Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
AfriForum se Gerrie Nel eis hulp vir Sharemax-beleggers

Agt jaar is lank genoeg: Dis nou tyd dat stappe gedoen word om geregtigheid vir die eiendomsindikasie Sharemax se beleggers te probeer kry, sê adv. Gerrie Nel.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Foto: Deaan Vivier

Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het Maandag op ’n nuuskonferensie gesê die burgerregteorganisasie wil die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bystaan en het daarom ’n bewaringsbevel opgestel. Dié bevel kan gebruik word as grondslag vir ’n hofaansoek deur die NVG.

Die bewaringsbevel is daarop gemik om te keer dat Nova, die eiendomsmaatskappy wat die bates van Sharemax oorgeneem het, voortgaan om eiendomme onder hul markwaarde te verkoop.

“Dit blyk ook dat Nova besig is om van geboue ontslae te raak in ’n poging om likwidasie te vermy – ten spyte van die verdere reuse- finansiële verliese wat dit vir aandeelhouers kan inhou. Die Nova-direksie se optrede is gewetenloos en daarom was ons genoodsaak om hierdie aansoek op te stel en vir die NVG te stuur om te verhoed dat aandeelhouers verdere verliese ly.”

Ingevolge die bevel sal ’n kurator aangestel moet word wat die eiendom tot voordeel van aandeelhouers – onder meer die voormalige Sharemax-beleggers – moet verkoop.

Nagenoeg 34 000 beleggers het R4,5 miljard in Sharemax belê. Baie van hulle was bejaardes wat baie of selfs al hul aftreegeld belê het.

Die Reserwebank het volgens Nel reeds in 2010 gesê die Sharemax-eiendomsindikasie is onregmatig omdat dit glo die Bankwet oortree het. Die Reserwebank het in 2012 ’n klag by die polisie ingedien. Niks het egter daarvan gekom nie.

“Daar is mense wat tronk toe moet gaan, maar daar is geen beweging in die saak nie,” sê Nel.

Hy sê daar is by die NVG ’n “onvermoë of onwilligheid om mense te vervolg”.

Nel het herhaaldelik verwys na die inhegtenisneming verlede week van agt mense vir die beweerde plundery by die VBS Mutual Bank. Dié hofsaak begin net drie jaar sedert VBS in duie gestort het.

Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, het met die aankondiging van die VBS-inhegtenisnemings gesê geregtigheid moet geskied vir die bejaardes wat hul swaarverdiende geld en lewenslange spaargeld in VBS Mutual verloor het. Nel sê dieselfde moet vir Sharemax-beleggers geld.

Minstens twee bejaardes het hul eie lewe geneem toe Sharemax in duie gestort het. Een was ’n diabeet wat ’n oordosis insulien geneem het, het Herman Lombaard, wat Sharemax-beleggers verteenwoordig, gesê. Sy naam is nie bekend gemaak nie.

Die ander was Bohuslav Kautsky, wat in 2013 sy eie lewe geneem het deur homself buite die sindikasie se hoofkantoor in Waterkloofhoogte, Pretoria, te skiet. Hy het R770 000 in The Villa, ’n winkelsentrum wat in Pretoria-Oos gebou sou word, belê. The Villa is nooit voltooi nie.

Iva Kautsky, sy dogter, sê toe sy uitgevind het van haar pa se belegging en navorsing oor Sharemax begin doen het, was sy verstom oor hoeveel soortgelyke gevalle daar was. Sy sê dis frustrerend dat niemand ’n stokkie daarvoor steek nie.

Honderde beleggers is ook reeds aan natuurlike oorsake dood.

Nel sê die bewaringsaansoek berus op die beginsel dat Nova die Sharemax-eiendomme onregmatig bekom het omdat dit die opbrengs van ’n misdaad was. Baie van Nova se direkteure was ook by Sharemax betrokke.

Hy sê individue moet aanspreeklik gehou word vir wat by Sharemax gebeur het. Hy het verwys na Willie Botha, voormalige uitvoerende hoof van Sharemax, “wat in luukse leef” terwyl baie beleggers krepeer. Tydens die regstreekse Facebook-uitsending van die nuuskonferensie het baie beleggers daarna verwys dat hulle op staatstoelae probeer oorleef.

Botha se broer, Durand Botha, was die stigter van nog ’n mislukte eiendomsindikasie, Highveld Syndications, later bekend as PIC, Picvest en Pickvest. Hy het dit later aan die Bloemfonteinse sakeman Nicolas Georgiou verkoop. Picvest-beleggers wag, nes Sharemax-beleggers, op geregtigheid. Meer as 18 000 beleggers het nagenoeg R4,6 miljard in dié sindikasies verloor.

André Prakke, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat reeds in 2007 ’n omvattende verslag opgestel het oor die twyfelagtige praktyke wat by Sharemax gepleeg is, gee toe dat Nova waarskynlik insolvent is. Dit impliseer dat beleggers weinig van hul oorspronklike beleggings sal terugkry, selfs indien vervolging ingestel word.

Vantevore is berig dat Nova-direkteure aan hulself vergoeding van R3,61 miljoen toegeken het, terwyl die bedryfstandaard vir direkteure R1,46 miljoen was. In 2015 het salarisse 11% van Nova se bedryfskoste beloop, ’n baie hoë persentasie.

Nel het ook verwys na wat lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade (die Valke), met die VBS-inhegtenisnemings gesê het, naamlik dat Suid-Afrikaners geregtig is op gehaltediens. “Sharemax-beleggers kry nié gehaltediens nie.”

Lombaard sê die regstelsel faal bejaardes deur nie oortreders vas te trek nie. “Voorsiening wat hulle vir hul aftrede gemaak het, is in ’n rommelterrein omskep.”

Prakke het ook gesê dele van die klagstaat van VBS kan basies net so dien as die klagstaat vir Sharemax omdat geld op ’n soortgelyke manier verdwyn het.

Die wette wat AfriForum aanvoer by Sharemax oortree het, sluit in:

  • Geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad;
  • Oortredings van die Bankwet; en
  • Die Maatskappywet.
Meer oor:  Afriforum  |  Sharemax  |  Gerrie Nel  |  Beleggings  |  Eiendom  |  Bedrog  |  Eiendomsindikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.