedbank 7%; Absa en die FirstRand-groep 5%; en Capitec 4%.

Bidvest het met 6% gedaal.

Izak Odendaal en Dave Mohr, Old Mutual Wealth se beleggingstrateë, sê die rand is die land se finansiële drukklep en het in die week met 2% teenoor die dollar verswak.

Buitelandse beleggers is meer geneig om Suid-Afrikaanse aandele, staatseffekte en die geldeenheid te verkoop as hulle bekommerd is oor wêreldwye ekonomiese groei as in reaksie op gebeure ter plaatse.

“Nie plaaslike of buitelandse beleggers hou van tonele van anargie nie, maar as dit van korte duur is, sal dit waarskynlik nie as ’n dramatiese gebeurtenis in die konteks van die geldeenheid se geskiedenis gereken word nie.”

Só het Bloemfontein se strate in die onlangse onluste gebrand. Foto: Mlungisi Louw
’n Pakhuis in Durban wat aan die brand gesteek is. Foto: Reuters

Buitelanders is ook meer geneig om deur beleggingsportefeuljes staatseffekte en aandele te koop wat hulle vinnig kan koop en verkoop danksy Suid-Afrika se gesofistikeerde finansiële markte as om ondernemings te koop wat hulle moet bedryf. Portefeuljebeleggers het ’n korter geheue en reageer meestal op internasionale finansiële nuus.

“Buitelandse beleggers in opkomende markte aanvaar dat daar minder maatskaplike stabiliteit en swakker staatsbeheer is as in ontwikkelde markte. Uiteindelik word dit ingebou in die waardasies van aandele en die hoër opbrengste wat verwag word.”

Boonop is gewelddadige betogings nie uniek aan Suid-Afrika nie. Volgens die jongste Global Peace-indeks het die aantal onluste, stakings en betogings teen regerings wêreldwyd die afgelope dekade met 244% gestyg. Die frustrasies en lyding wat die inperkings weens die koronaviruspandemie veroorsaak het, het olie op die vuur gegooi.

Odendaal-hulle sê ’n refleksreaksie sal wees om Suid-Afrikaanse bates heeltemal te verkoop en die geld na die buiteland te neem.

“Onthou egter dat plaaslike bates al baie slegte nuus ingeprys het, dus is daar ’n verbasend klein markreaksie op hierdie gebeure.”

Meer oor:  Growthpoint  |  Jse  |  Massmart  |  Onluste  |  Beleggings  |  Kzn-Herstel  |  Beurs  |  Aandeelpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.