Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Baie vrae oor sluiting van Absa se geldmarkfonds

Nie almal is oortuig van die rede wat Absa aanvoer vir die besluit om die Absa Money Market Fund (AMMF), wat meer as R80 miljard onder bestuur het, te sluit nie.

Absa
'n Veiligheidswag voor 'n Absa-tak. Foto: Bloomberg

Dié effektetrust is die grootste geldmarkfonds in die land en een van die grootste effektetrusts in geheel.

Die geldmarkfonds is van die bekendste in Suid-Afrika en een finansiële adviseur het selfs geglo die nuus dat dit gesluit word, is dalk ’n Gekkedaggrap.

Absa skryf die besluit daaraan toe dat hy met ’n peiling gevind het gewone beleggers is baie verward oor die geldmarkfonds omdat hulle dink die kapitaal word gewaarborg, soos ’n deposito by ’n bank.

Effektetrusts word ingevolge die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggings opgerig en die kapitaal word nie gewaarborg nie. Dit is dus moontlik dat ’n belegger minder kan uitkry of alles kan verloor wat hy belê het.

Hoeveel geldmarkfondse is daar?

Volgens Sunette Mulder, senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en beleggings (Asisa), is daar 50 geldmark-effektetrusts in Suid-Afrika.

Van hulle is agt van die fondsbestuursmaatskappye wat deel is van bank-konglomerate.

Dit sluit een van Ashburton, drie van Nedgroup Investments en drie van Stanlib.

Byna sewe jaar gelede, in 2014 met die ineenstorting van African Bank, het dit duidelik geword baie beleggers in banke se geldmarkfondse het geglo die kapitaal was gewaarborg.

Verskoning 'klink nie reg'

Francois van Wyk, hoof van PSG Wealth Winelands, dink nie dis al voorheen in Suid-Afrika beleef dat ’n groot geldmarkfonds van ’n bank gesluit word nie en dis “ongewoon’.

Hy meen dis ’n baie snaakse stap en die verskoning klink nie na ’n baie goeie een nie.

“Die verskoning is nie baie geloofwaardig nie. Dan kon hulle mos ’n advertensieveldtog gedoen het om aan beleggers te verduidelik die kapitaal word nie gewaarborg nie.”

Hy meen dit het dalk met Absa se finansieringsmodel te doen.



Die verskoning is nie baie geloofwaardig nie. Dan kon hulle mos ’n advertensieveldtog gedoen het om aan beleggers te verduidelik die kapitaal word nie gewaarborg nie.
Francois van Wyk van PSG Wealth

Toe die effektetrustbedryf begin ontwikkel het, het banke ook geldmarkfondse begin om seker te maak hulle beskerm hul finansiering van mededingers in die batebestuursbedryf, volgens hom.

Hy meen die verandering in kapitaalvereistes sedert die internasionale finansiële krisis van 2008 het meer uitdagings vir banke meegebring ten opsigte van watter finansiering van beleggers as kapitaal mag kwalifiseer.

Die Basel-kapitaalvereistes vir banke vereis onder meer dat banke se finansiering beter by hul lenings pas.

Dit beteken die finansiering vir ’n langtermynhuislening moet ’n langtermyndeposito wees sodat die rentekoerse en termyne meer gepas is en daar nie ’n wanverhouding bestaan nie.

Kredietkaartlenings en korttermynlenings sou tipies met geldmarkfondse gefinansier word, volgens hom. Voertuig- en huislenings en maatskappylenings sal gefinansier word deur Absa wat effekte of skuldbriewe aan beleggers uitreik.

“Dis nie duidelik wat hul strategie in die plek van die geldmarkfonds is nie. Dalk gaan hulle meer konsentreer op om bloot net direk deposito's te kry op termyne wat hulle meer kan beheer. As hulle sien hulle kort finansiering met termyne van vyf jaar, maak hulle die rentekoerse op dié instrumente aantrekliker.

“Die feit dat hulle hul geldmarkfonds opsê, sê dalk meer oor die spesifieke termynlenings wat hulle wil doen. Hulle konsentreer dalk nie meer so baie op die korttermyn-finansieringskant van die mark nie.”

Ongekende besluit

Jan Meintjes, ’n portefeuljebestuurder van Denker Capital, meen ook dis ongekend dat Absa een van die grootste effektetrustfondse in die land sluit.

Volgens hom was daar ’n paar verwarrende name van dié produkte in die mark omdat Absa ook ’n “geldmarkrekening” het – dus ’n werklike bankrekening wat met die geldmarkfondse meeding.

“Dit sal goed wees om van dié situasie weg te beweeg.”

Standard Bank het einde 2013 ook sy drie geldmarkfondse se name verander na dié van Stanlib.

Meintjes meen ’n naamsverandering van die Absa-fonds kon dalk ’n eenvoudiger oplossing gewees het.

Absa het stil-stil aangekondig hy begin ’n nuwe geldmarkfonds met die naam Absa Prudential Money Market Fund (APMMF).

