Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Bitcoin raak al hoe blinker vir beleggers

Vanjaar is die jaar waarin die mark die waarde van kriptogeldeenhede kan besef en dán kan die prys daarvan opskiet, meen talle markkommentators.

’n Bitcoin-wisselwinkel in Krakow, Pole. Foto: Getty Images

Dié optimiste grond hul voorspelling daarop dat ’n bitcoin se prys in Januarie met 30% gestyg het – van $6 836 (R102 313) tot $9 341 (R139 804).

Dit het Maandag kortstondig tot bo $9 600 geklim, en $10 000 is nie onwaarskynlik nie, voorspel Adam Vettese, ’n ontleder van eToro in ’n nota.

Geopolitieke spanning, die impak van die korona-virus en die volgende bit­coin-halvering sal die prys ook ’n hupstoot gee, sê ontleders.

Saam met ander faktore soos die belangstelling van institusionele beleggers, kan 2020 rekords oortref.

Hoe maak mens?
Begin klein, sê Marius Reitz, hoofbestuurder van Luno in Afrika. Jy hoef nie ’n volle bitcoin (tans amper R150 000) te koop nie, maar kan enige bedrag van so min soos R20 belê. Dit is maklik om ’n Luno-rekening te open: Laai die gratis app af, verifieer jou identiteit en dien die nodige dokumente in. Binne minute sal jy gereed wees om kriptogeldeenhede te koop.

Forbes het Maandag berig vrese oor die impak van die korona-virus op China en die wêreldekonomie, kan bitcoin se reputasie versterk as ’n sogenaamde toevlugsoord.

Selfs bitcoin is egter nie totaal onaangeraak nie. Bloomberg berig weens regulasies om die verspreiding van die virus te keer, het twee Chinese vervaardigers van hardeware vir kripto-ontginning verlede week kliënte laat weet hul versending sal vir minstens ’n week vertraag word weens kwarantyn.

Marcus Swanepoel, uitvoerende hoof van Luno, ’n verhandelingsplatform vir digitale geldeenhede met sowat 3 miljoen kliënte, sê digitale bates is steeds onderhewig aan hoë wisselvalligheid, maar al hoe meer mense koop dit, en werkbare regulasies word ingestel.

“Die ontwikkeling van stabiele kriptogeld in 2020 en belangstelling deur maatskappye soos Facebook sal die ontwikkeling van kriptogeld ’n hupstoot gee.”

Stabiele munte verwys na ’n kriptogeldeenheid wat gekoppel is aan ’n ander stabiele bate soos goud of die Amerikaanse dollar. Dit is minder wisselvallig en dus makliker vir alledaagse transaksies.

Doen jou huiswerk

Net soos wanneer jy aandele aanlyn koop, moet jy geloofwaardige platforms kry wat kriptogeldeenhede bied wat noukeurig geëvalueer is, sê Marius Reitz, hoofbestuurder van Luno in Afrika.

Luno bied tans bitcoin, ethereum en bitcoin cash. Daar is meer as 2 000 kriptogeldeenhede, maar wees versigtig vir swendelaars, sê Reitz.

Dieselfde intuïtiewe reëls geld vir bitcoin as vir tradisionele geld. Moenie meer belê as wat jy kan bekostig om te verloor nie, en moenie al jou eiers in een mandjie sit nie.

“Bitcoin is nuwe tegnologie wat ontwikkel en in die proses word sekere risiko’s geloop. Bitcoin is baie wisselvalliger as die meeste geldeenhede. Net soos met tradisionele beleggings, moet jy jou eie navorsing doen en jou eie oordeel gebruik.”

Gebruik ’n geloofwaardige platform met deursigtige inligting oor beleggers, eienaars en direkteurs. Wees versigtig vir skemas wat ’n sekere opbrengs op ’n kriptobelegging waarborg.

Lees hoe om bitcoin-swendelaars te systap en jou kriptobelegging te beskerm teen krakers en internetbedrog (phishing).

Die volgende bitcoin-halvering word in Mei verwag. Dit hou verband met die hoeveelheid nuwe bitcoin waarmee bitcoin-ontginners beloon word, berig Reuters. Die perk op die totale hoeveelheid bitcoin wat geskep sal word, is 21 miljoen. Een van die ingeboude reëls is dat as die helfte van al die bitcoin wat ooit geskep gaan word, bestaan, die beloning vir ontginners om transaksies te verwerk, gehalveer sal word.

Wanneer die helfte van die oorblywende helfte ontgin is, halveer die beloning weer. Wanneer die beloning halveer, verander die vraag-en-aanbod-dinamika.

Swanepoel sê die laaste halvering was in 2016, toe die toekenning van 25 tot 12,5 bitcoins verminder is. Talle in die mark maak gereed vir ’n drastiese prysstyging én wisselvalligheid wat vorige halverings gekenmerk het. In die 12 maande ná die vorige twee halverings het bitcoin met sowat 80 keer en vier keer onderskeidelik in waarde gestyg.

Die vraag is nou hoe om jou te posisioneer om die beste voordeel daaruit te trek, sê Eyal Avramovich, uitvoerende hoof van MineBest, ’n maatskappy in Pole wat bitcoin ontgin. Nigel Green, uitvoerende hoof van die finansiëledienstegroep deVere Group, voorspel die prys van bitcoins sal bly styg totdat die korona-epidemie ’n hoogtepunt bereik het.

Hassaan Malik skryf egter op die webblad blockpublisher.com ander faktore beïnvloed die prys, soos vraag en aanbod, die koste daarvan om een bitcoin te ontgin, mededingende kriptogeldeenhede en regulasies oor kripto-handel.

Volgens hom word bitcoin teen ’n stadiger pas uitgereik. Vanweë die laer aanbod en hoër vraag, word aanvaar die prys sal styg. – Bygewerk uit Finweek

Meer oor:  Luno  |  Marius Reitz  |  Beleggings  |  Bitcoin  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.