Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
R2,6 mjd. van rand-handelaar bewaar ná likwidasie
JP Markets het meer as 300 000 kliënte waarvan 20 000 op enige gegewe tyd in die week besig is met transaksies en dat hy meer as R1 miljard in drie maande uitbetaal het op transaksies. Foto: Argief

Amper R2,6 miljard van die aanlyn valutahandelaar JP Markets SA is in bewaring in talle bankrekeninge nadat dié maatskappy finaal gelikwideer is.

Die aansoek om JP Markets te likwideer, wat deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gebring is, is verlede week toegestaan.

Dit is die eerste keer dat die magte van die FSCA ingevolge art. 38B van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) gebruik is. Dié artikel laat die FSCA toe om ’n likwidasie-aansoek te bring indien dit in die belang van die kliënte van ’n finansiëlediensteverskaffer beskou word.

Die FSCA sê hy sal saam met die likwidateurs werk om alles in sy vermoë te doen dat JP Markets se kliënte soveel moontlik van hul geld terugkry.

Die ingryping het verseker dat R2,58 miljard in talle bankrekeninge bewaar is.

Darren Hanekom, regsverteenwoordiger van JP Markets van Hanekom Attorneys, sê ’n aansoek om verlof tot appèl is Maandag gebring.

Die FSCA het aangevoer JP Markets is ’n verskaffer van ongenoteerde afgeleide instrumente wat oor die toonbank (OTC) verhandel is en dat hy ’n lisensie daarvoor ingevolge die Wet op Finansiële Markte moes hê.

Waarnemende regter Barry Gilbert van die hooggeregshof in Johannesburg het saam met die FSCA gestem en die aansoek toegestaan.

Die FSCA sê hy sal saam met die likwidateurs werk om alles in sy vermoë te doen dat JP Markets se kliënte soveel moontlik van hul geld terugkry.

JP Markets is gemagtig as ’n finansiëlediensteverskaffer (FSP) ingevolge Fais. Die onderneming het ’n lisensie gehad om advies en tussengangerdienste te lewer ten opsigte van afgeleide instrumente en deposito’s te neem soos dit deur die Bankwet omskryf word.

Die onderneming was egter nie geregistreer ingevolge die Wet op Finansiële Markte om as verskaffer of uitreiker van afgeleide instrumente bedrywig te wees nie.

JP Markets se enigste direkteur en aandeelhouer is Justin Paulsen, ook die uitvoerende hoof en sleutelpersoon.

Elke finansiëlediensteverskaffer moet ingevolge Fais ’n sleutelpersoon hê.

JP Markets het dit betwis dat hy ingevolge die Wet op Finansiële Markte as ’n verskaffer van oor-die-toonbank- afgeleide instrumente gemagtig moet wees.

Die regulasies wat verskaffers van die produkte beheer, is in Februarie 2018 gepubliseer, maar hulle het tot 14 Junie 2019 tyd gekry om hul aansoeke te bring om lisensies te kry.

Gilbert het in sy uitspraak gesê die mark speel ’n beduidende rol in die finansiële markte en ekonomie. Die twee algemeenste afgeleide instrumente hou met rentekoerse en geldeenhede verband.

JP Markets het verskilkontrakte verkoop.

Verskilkontrakte is finansiële produkte wat die belegger in staat stel om ’n blootstelling te koop aan ’n spesifieke onderliggende produk (soos ’n aandeel, hulpbron of buitelandse valuta). Die belegger koop nie die werklike onderliggende produk nie en word nie die eienaar van die produk nie.

Die belegger sluit ’n kontrak met die uitreiker van die verskilkontrak. Die verskilkontrak bepaal as die onderliggende bateprys in die mark verhoog, sal ’n wins gemaak word op die transaksie wat gelyk is aan die verhoging in die prys van die dag wat die produk gekoop is tot die dag van die afsluiting van die transaksie. Wanneer die onderliggende bate se prys in die mark daal, gaan die belegger in ’n verlies in en die uitreiker maak ’n wins.

Omdat verskilkontrakte ongenoteerde produkte is, word hulle nie op finansiële markte verhandel nie, maar uitgereik deur die uitreiker en opgeneem deur die kliënt of belegger.

Die uitreikers van verskilkontrakte was tradisioneel instellings soos banke wat finansieel sterk is. Wanneer ’n verskilkontrak uitgereik is, het die bank sy posisie verskans, sodat hy beskerm is as die mark ten gunste van die belegger beweeg. Dit het die uitreiker beskerm teen groot verliese.

Om ’n uitreiker van verskilkontrakte te wees, vereis aansienlike finansies en ingewikkelde verskansing- en risikobestuursprosesse, het Gilbert gesê. Die FSCA het in sy hofstukke gesê die afgelope tyd is talle gevalle gekry van gewetenlose ondernemings wat afgeleide instrumente uitreik sonder die middele of vermoë om dit te doen en dat dit tot groot verliese vir groot getalle beleggers gelei het.

Dit is hoekom regulasies opgestel is om verskaffers van die produkte te beheer.

Nadat JP Markets in Junie 2016 sy FSP-lisensie gekry het, het hy begin met die verhandeling van verskilkontrakte. In daardie stadium was verskilkontrakte nog nie gereguleer nie, maar sy FSP-lisensie het hom nie gemagtig om as ’n verskaffer van dié produkte op te tree nie.

Likwidasie-aansoek

Die Wet op Finansiële Markte het op 9 Februarie 2018 in werking getree. Verskaffers van die produkte is aanvanklik ses maande uitstel gegee om aansoek te doen om te registreer en later is uitstel tot 14 Junie 2019 gegee.

JP Markets het eers in Augustus vanjaar ’n aansoek gebring om ’n lisensie te kry. Dit was vier dae voordat die aansoek om JP Markets se likwidasie aangehoor is.

Volgens Gilbert het JP Markets die rol wat hy in die verskaffing van die instrumente gespeel het, probeer verdoesel om sodoende te vermy om deur die wet beheer te word.

Hoewel Paulsen erken het JP Markets is die teenparty van die beleggers in die kontrakte, het hy ontken hy is die verskaffer van die kontrakte.

JP Markets het in sy hofstukke gesê hy het meer as 300 000 kliënte waarvan 20 000 op enige gegewe tyd in die week besig is met transaksies en dat hy meer as R1 miljard in drie maande uitbetaal het op transaksies.

Gilbert meen om die respondent toe te laat om op so ’n groot skaal bedrywig te wees sonder ’n lisensie gaan nie verseker dat Suid-Afrika se finansiële markte billik, doeltreffend en deursigtig is nie of vertroue in die markte verbeter nie.

Die FSCA het in ’n verklaring gesê die ondersoek teen JP Markets en Paulsen is voltooi en hy gaan Paulsen van die bedryf verbied.

Die FSCA gaan ook die saak aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig vir verdere ondersoek en moontlike vervolging.

“Die FSCA het die stappe gedoen omdat daar beduidende risiko is vir die publiek waar entiteite en individue as uitreikers van afgeleide instrumente optree sonder om genoegsame finansiële reserwes, risikobestuurstelsels en -kennis te hê.”

Volgens die FSCA is daar verskeie ondersoeke tans aan die gang teen aanlyn valutahandelaars.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.