Hy meen Absa gaan moontlik probeer om instellings te oortuig om van hul geld na die nuwe geldmarkfonds te skuif en gewone beleggers om na die depositobankrekeninge te skuif.

Die APMMF gaan nie deur die Absa Bank-platforms beskikbaar wees soos die ou geldmarkfonds was nie, sê Absa-fondsbestuurders in ’n brief aan kliënte.

“Dit sal ons in staat stel om die APMMF in ooreenstemming te bring met die res van die effektetrusts wat ons aanbied,” sê Absa-fondsbestuurders.

“Dit sal aan die kliënte wat ’n effektetrust soek, die geleentheid bied om in die APMMF te belê, terwyl die kliënte wat gedink het dat hulle in ’n bankproduk belê het, die kans kry om hul geld te deponeer in ’n bankproduk genaamd ’n Absa-beleggingsbankrekening.”

Peiling dui op verwarring

Die tien grootste geldmarkfondse (en bates onder bestuur)

1. Absa (R85 miljard)

2. Stanlib Corporate Money Market Fund (R48 miljard)

3. Nedgroup Investments Corporate Money Market Fund (R42,4 mjd.)

4. Stanlib Institutional Money Market Fund (R40 miljard)

5. Ninety One Money Market Fund (R37,8 miljard)

6. Ninety One Corporate Money Market Fund (R30,7 miljard)

7. Allan Gray Money Market Fund (R26,2 miljard)

8. Stanlib Money Market Fund (R24,3 miljard)

9. Old Mutual Money Market Fund (R17,3 miljard)

10. Nedgroup Investments Money Market Fund (R17,1 miljard)

Bron: Asisa

Absa het in die brief gesê ’n peiling onder kliënte het getoon die meeste van die gewone beleggers in die geldmarkfonds glo dat die kapitaal en opbrengste deur Absa gewaarborg word.

“Die AMMF is egter nie ’n bankrekening nie. Dit is ’n produk vir kollektiewe beleggingskemas (ook bekend as effektetrusts) en daarom is die kapitaal en opbrengste nie gewaarborg nie,” lui die brief.

Sylvester Kgatla, hoof van Absa-fondsbestuurders, sê dit was ’n belangrike, maar beslis moeilike besluit.

Hy sê op sy beurt die peiling oor die geldmarkfonds het getoon dat die meeste gewone kliënte hoofsaaklik ’n bankrekening benodig wat deur Absa gewaarborg is wat ’n goeie rentekoers bied.

Dit het ook getoon die meeste institusionele kliënte wil voortgesette toegang tot ’n geldmarkfonds hê.

Talle bespiegel

Talle in die batebestuursomgewing, insluitend Magnus Heystek, ’n direkteur van Brenthurst Wealth Management, het die rede vir die besluit bevraagteken.

Heystek sê op Twitter oor die besluit “iets ruik nie lekker hier nie”.

’n Ene AB @Conerned_CT het in reaksie daarop probeer lig werp op die nuus en sê dit hou met “pa-staan-risiko verband (in Engels step-in risk).

“Hulle het ’n peiling onder kliënte gedoen en baie weet nie dit is ’n bankrekening nie. Dieselfde persepsie het daartoe gelei dat hulle gedwing was om met African Bank se wanbetaling in 2014 pa te staan vir die verlies wat gely is.

“Daar is ’n voortgesette koste daaraan verbonde omdat daar van banke vereis word om kapitaal eenkant te hou vir dié risiko en die interne koste van kapitaal maak dit onwinsgewend."

Johann Bierman, ’n aandele-ontleder, sê op Twitter hy glo nie werklik die rede vir die sluiting nie.

Piet Viljoen, ’n batebestuurder en uitvoerende hoof van RECM, sê op Twitter Absa betaal rente van 3% op korttermyndeposito’s. “Hoekom sal hulle jou die moontlikheid gee om 4% te verdien, wat hul koste van finansiering verhoog? Dit het ’n negatiewe invloed op die marges.”

Sunette Mulder, senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa), sê die sluit van effektetrustfondse is nie ongewoon nie. Baie amalgameer ook.

Asisa het nie die vraag beantwoord oor hoe ongewoon dit vir ’n bank is nie.

Sy sê daar was nie ’n verandering in die regulasie nie. “Dit was ’n sakebesluit en net Absa kan kommentaar lewer oor hoekom hulle die besluit geneem het.”

Asisa kan nie kommentaar lewer oor die sakebesluite van ’n individuele lid nie.

Volgens Mulder gaan enige effektetrust wat sluit deur ’n proses by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).

Vrae is ook aan die FSCA gestuur en die berig sal bygewerk of opgevolg word sodra dit ontvang word.  

Meer oor:  Stanlib  |  Absa Bank  |  Psg Wealth  |  Geldmark  |  Bank  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Effektetrustfondse  |  Beleggers  |  Geldmarkfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.