Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Banke swem in spaargeld midde pandemie: 6 redes

’n Ongekende styging in deposito’s by banke deur private individue en maatskappye te midde van die Covid-19-pandemie is ook in Suid-Afrika sigbaar.

African Bank se deposito's het 147% gestyg in die afgelope jaar. Foto: Argief

’n Vierde bank het verlede week ’n sterk toename in deposito’s wat van kliënte ontvang is, aangemeld.

Deposito’s by Standard Bank het in die afgelope boekjaar tot einde Desember met 14% tot R1 500 miljard gestyg.

Sedert begin Januarie se resultate wat aangekondig is, het African Bank gesê sy deposito’s het met 147% gestyg; Discovery Bank s’n met 52% en FNB s’n met 19%.

Die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) het ook ’n rekord-invloei van spaargeld na effektetrustfondse in 2020 aangemeld.

LEES OOK: Stroom spaargeld slaan rekord in 2020

Standard Bank sê kliënte het minder bestee, hul kontantvloei-situasie en beplande beleggings heroorweeg en het groot hope kontant gehou as ’n strategie om voorsorg te tref in die onseker marktoestande.

Deposito’s het in die tweede helfte ook skerp gegroei vergeleke met die eerste helfte van die boekjaar tot einde Desember, want volgens die bank het beleggers versigtig gebly selfs nadat die inperkings in die tweede helfte verslap is.

In Amerika is die golf geld wat na banke gestroom het as ongekend in die geskiedenis beskryf. Daar is dit aangedryf deur die regering se uitbetaling van miljarde dollar aan klein ondernemings en individue, volgens CNBC. Terselfdertyd het onsekerheid oor die toekoms individue en maatskappye kontant laat opgaar.

Ane Kathrine Christensen, Alessandro Maravalle en Lukasz Rawdanowicz van die ekonomiese departement van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO), skryf in ’n webjoernaal oor die redes hoekom bankdeposito’s sedert einde 2019 midde die pandemie skerp gestyg het - van beide maatskappye en huishoudings. Vergeleke daarmee het korporatiewe deposito’s tydens die vorige groot krisis – die internasionale finansiële krisis – afgeneem.

Die deposito’s van huishoudings het ook in baie lande vinniger toegeneem as in die vorige jare of aan die begin van die internasionale finansiële krisis.

Volgens hulle kan van die redes vir die ongekende toename in bankdeposito’s die volgende wees:

Inperkings

Die inperkings weens die pandemie het sommige aankope deur huishoudings onmoontlik gemaak op ’n tydstip wat hul inkomste deur regeringsondersteuning in stand gehou is. Dit behoort tydelik te wees en te verdwyn namate die inperkings opgehef word en aan die opgehoopte vraag voldoen word.

Die groei in deposito’s is meestal van Maart tot Mei beleef toe streng inperkings in die meeste lande van toepassing was. Daarna het die groei in deposito’s van huishoudings en maatskappye verlangsaam in die meeste lande, maar dit is steeds bo die gemiddelde vir dieselfde tydperk in die afgelope vyf jaar.

Minder reis, restaurante

Die inperking sou ook huishoudings se besteding aan groot items beperk. Hoë-inkomste-huishoudings bestee gewoonlik ’n groter deel van hul inkomste aan dienste wat nou erg deur die inperking geraak is, soos internasionale reise, restaurante en kultuurgeleenthede.

Voorsorg

Die groot onsekerheid wat die pandemie meebring en die vooruitsig vir die ekonomie in die toekoms is ’n groter aansporing om versigtig te wees en geld te spaar en om aankope van duursame goedere uit te stel. Navorsing het al voorheen getoon as ’n werkloosheidskoers verander, raak dit ook die aanmoediging om voorsorg te tref. Dié impak kan nog ’n ruk voortduur.

Regeringshulp

Ondernemings het te midde van die ontwrigting aan hul inkomste verkies om meer kontant te hou met die doel om hul buffers te vergroot en kontantvloei-tekorte te vermy.

Die opgaar van kontant is vergemaklik deur wentelkrediet wat gebruik kon word of deur skuldbriewe uit te reik, en deur leningsprogramme wat deur regerings ondersteun is.

In November was die grootte van die hulpbronne wat beskikbaar gestel is aan ondernemings deur die programme (lenings en waarborge) meer as 10% van die 2019 BBP in Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Spanje en die Verenigde Koninkryk.

Belasting uitgestel

Maatstawwe van regerings om uitstel vir die betaling van belasting te gee, het ook spaargedrag aangemoedig.

Afleggings

Asisa sê die kwartaal tot einde Junie se rekordbedrag van beleggers wat die effektetrustbedryf ingestroom het, en wat bygedra het tot die rekordjaar, hou vermoedelik verband met afleggings en mense wat dus hul pakkette belê het. Baie van die geld is ook na fondse met ’n kleiner risiko, wat toon hoe versigtig beleggers is.

Wat gebeur as die stroom geld omkeer?

Christensen, Maravalle en Rawdanowicz sê ’n ommekeer in enige van dié faktore kan lei tot beleggings in die ekonomie en ’n toename in verbruik – wat vraag kan aanvuur en ekonomiese herstel kan versnel.

“Daar is egter verskeie redes vir waarom hierdie groter spaargedrag nie daartoe kan lei nie, soos as die toename in deposito’s deur maatskappye van enkele groot ondernemings kom wat voordeel getrek het uit die krisis, veral in die tegnologiesektor.

“Dan sal die oortollige deposito’s waarskynlik nie toekomstige ekonomiese beleggings stimuleer nie.”

Nog ’n rede is as die toename in huishoudelike deposito’s meestal aangedryf is deur ryker huishoudings.

“Dan sal die vermindering van onsekerheid en die verslapping van inperkings nie noodwendig lei tot ’n breë versterking in verbruik nie.”

Boonop kan ondernemings oortollige deposito’s gebruik om hul skuld aan ander maatskappye, skuldeisers of belastingowerhede te vereffen.

Meer oor:  Fnb  |  Discovery Bank  |  Asisa  |  Absa  |  Standard Bank  |  Spaargeld  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.