Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Bitcoin ‘halveer’, maar wat beteken dit?
Bitcoin ‘halveer’ oor ’n paar dae, maar dit beteken nie die prys gaan halveer nie. Foto: Unsplash

Ongeveer elke vier jaar word daar wyd berig bitcoin gaan weer “halveer”. Dié stelling klink baie meer dramaties as wat dit werklik is.

Al wat eintlik gebeur, is dat die aantal nuwe bitcoin-munte wat begin sirkuleer, gehalveer word.

Die “halvering van bitcoin” het dus niks met die waarde van die digitale munt te make nie, maar eerder met hoeveel nuwe bitcoins tot die beskikbare poel gevoeg word.

Hoe word bitcoin geskep?

Om te begryp waarom bitcoin ongeveer elke vier jaar “halveer”, is dit nodig om te verstaan hoe bitcoin geskep word.

Transaksies in bitcoin word verwerk deur sogenaamde “myners”.

Dit is basies rekenaars oor die wêreld heen wat komplekse wiskundige formules oplos om transaksies op die bitcoin-blokketting te verifieer.

Sodra ’n myner (of myners) ’n blok (met ander woorde ’n groep) transaksies geverifieer het, word hulle met nuwe bitcoin beloon vir die werk wat verrig is.

Dit is hoe die aantal bitcoins in sirkulasie stadig meer word.

Satoshi Nakamoto, die geheimsinnige skepper van bitcoin, het egter bepaal dat daar net 21 miljoen digitale bitcoin-munte ooit geskep mag word.

Dit beteken die voorraad bitcoin is, soos goud, inherent beperk.

Daar is tans reeds meer as 18,3 miljoen bitcoins in sirkulasie. Daar word verwag dat die heel laaste bitcoin (die 21 miljoenste) teen 2140 gemyn gaan word.

Sedert die begin van bitcoin in 2009, is myners met 50 bitcoin beloon vir elke blok transaksies wat hulle suksesvol geverifieer het.

Die halvering

’n Blok transaksies word elke sowat tien minute geverifieer. So vir die eerste vier jaar (van 2009 tot 2012) is 50 nuwe bitcoins elke tien minute geskep en as beloning aan myners gegee wat die transaksies geverifieer het.

In 2012 het die eerste halvering plaasgevind.

Die beloning vir ’n voltooide blok is toe tot 25 bitcoin halveer. In 2016 is dit verder tot 12,5 halveer, wat dit steeds is.

Die beloning vir myners – en dus die aantal nuwe munte wat elke tien minute geskep word – word ná elke 210 000 blokke transaksies gehalveer.

Dit gebeur ongeveer elke vier jaar en sal na verwagting vanjaar op 12 Mei gebeur.

Vanaf die vorige halvering moes daar nog 509 blokke transaksies geverifieer word voordat die beloning per blok outomaties van 12,5 bitcoin per blok tot 6,25 bitcoin per blok gehalveer word.

bitcoin

Hoekom moet dit gebeur?

Die halvering is ’n manier om die voorraad bitcoin doeltreffend te beheer, sê Jason Deane, ’n bitcoin-kenner en self ’n myner.

Deane het vandeesweek ’n aanlyn lesing oor die halvering van bitcoin aangebied vir die plaaslike verhandelingsplatform Luno.

Ná die halvering gaan net 900 nuwe bitcoins per dag geproduseer word. Tot nou toe is 1 800 nuwe bitcoins per dag geproduseer deur myners wat transaksies verifieer.

Dit raak dus nou twee keer so moeilik om bitcoin te verdien deur te myn, sê Deane.

Boonop werk myners lankal nie meer individueel om blokke transaksies te verwerk nie. Omdat daar so baie mense is wat “myn”, is vennootskappe en konsortiums gevorm wat beteken groepe myners doen saam die werk, maar moet dan ook die “skrapse beloning” van 6,25 bitcoin deel.

Een bitcoin was Vrydagmiddag byna R190 500 werd op Luno.

Dit beteken elke tien minute word hierdie groepe myners steeds met bitcoin van sowat R1,2 miljoen per blok beloon.

Gaan die halvering die prys beïnvloed?

Volgens Deane is dit bykans onmoontlik om te voorspel of die halvering die prys wat beleggers per bitcoin betaal, gaan raak.

Die bitcoin-prys is ongelooflik wisselvallig en word deur ’n legio van faktore beïnvloed, onder meer vraag en aanbod.

Dit is maar die derde keer dat bitcoin halveer.

Tussen die eerste en tweede halvering (dus tussen 2012 en 2016) het die bitcoin-prys met 5 281% gestyg in dollarwaarde, wys data van Luno.

Tussen die tweede en derde halvering (dus tussen 2016 en nou) het die prys met 1 217% gestyg.

Danny Scott, uitvoerende hoof van die Britse verhandelingsplatform CoinCorner, verwag dat bitcoin sy hoogste prys ooit tussen drie en nege maande ná hierdie die vierde halvering gaan bereik.

Volgens Deane het finansiële markte oor die wêreld heen ook “onherroeplik verander” weens die Covid-19-pandemie.

Omdat die voorraad bitcoin stabiel bly (en dit daarom nie onderhewig is aan dieselfde mate van inflasie as ander geldeenhede nie), beskou Deane digitale geld as ’n tipe “veilige hawe”.

“Bitcoin is nes goud in daardie opsig,” meen hy.

Meer oor:  Geld  |  Digitale Geld  |  Blokketting  |  Luno  |  Bitcoin  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.