Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Beleggers: ‘Harde jaar vir ’n opbrengs’
Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die plaaslike effektetrustbedryf het in 2018 ’n netto invloei van R93,5 miljard gelok om die jaar op bates onder bestuur ter waarde van R2 240 miljard af te sluit.

Hoewel dit effens laer is as 2017 se R2 250 miljard, was die bedryf van kollektiewe beleggingskemas (KBS) veerkragtig ondanks strawwe marktoestande, het Sunette Mulder, senior beleidsadviseur van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa), gesê met die bekendstelling van die statistieke verlede week.

Volgens haar het ’n nuwe tendens die afgelope twee jaar geblyk, naamlik groter vloei van bates na rentedraende fondse en korttermynfondse soos beleggers hulself probeer beskerm het teen negatiewe opbrengste met aandele wat pak slae gekry het. Vorige jare het beleggers verkies om meer van hul bates in multibatefondse te hou wat blootstelling aan verskeie bateklasse bied.

Thabo Khojane, adjunkvoorsitter van die Asisa-direksie, het gesê 50% van alle bates wat in KBS belê is, is in multibatefondse.

Asisa se ontleding van drie van die gewildste subsektore van multibatefondse wys ’n droewige prentjie vir 2018. Die fondse met ’n hoë blootstelling aan aandele (ook bekend as gebalanseerde fondse) het ’n negatiewe opbrengs van 8% (reëel) vir beleggers beteken. Die fondse kan tot 75% in aandele hou. Die subsektor van multibatefondse met lae blootstelling aan aandele (tot sowat 40%) en bekend as stabiele fondse, het ’n negatiewe opbrengs van 3% (reëel) gelewer.

Daarteenoor het multibate-inkomstefondse, wat geen aandele-blootstelling het nie, sowat 4% in reële inkomste gelewer, sê Khojane.

“Verlede jaar was dus ’n harde jaar vir opbrengste. Alles wat blootstelling aan aandele gehad het, het ’n negatiewe opbrengs gelewer. Dit is die eerste keer in my sowat 21 jaar in die bedryf dat gebalanseerde fondse ’n negatiewe reële opbrengs lewer.

“Dit is sleg vir mense wat op lang termyn vir aftrede spaar omdat jy inflasie moet klop.”

beleggers

Hoewel 2018 die tweede keer in drie jaar was dat die beleggers in reële terme kapitaalverlies ervaar het, het die dalende tendens reeds in 2013 begin. Dit beteken egter nie almal moet in sak en as sit nie, sê Khojane.

Ekwiteit sal steeds ’n premie lewer vir die risiko wat daarmee gepaard gaan. Gebalanseerde fondse sal na verwagting in die toekoms steeds 4% tot 5% per jaar reëel lewer, en stabiele fondse 2% tot 3% per jaar. Hy verwag egter nie dat inkomstefondse opbrengs van 4% sal kan volhou soos in 2018 nie.

Volgens Asisa word Suid-Afrikaners se bates in kollektiewe beleggingskemas oorwegend in plaaslike multibateportefeuljes gehou (49%), gevolg deur Suid-Afrikaanse rentedraende portefeuljes (29%). Daarna volg Suid-Afrikaanse aandeleportefeuljes (19%) en Suid-Afrikaanse eiendomsportefeuljes (3%).

Dié portefeuljeverdeling wys Suid-Afrikaanse beleggers is baie meer risiko-sku as hul internasionale eweknieë.

Internasionale KBS-beleggers belê oorwegend in aandeleportefeuljes (45% van alle internasionale KBS-bates), sê Asisa in ’n verklaring.

Einde September 2018 was daar wêreldwyd 117 263 kollektiewe beleggingskemaportefeuljes met totale bates onder bestuur van $50 100 miljard, wys syfers van die International Investment Funds Association (IIFA), waarvan Asisa ’n lid is.

Einde Desember 2018 het Suid-Afrikaanse beleggers ’n keuse uit 1 567 portefeuljes gehad.

Mulder sê in die verklaring 29% van die invloei in die KBS-bedryf in die jaar tot einde Desember het regstreeks van beleggers gekom. Dit is 1% meer as in 2017, maar beteken nie noodwendig dié beleggers het sonder advies opgetree nie. Baie betaal vir advies en implementeer dan self die portefeulje waarop hulle besluit het.

Tussengangers het 32% van die nuwe invloei bygedra (2017: 30%), terwyl 21% gekom het van diensverskaffers van gekoppelde beleggings (Lisps) (2017: 22%) en 18% van institusionele beleggers soos pensioen- en voorsorgfondse (2017: 20%).

Volgens Asisa het plaaslik geregistreerde buitelandse portefeuljes einde Desember 2018 bates ter waarde van R442 miljard onder bestuur gehad. Die netto uitvloei vir die 12 maande tot einde Desember was R6,4 miljard.

Meer oor:  Asisa  |  Beleggings  |  Effektetrustfondse  |  Bateklasse  |  Geldsake  |  Bates
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.