Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Theo Vorster: Bly kalm en kyk rugby

Die Engelse rugbyspan het hom die naweek teen ’n begeesterde lot Iere vasgeloop wat sy droom om die All Blacks se rekord van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings verby te steek met 13 punte teenoor 9 stukkend gespeel het.

Ierland is toevallig dieselfde span wat laat verlede jaar die All Blacks se rekordlopie van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings gestuit het toe hulle die Nieu-Seelanders in Chicago geklop het.

As jy egter net na die statistieke sou kyk, behoort die rekord van agtereenvolgende toetsoorwinnings aan Ciprus, wat spog met 24 agtereenvolgende toetsoorwinnings totdat hulle in 2014 teen ’n omgekrapte Letland die knie moes buig.

Wat het dit met beleggings en beleggingsmarkte te doen? Jy kan tereg vra.

Ek het verlede week by die US Woordfees ’n reeks “Sake en Sauvignon”-aanbiedings vir Netwerk24 gedoen. Ek was aangenaam verras met die bywoning (gemiddeld so 100 gaste per sessie) en ook met die lekker interaksie met die gehoor.

Jeanette Marais, ’n direkteur by Allan Gray, het die verhoog met my gedeel.

In die laaste sessie verlede Vrydag het sy die storie van die heel eerste kliënt van Allan Gray vertel.

Allan het ’n beleggingsonderneming in 1973 begin en in 1974 sy eerste kliënt aan boord geneem. Dié kliënt was toevallig Allan se buurman en het R100 000 geërf (R4,8 miljoen in vandag se geld), wat hy toe aan sy buurman se nuwe besigheid toevertrou het.

Vandag is daardie buurman se geld sowat R2 miljard werd – ’n fenomenale opbrengs van 26% per jaar oor die afgelope 43 jaar.

Daar's altyd rede tot paniek

Oor dié periode was daar oorgenoeg redes en geleenthede om paniekerig te kon raak – dink maar aan die hiperinflasie-dekades (inflasie was gemiddeld amper 15% per jaar van 1980-’93), PW Botha se Rubicon-toespraak, die skuldstilstand, die ontbanning van die ANC, die 1994-verkiesing, ons nuwe konstitusionele demokrasie, tot by die finansiële krisis van 2008 en die huidige droogmaak binne die regering!

Kom ons plaas twee van dié geleenthede om paniekerig te kon wees so ’n bietjie in perspektief:

  • Indien die rand se verswakking om die hele Rubicon-toespraak en die skuldstilstand in 1985 dieselfde effek moes gehad het met die Nenegate-debakel in Desember 2015, sou die rand in Desember 2015 tot swakker as R23 teenoor die dollar moes val. Vir seker het die wilde bewegings in 1985 nie ongemerk by Allan se buurman verbygegaan nie, maar hy het nie sy geld onttrek nie.
  • Net so moes die finansiële krisis en die meer as 40%-dalings in ons mark in 2008 Allan se buurman van honderde miljoene rande in papierwaarde beroof het. Maar weer eens het Allan se eertydse buurman vasgebyt!

Die punt is: Daar is altyd redes om bekommerd te wees en om rasionele perspektief te verloor, selfs al verstaan jy wat die drywers van opbrengs is.

Fokus op feite, langtermynbeginsels

Die uitdaging is om op die werklike feite en langtermynbeginsels te fokus, wat natuurlik insluit dat ons moet verwag dat markte periodiek met meer as 40% kan daal – ons weet net nie wanneer dit weer gaan gebeur nie!

Wat het dit met die All Blacks of Engeland se rekordlopie van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings te doen? Om nou te argumenteer dat jy eers in Nicosia, hoofstad van Ciprus, die tuisspan moet klop alvorens jy kan spog dat jy die beste rugbyspan in die wêreld is, beteken dat jy rasionele perspektief verloor.

Jy vergeet van die onderliggende beginsels wat prestasie bepaal (onder meer bateklastoewysing, diversifikasie, goeie bestuur en so meer) aangesien jy irrelevante feite met mekaar probeer vergelyk – buite konteks is die aantal toetswenne in ’n ry maar net lekker braaivleisgesprekke!

Engeland en Nieu-Seeland ding mee onder die toprugbylande terwyl Ciprus (en Letland) in ’n baie laer liga meeding; dus is die prestasies geensins vergelykbaar nie.

Goeie beleggingsbeginsels sal steeds staande bly, selfs in onsekere en onvoorspelbare tye.

  • Theo Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital en ’n spreker oor beleggings en politiek-ekonomiese vraagstukke.  Dié rubriek was deel van die weeklikse nuusbrief Sakegesprek, wat Vrydae aan intekenare wat dit wil ontvang, gestuur word. Gaan na jou Netwerk24-profiel of klik op die skakel op MuntSlim as jy ook die nuusbrief in jou e-posmandjie wil ontvang.


Meer oor:  Theo Vorster  |  Sakegesprek  |  Rugby  |  Diversifikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1311,17 (-116)
  • Top 40 51747,21 (23705)
  • All Share 58152,4 (26974)
  • Resource 10 36100,7 (-8498)
  • Financial and Industrial 30 82340,96 (55696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.