Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Pasop vir só beleggers werf op jou webwerf

Die batebestuurder 36One hét beleggings gewerf vir buitelandse fondse wat nie in Suid-Afrika geregistreer is nie, en die boete van R350 000 wat hiervoor aan hom opgelê is, is geregverdig.

So het die tribunaal van die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) vandeesweek bevind nadat 36One verlede jaar gevra het dat die tribunaal ’n bevinding van die FSCA hieroor heroorweeg.

LEES OOK: Bekende batebestuurder kry boete

36One administreer kollektiewe beleggingskemas, waaronder effektetrusts en plaaslike en buitelandse verskansingsfondse.

Cy Jacobs, 36One
Cy Jacobs, medestigter van 36One. Dit is sy profielfoto op Twitter.

Die FSCA se besluit hou verband met die publikasie van inligting oor dié buitelandse fondse op 36One se webwerf, asook nuusbriewe en aanbiedings aan kliënte. Die oortreding het van Augustus 2015 tot Maart 2018 plaasgevind.

Dít het volgens die FSCA neergekom op die “werwing” van beleggings in dié fondse, wat ’n oortreding van art. 65(3) van die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas is.

Dit was gemene saak dat die betrokke fondse – 36One Hedge Portfolio en 36One Offshore Portfolio – nie in Suid-Afrika deur die registrateur van kollektiewe beleggingskemas geregistreer was nie. Dit was op die Kaaimanseilande geregistreer. Dit was ook gemene saak dat die besonderhede van die fondse in die betrokke tydperk op 36One se webwerf, in nuusbriewe en in aanbiedings gepubliseer is.

Wat beteken ‘werwing’?

Die woord werwing (solicit in Engels) word in die wet omskryf as “enige handeling om beleggings deur die publiek in ’n kollektiewe beleggingskema te bevorder”.

Die twispunt was of 36One se optrede inderdaad op “werwing” neergekom het, en indien wel, of die administratiewe boete wat die FSCA opgelê het, toepaslik is.

Art. 65(1) van die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas lui dat beleggings in buitelandse verskansingsfondse slegs gewerf mag word indien die FSCA die betrokke fonds goedgekeur het.

Boonop maak art. 65(3) dit ’n strafregtelike oortreding om beleggings te werf vir buitelandse fondse wat nie deur die FSCA goedgekeur is nie. Dit is strafbaar met ’n boete van tot R10 miljoen of tronkstraf van tot tien jaar.

Volgens 36One het hy in 2014 ’n internetmaatskappy aangestel om sy webwerf te herontwerp. Die herontwerpte webwerf toon al die fondse waarvan 36One ’n bestuurder of adviseur is ten einde ’n volledige oorsig oor die reeks fondse te gee waarby die batebestuurder betrokke is.

36One het aangevoer dit stem ooreen met internasionale praktyk in die bedryf om ’n volledige en deursigtige weergawe van ’n maatskappy se produkaanbod te gee.

Oor die bekendmaking van inligting oor die betrokke fondse in nuusbriewe en aanbiedings aan kliënte, het 36One aangevoer dié dokumente het inligting bevat wat direk van sy webwerf kom.

So werk die webwerf

Die tribunaal verduidelik in sy uitspraak hoe die webwerf gewerk het:

  • As daar op die skakel Hedge Funds geklik is, het ’n vrywaring opgekom wat lui dat die betrokke verskansingsfondse nie gereguleer word deur die plaaslike owerheid nie en nie aan die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas voldoen nie.
  • Aan die einde van die vrywaring was daar die opsie om te klik op “gee toestemming om voort te gaan”.
  • Indien toestemming gegee is, is ’n bladsy oopgemaak met skakels na vier verskansingsfondse. Onder elkeen was spesifieke inligting soos of die fonds plaaslik gereguleer of op die Kaaimanseilande geregistreer is.
  • As op ’n spesifieke fonds geklik is, is ’n bladsy met meer inligting oopgemaak. Aan die einde van dié inligting was daar ’n skakel met die opsie “belê”.
  • ’n Klik op dié skakel sou jou neem na ’n bladsy met meer inligting oor hoe om te belê, asook die aansoekvorms hiervoor.
  • By die buitelandse fondse wat nie plaaslik goedgekeur was nie, is mense wat op die “belê”-opsie geklik het, gevra om hul besonderhede te verskaf sodat 36One hulle kon kontak.

