Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Bly belê in mark, al is dit onseker

Die nagmerrie het Maandag waar geword vir beleggers wat verlede week al senuagtig oor die impak van die koronavirus op hul aftreegeld was.

Kevin Lings
Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib.Foto: Verskaf

Maar ondanks die papierverliese van soveel as R830 miljard op een stadium Maandag op die JSE, waarsku kenners steeds teen paniek en verkeerde besluite wat op vrees gegrond is.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, waarsku dat beleggers nie nou hul bates moet verkoop en na kontant skuif nie. Dit maak nou meer sin om ’n konserwatiewe mengsel van bates in ’n versigtige gebalanseerde fonds te hou, of in ’n fonds wat op inkomste gefokus is.

Hierdie soort beleggings het die voordeel dat dit ook buitelandse bates hou, en korter-termynvasterente-beleggings wat steeds ’n opbrengs van meer as inflasie kan lewer.

aandeelmarkte
Die JSE se indeks van alle aandele relatief tot groot buitelandse beursindekse sedert die begin van die jaar.

George Herman, beleggingshoof van Citadel, glo die skerp val is selfs eerder 'n nodige korreksie in die mark om batewaardasies na billiker vlakke af te bring.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, waarsku beleggers ook teen irrasionele gedrag. Uiteraard gaan die koronavirus en die reaksie daarop tot swak ekonomiese syfers lei, maar dis nog onseker of dit tot ’n wêreldwye resessie of ’n tydelike verlangsaming sal lei. Namate die krisis oor die volgende paar maande in bedwang kom, sal internasionale voorsieningskettings stadigaan weer aan die gang kom en sal ekonomiese bedrywighede herstel.

Sy verwag ’n U-vormige herstel eerder as ’n skerp V-vormige kurwe.

Aandeelpryse sal oor die volgende paar kwartale die laer maatskappywinste weerspieël, maar sodra die internasionale ekonomie herstel, sal aandeelpryse weer styg.

Die geskiedenis wys dat ’n oorreaksie in die markte verwag kan word soos wat onsekerheid en angs rasionele besluite oorheers.

Packirisamy meen sulke emosiebelaaide oorreaksies bied geleenthede aan slim stroomop-beleggers om hul langtermynwelvaart op te bou deur fundamenteel gesonde bates teen winskopies aan te koop, of om van fundamenteel duur, oorprysde bates ontslae te raak.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments.

Die geskiedenis wys langtermyn-opbrengste bly grootliks ongeraak deur gebeure soos die koronavirus-epidemie. As na langtermyn-grafieke van bateklas-opbrengste teruggekyk word, kan die uitwerking van sulke gebeure dikwels skaars raakgesien word, en blyk die impak daarvan veel kleiner te gewees het as wat dit ten tyde van die gebeurtenis gelyk het.

Packirisamy se advies is dus dat beleggers regdeur al die marksiklusse in die mark moet bly, eerder as om hul tydsberekening in die mark te probeer vervolmaak. Om tydens markswakheid bates te verkoop beteken potensiële verliese word gerealiseer, en dit hou die risiko in dat die belegger enige gevolglike herstel in die markte misloop.

Dieselfde boodskap kom van BlackRock, een van die wêreld se voorste batebestuurders van indeksfondse.

BlackRock verwag die virus se impak sal groot en skerp wees, maar hy meen dat beleggers ’n langtermynperspektief moet behou.

BlackRock sê hy behou tans die persentasie van bates wat hy normaalweg in aandele het, maar is wel oorgewig in meer defensiewe gehalte-bates en bates wat lae wisselvalligheid toon.

Andrew Dittberner, beleggingshoof van Old Mutual Wealth Private Client Securities, sê beleggers moet seker maak hulle belê in hoëgehalte-aandele wat die markwisselvalligheid weens onsekere gebeure kan oorleef. Dis teenproduktief vir beleggers om hulle nou aan buitelandse aandeelmarkte te onttrek om hul verliese te probeer beperk. Beleggers behoort eerder die daaglikse wisselings te ignoreer en op hul langtermyndoelwitte te fokus. “Dis nie ongewoon om markdalings van meer as 10% te sien nie, maar die markte herstel meestal binne ’n jaar daarvan. Dis hoogs waarskynlik dat om uit die mark te beweeg in tye van hoër wisselvalligheid daartoe lei dat beleggers die styging misloop wat onafwendbaar volg,” sê Dittberner.

“Dit is tevergeefs om die toekoms te probeer voorspel. Niemand kon die koronavirus voorsien nie. Ekonome probeer al ’n geruime tyd voorspel wat die internasionale ekonomiese herstel sal ontspoor. Handelsoorloë, skuld, Brexit en geopolitieke spanning was almal onder die verdagtes, maar niemand het gedink ’n virus sou die werk kon doen nie.”

Van so ver terug as die laat 1800’s het die S&P 500-indeks op die New Yorkse aandelebeurs nog nooit oor ’n 20-jaar-tydperk ’n negatiewe reële opbrengs vir beleggers gelewer nie. Dit sluit albei wêreldoorloë, die Groot Depressie en die internasionale geldkrisis in – gebeure wat die mark erger as die huidige koronavirus kon raak, sê Dittberner.

Hy gee toe nie almal het tyd om 20 jaar te wag nie, en daarom is goeie batetoedeling en diversifisering so belangrik.

Rede vir optimisme

Izak Odendaal en Dave Mohr, beleggingstrateë van Old Mutual, meen boonop dat Suid-Afrika rede vir optimisme het, al is die land nie immuun teen die epidemie nie.

Dave Mohr, hoofbeleggingstrateeg van Old Mutual Multi-Managers.

Hulle meen die markpaniek oor die virus en laer oliepryse kan beleggers hul toevlug laat neem tot edelmetale, wat hulle as veiliger beleggings beskou.

Dit kan tot voordeel wees van die mynmaatskappye wat op die JSE genoteer is. As Amerika rentekoerse verder sny, kan dit die dollar laat verswak en die rand laat herstel. Dit sal vir plaaslike effekte asook kleinhandel- en bankaandele voordelig wees.

Odendaal en Mohr sê dis afgesaag om vir beleggers te sê om kalm te bly, want dit is menslik om paniekbevange te raak. “Al wat ons in hierdie stadium kan sê, is dat beleggers versigtig moet dink oor hoeveel risiko hulle tans kan hanteer, en dat hulle dit moet balanseer met hoeveel risiko (oftewel aandeleblootstelling) hulle nodig het om aan hul langtermyn-finansiële-behoeftes te voldoen.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Beleggings  |  Covid-19  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.