Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
‘Aandele is nie alles nie’

Suid-Afrikaners is obsessief om in aandele te belê, maar dis tyd dat beleggers dié diepgewortelde vooroordeel uitdaag, sê Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib.

aandele
Suid-Afrikaannse belegger is dalk nog te behep met aandele. Foto: Pixabay

Hy het Dinsdag op die Allan Gray-beleggingsberaad in Johannesburg gesê min lande se burgers is so lief vir aandelebeleggings soos Suid-Afrikaners. Die reuseaandeletoewysings in die meeste beleggers se portefeuljes is nie die wêreldnorm nie.

Suid-Afrikaners, van wie baie deur aftreefondsregulasies gedwing word om plaaslik te belê, stort so baie geld in die JSE dat die markkapitalisasie 236% van ons bruto binnelandse produk is – die hoogste ter wêreld.

Lings sê buitelandse beleggers vermy tans Suid-Afrikaanse aandele soos die meeste ander ontwikkelende lande s’n, maar koop graag ons regering- en korporatiewe skuld.

“Waarom belê ons nie in ons eie effekte nie?” ’n Nominale opbrengs van 9% bied steeds ’n “skaflike” 4% reële opbrengs, voer hy aan.

“Suid-Afrika is (op langer termyn) absoluut die risiko werd,” sê Lings. “Ons is te streng met onsself soos wat ons op ons sportspanne is. Ons moenie onsself vergelyk met Amerika nie, maar met ander ontwikkelende lande.”

4 wenke

Beleggers moet nou op vier dinge fokus:

1. Heroorweeg die bateklasse waarin ons belê.

2. Wees realisties oor ekonomiese herstel. “Die skade (van die afgelope nege jaar) is fenomenaal. Die land het R3 800 miljard se bykomende skuld aangegaan sedert 2010. En wat het ons om daarvoor te wys?” Lings meen oor tien jaar sal die ekonomiese groei steeds net 3% wees.

3. Beleggers sal harder moet werk om goeie beleggings te soek. Nie alle sektore vaar ewe sleg nie. As voorbeeld sê hy mynbou se bydrae tot die BBP het nie drasties afgeneem nie en die sektor het nie in duie gestort nie, maar dis hoofsaaklik die goudbedryf wat swaar kry. Suid-Afrika vaar pateties met vervaardiging in vergelyking met ander ontwikkelende lande. “Maar ons is nogal goed met kosproduksie en -verwerking.”

4. Geografiese diversifikasie is belangrik. Die wêreld se groeikoers is 3% en Suid-Afrika s’n minder as 1%. Die plaaslike ekonomie maak 0,4% van die wêreld se ekonomie uit én dit word kleiner. “Dit beteken nie jy verlaat of versaak die land nie,” sê hy.

Winskopies?

Duncan Artus, portefeuljebestuurder van Allan Gray, het beleggers gewaarsku dat hulle waarskynlik nie dieselfde oplewing in die Suid-Afrikaanse aandelemark moet verwag as wat in 2002 gebeur het nie.

aandele

Tussen 2001 en 2002 het die JSE skerp teruggetrek en die rand het 63% van sy waarde verloor. Dapper beleggers het tóé belê en reuseopbrengste in latere jare verdien.

Dit is aanloklik om te dink die huidige insinking bied dieselfde geleentheid, sê Artus, maar dis onwaarskynlik.

Anders as in die vroeë 2000’s het die regering nie ammunisie in die staatskas om die loonrekening of maatskaplike toelaes te verhoog nie, sê hy. Maatskaplike toelaes was R140 miljard in 2001 en dit het opgeskiet tot R840 miljard in 2018, maar dit kan nie weer gebeur nie.

Waardasies op die aandelemark is ook aansienlik hoër as wat dit in die vroeë 2000’s was.

Volgens Artus soek Allan Gray na aantreklike beleggings, maar hulle sien net nie tans ’n algemene groot koopgeleentheid op die JSE nie. Daar is wel versteekte geleenthede. In sommige fondse verhoog Allan Gray dus tans plaaslike aandeelhouding deur dié waardeaandele te koop.

Van die plaaslike koopgeleenthede volgens Allan Gray se mening is Woolworths, wie se aandeelprys met meer as die helfte gedaal het weens hul katastrofiese aankope van David Jones in Australië. Hulle hou ook ’n oog op Pepkor Holdings, Sun International en Tsogo.

Genoteerde eiendom

Spesialisbestuurders in genoteerde eiendom was ewe versigtig in hul boodskap. Kundayi Munzara van Sesfikile het gesê daar is wel geleenthede in dié sektor en veral in nywerheidseiendom, maar kleinhandelportefeuljes en kantoorportefeuljes kry baie swaar. Sesfikile glo wel baie van dié sektor se probleme is besig om te verbeter.

“Sal ek my plaas verwed op genoteerde eiendom? Nee, ek is ’n redelike beer oor die eiendomsmark.

“En ek is van Zimbabwe, so ek dink nie ek is die regte een om te praat oor plase nie. Ek het nie ’n plaas nie.”

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.