36One meen ‘publikasie’ is nie ‘werwing’

Die tribunaal sê die hele saak wentel om die betekenis van die woord “werf”.

36One het aangevoer dit beteken ’n “doelbewuste en plegtige versoek aan die publiek om te belê”. Hy meen die blote publikasie van inligting is nie werwing nie. Hy het ook aangevoer hy het geen voorneme gehad om beleggings in niegoedgekeurde buitelandse verskansingsfondse van Suid-Afrikaners te lok nie.

Volgens die tribunaal moet twee vrae gevra word:

  • Of die webwerf en ander publikasies die betrokke produkte bemark het; en
  • Wat die uiteindelike bedoeling van 36One was met die publikasie van die inligting op sy webwerf.

36One het aangevoer die webwerf het nie beleggings vir dié buitelandse fondse gewerf nie omdat die wyse waarop die webwerf gewerk het, duidelik sy voorneme toon om net beleggings deur dié webwerf in goedgekeurde fondse moontlik te maak. Besoekers aan die webwerf kon dus nie “met ’n klik” belê nie.

“Dit mis die punt. Die webwerf het beleggings in die plaaslike produkte van 36One bevorder,” lui die uitspraak.

“36One het dít tydens sy vertoë toegegee. Die enigste verskil tussen plaaslike en buitelandse verskansingsfondse was dat gebruikers nie die vorm aanlyn kon invul vir die buitelandse fondse nie. Die persoon is wel uitgenooi om so ’n belegging te ondersoek.”

Oor die feit dat niemand inderdaad via hierdie kanaal in die buitelandse fondse belê het nie, het die tribunaal gesê dit beteken nie die handeling was nie een van werwing nie. “Die handeling word verbied, ongeag sy sukses.”

As jy ’n kat ’n hond noem, verander jy hom nie in ’n hond nie.As jy ’n kat ’n hond noem, verander jy hom nie in ’n hond nie.

Vrywaring is ‘oneerlik’

Die tribunaal meen die vrywaringsopsie op die webwerf vir die ongeregistreerde fondse was “oneerlik”.

“Daarmee word erken dat werwing nie toegelaat word nie, maar tog word ’n skakel verskaf wat die gebruiker nooi om 36One te kontak in verband met die produk.

“Die feit dat die vrywaring lui dat die inligting wat gepubliseer word verband hou met niegoedgekeurde fondse, toon 36One was bewus daarvan dat dit op werwing neerkom, maar het probeer om dit ongedaan te maak deur ’n vrywaring. As jy ’n kat ’n hond noem, verander jy hom nie in ’n hond nie.”

Die tribunaal glo ook teen die tyd dat die persoon op “belê” geklik het, was sy belangstelling reeds geprikkel.

“Met ander woorde, die werwing vind plaas voordat hy besluit om op die belê-opsie te klik. Daarom is die verskil in die proses nadat hy geklik het, irrelevant.

“Die besluit om te klik of nie is die gevolg van die werwing en teen daardie tyd het die werwing reeds gebeur – of dit nou suksesvol of onsuksesvol is.

“Solank die publikasie van die inligting daartoe lei dat dit die produk bevorder of belangstelling wek om daarin te belê, kom dit neer op werwing.”

Boete is toepaslik

Ten opsigte van die omvang van die boete – R350 000 – het 36One aangevoer aangesien geen beleggings op dié manier gekry is nie, behoort hy ook nie beboet te word nie.

Die tribunaal sê die hoofdoel van die Wet op Kollektiewe Beleggingskemas, saamgelees met die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor, wat bepaal dat die FSCA finansiële instellings se gedrag (en nie net hul produkte nie) beheer, is om finansiële instellings af te skrik van die oortreding van finansiële wette.

“Die risiko om beleggings te werf in niegoedgekeurde of ongereguleerde fondse kan nie in ’n samelewing soos ons s’n genoeg beklemtoon word nie.

“Gevolglik is ’n toepaslike administratiewe boete een wat ’n finansiële instelling afskrik om wette te oortree, maar een wat ook nie onredelik straf is nie.”

Die tribunaal meen in die konteks daarvan dat 36One geld van meer as R14 miljard onder bestuur het, is die boete nie onvanpas nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.