Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Bitcoin skiet op ná nuus oor Facebook-geld uitlek

Bitcoin het Maandag die hoogste vlak in meer as ’n jaar gehaal toe dit tot meer as $9 300 gestyg het. Dit kom te midde van gerugte dat Facebook dié week ’n digitale geldeenheid wil uitreik.

In randwaarde het die bitcoin Maandag ’n hoogtepunt van R143 784 gehaal en ethereum R4 235. Foto: Pixabay

Die aankondiging van Facebook word volgens Forbes op Dinsdag 18 Junie verwag. Die projek staan glo intern as Projek Libra bekend.

Volgens The Block gaan die geldeenheid ’n sogenaamde stabiele munt wees waarvan die waarde deur ’n mandjie geldeenhede bepaal sal word. Dit gaan beheer word deur ’n konsortium bekend as die Libra Association, wat reuse soos eBay, Spotify, Mastercard, Visa, Uber, PayU, PayPal, Coinbase, Booking Holdings (wat Bookings.com besit) en Vodafone insluit.

Die verwagte aankondiging word beskou as die rede waarom alle kriptogeldeenhede Maandag hul markwaarde verhoog het.

Bitcoin, die algemeenste kriptogeldeenheid, het sedert Vrydag met byna 10% tot $9 335,87 gestyg, volgens CoinMarketCap.com. CoinMarketCap raam dat bitcoin 57% van die totale markwaarde van kriptogeld verteenwoordig met ’n markwaarde van byna $166 miljard.

Afgerond is 17,8 miljoen van die moontlike 21 miljoen bitcoin wat gemyn kan word, reeds in die mark.

Ander kriptogeldeenhede het ook effens gestyg, met die tweede grootste een, ethereum sowat 1% hoër op $273,19.

In randwaarde op Luno.com het die bitcoin Maandag ’n hoogtepunt van R143 784 gehaal en ethereum R4 235.

Bitcoin het volgens Bloomberg vanjaar reeds met 150% gestyg nadat dit uit ’n baie diep trog begin klim het. Die virtuele geldeenheid het in November en Desember 2017 skerp gestyg en in ’n baie kort tydperk ’n algehele rekord van $20 089 op 17 Desember gehaal.

Die borrel het daarna gebars en bitcoin het middel verlede jaar tot so laag as $3 191,30 gedaal voordat dit geleidelik begin styg het.

Brett McGonegal van die batebestuursfirma Capital Link het in ’n onderhoud met Bloomberg TV gesê dit lyk asof bitcoin ’n soort “veilige hawe” of verskansing geword het.

Hy glo bitcoin se waarde kan nog baie styg indien institusionele beleggers (groot batebestuursfirmas en pensioenfondse) daarin begin belê.

Bronne: CoinMarketCap, Bloomberg, The Block, Forbes

Meer oor:  Facebook  |  Bitcoin  |  Ethereum  |  Tegnologie  |  Geld  |  Digitale Geld  |  Kriptogeld  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1986,63 (1161)
  • Top 40 51447,25 (25772)
  • All Share 57537,22 (25987)
  • Resource 10 46134,41 (18956)
  • Financial and Industrial 30 77122,13 (42833)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.