Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
‘Belê op die punt van maksimum pessimisme’

Die meeste batebestuurders in Suid-Afrika probeer vasstel wat die punt van maksimum pessimisme in die mark is, sodat hulle dan kan koop.

Daar was niks noemenswaardig of spesiaal aan 9 Maart 2009 nie, maar dit was die dag waarop die internasionale markte begin herstel het ná die internasionale geldkrisis.

Só verduidelik Shaun le Roux, portefeuljebestuurder by PSG Batebestuur, die belangrikheid van die beginwaarde van ’n belegging.

Hy meen daar is tans ook so ’n wanbalans in die pryse van plaaslike bates.

Die huidige narratief oor Suid-Afrika is baie negatief:

  • Eskom is in ’n gemors;
  • Mense emigreer;
  • Daar is korrupsie;
  • Daar is geen groei en geen vertroue nie; en
  • Munisipaliteite is swak.

Maar die meeste mense kyk positiewe aspekte mis, soos:

  • Die Reserwebank is ’n stabiele, onafhanklike instelling;
  • Inflasie is onder beheer;
  • Die nasionale tesourie is sterk;
  • Die bankstelsel is gesond; en
  • Die staat se buitelandse skuld is relatief beperk.

Dit is tye van sulke oormatige pessimisme wat die beste beleggingsgeleenthede bied, sê Le Roux.

In 2011 wou niemand in Griekeland se effekte belê het nie. Maar as jy dit gedoen het, het jy binne ’n jaar of wat jou geld tien keer teruggekry.

’n Strandganger op die Alimos-strand naby Athene, Griekeland, koel af tydens die huidige hittegolf oor Europa. Toe Griekeland in 2011 in ’n finansiële krisis was, wou niemand sy staatseffekte koop nie, maar die dapperes wat dit wel gedoen het, het hul geld tien keer teruggekry. Foto: AP

In 2015 was Brasilië in ’n toestand, maar as jy op daardie punt van ekstreme negatiwiteit in Brasiliaanse aandele en effekte belê het, het jy jou geld binne die volgende jaar of wat verdubbel.

En dit was ongeag of die strukturele probleme wat aanvanklik tot die pessimisme of negatiwiteit gelei het wel al opgelos was; dit het in der waarheid steeds bestaan.

Greg Hopkins, portefeuljebestuurder van vaste-inkomste by PSG Batebestuur, is eweneens meer positief oor Eskom as wat die meeste waarnemers tans is.

Hy meen dit het ’n jaar gelede slegter met Eskom gegaan as tans, want toe was die kapitaalmarkte ontoeganklik. Daar is nou ’n beter omdraaiplan vir Eskom, al vorder dit baie stadig. Daar is ’n nuwe direksie en ’n baie goeie minister, die kapitaalmarkte is weer oop vir Eskom, en die nasionale tesourie is ook betrokke om te help.

Dit is ook ’n goeie teken as mense begin paniekbevange raak. Dit sê Eskom is aan die beweeg in die regte rigting, meen Hopkins.

Hy meen daar is selfs meer beweegruimte by die kredietgraderingsagentskap Moody’s om Suid-Afrika nie af te gradeer nie as wat die markte wil toegee. Baie van die negatiwiteit is reeds in die rand en effekte ingeprys, en die reuse-uitvloei van buitelandse beleggers uit Suid-Afrikaanse effekte van sowat R70 miljard oor die afgelope 18 maande het reeds plaasgevind sonder dat dit soveel van ’n impak gehad het.

Vrese oor grondonteiening sonder vergoeding en die gerugte oor voorgeskrewe bates waarin pensioenfondse gedwing gaan word om in te belê, is volgens Le Roux bloot deel van die huidige negatiewe narratief waarop almal fokus, en wat volgens hom aangedryf word deur ’n sensasiebeluste media.

Meer oor:  Psg  |  Beleggings  |  Bateklasse  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.