Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Al hoe meer beleggers wil in etiese firmas belê

Beleggers wat gewetensbesware het om by sekere maatskappye te belê wie se praktyke nie strook met hul persoonlike beginsels nie, sal binnekort ’n groter keuse hê oor waar hulle hul geld kan investeer.

Rob Lewenson van Old Mutual Investment Group.

Wêreldwyd, maar ook in Suid-Afrika, begin beleggers daarop aandring dat fondsbestuurders beleggingskeuses uitoefen wat voldoen aan die sogenaamde omgewings-, maatskaplike en goeie bestuursvereistes (ESG-verantwoordelikhede).

ESG-beleggingsbeginsels beteken dat geld belê word in fondse waarvan die onderliggende maatskappye omgewingsvriendelik is deurdat hulle geen of ’n lae koolstofdioksied-spoor het, of selfs fondse wat mense- en diereregte eerbiedig.

In Januarie vanjaar het die beleggingsmaatskappy Beyond Fund Advisors byvoorbeeld die Vegan Climate- beursverhandelde fonds van stapel gestuur, wat op die New Yorkse aandelebeurs genoteer is. Die fonds sluit maatskappye uit wat hulle skuldig maak aan diere- en menseregtevergrype en sakepraktyke wat skadelik is vir die omgewing.

Rob Lewenson, hoof van Old Mutual Beleggings se afdeling vir eties-verantwoordbaarheid, sê die neiging om eties te belê – wat geruime tyd terug reeds onder internasionale beleggers posgevat het – het oorgespoel na Suid-Afrika, waar daar byvoorbeeld ’n vloedgolf van versoeke is vir ’n indeks bestaande uit maatskappye wat omgewingsvriendelik is.

“Old Mutual sal binnekort sy eie beleggingsproduk bekend stel wat in maatskappye sal belê wat óf geen óf ’n baie laer CO2-voetspoor het. Kleinhandelbeleggers sal hierin kan belê deur middel van ’n effektetrust.”

Navorsing wys maatskappye wat aan die sogenaamde ESG-beginsels voldoen, is meer mededingend, lewer beter opbrengste en is beter daartoe in staat om risiko’s die hoof te bied, omdat hulle die groter prentjie sien.
Rob Lewenson van Old Mutual

Lewenson sê dit is ’n wanopvatting dat beleggings in eties-bewuste maatskappye laer opbrengste lewer en minder winsgewend is.

“Beleggers wat eties belê, boet nie opbrengste in nie. Navorsing wys maatskappye wat aan die sogenaamde ESG-beginsels voldoen, is meer mededingend, lewer beter opbrengste en is beter daartoe in staat om risiko’s die hoof te bied, omdat hulle die groter prentjie sien.”

Reuben Beelders, portefeuljebestuurder by Gryphon Batebestuur, stem saam. “Maatskappye wat nié aan ESG-beginsels voldoen nie, kan opbrengste negatief beïnvloed, omdat beleggers die risiko’s verbonde aan sulke praktyke wil vermy.”

Lewenson sê dit sal nog ’n ruk duur voordat unieke en pasgemaakte indekse soos dié in die VSA wat ’n veganistiese leefstyl ondersteun, in Suid-Afrika die lig sal sien.

’n Argieffoto van Kaapstad se Klimaatslim-paviljoen tydens die COP17-klimaatberaad in Durban. Foto: Kopano Tlape

“Maar beleggers het definitief ’n kopskuif gemaak – groot opbrengste tot elke prys is lankal nie meer die enigste oorweging nie. Individuele beleggers – selfs welvarendes – vra dat fondsbestuurders etiese keuses uitoefen. Dit sluit in dat ons by maatskappye se jaarvergaderings byvoorbeeld vir besluite stem wat ten gunste van die omgewing is en wat klimaatsverandering teenwerk.”

’n Groot uitdaging wat Suid-Afrikaanse fondsbestuurders tans het, is om maatskappye te eien wat die groen-ekonomie ondersteun.

Die meeste Suid-Afrikaanse maatskappye wat op die JSE genoteer is, het ’n swaar koolstofdioksiedspoor en as hulle van beleggings uitgesluit word, sal dit beteken daar sal nie voldoen word aan die beleggings- en opbrengsmaatstaf nie.

Dit is egter nie onoorbrugbaar nie, en Old Mutual beywer hom aktief om ’n produk te ontwikkel wat aan sowel ESG-beginsels as die opbrengsmaatstawwe sal voldoen.

Meer oor:  Old Mutual  |  Beleggings  |  Etfs  |  Effektetrustfondse  |  Beursverhandelde Produkte  |  Etf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.