Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Buigsame fondse beloon op lang termyn
Kim Hubner

Suid-Afrikaanse multibatefondse het die afgelope paar jaar gewilder geword.

Die rede hiervoor blyk duidelik wanneer ’n mens kyk na die spesifieke voordele wat dié buigsame fondse aan beleggers bied, sê Kim Hubner, hoof van sake-ontwikkeling en bemarking by Laurium Capital.

Dié batebestuurder is een van die deelnemers aan Volksblad, Jenwil BlouSter Finansiële Adviesdienste, Glacier van Sanlam en Radio Rosestad se Welvaartkongres in Bloemfontein op 25 September.

Sy sê boetiekbestuurders vaar uitstekend op dié terrein.

“Dit kan ’n aanduiding wees dat die grootte van die bates en die vermoë om buigsaam en rats te beweeg ’n voordeel bied.”

Batebestuurders met ’n soliede geskiedenis in die bestuur van verskansingsfondse is ook geneig om goed te vaar omdat hulle ’n multibatefonds met dieselfde ingesteldheid van kapitaalbeskerming benader, sê Hubner.

Sy antwoord ’n paar lesersvrae oor buigsame fondse:

1. Wat is buigsame fondse en watter soort beleggers belê tipies daarin?

Buigsame fondse het ’n onbelemmerde mandaat wat aan die bestuurders buigsaamheid in die batetoewysing gee.

Die fondsbestuurder kan tussen verskillende soorte beleggings beweeg op soek na goeie risiko-aangepaste opbrengste. Kliënte behoort die volle voordeel te trek uit watter bateklas ook al plaaslik én in die buiteland die beste geleenthede bied, hetsy aandele, kontant, effekte of eiendom.

Die onderliggende risiko- en opbrengsdoelwitte van individuele portefeuljes kan verskil, soos voorgeskryf deur die mandaat, strategie en die beleggingsdoelwit wat nagestreef word.

Beleggers wat op soek is na ’n holistiese belegging met blootstelling aan ’n verskeidenheid bateklasse waar die beleggingsbestuurder die beleggingsbesluite op grond van batetoewysing en die kies van aandele neem, kan ’n buigsame fonds oorweeg.

2. Die plaaslike aandelemark het die afgelope drie jaar middelmatige opbrengste gelewer. Watter raad het jy vir beleggers wat senuagtig is oor die prestasie van plaaslike aandele?

Hoewel die opbrengs van die JSE se Swix- (aandeelhouer-geweegde) indeks oor die afgelope drie jaar tot einde Junie maar 4,1% was, het aandele steeds ’n belangrike rol in ’n beleggingsportefeulje.

Dié bate is ’n kernfaktor om reële opbrengste te verkry.

Gemeet oor tyd is aandele die toppresterende bateklas en die opbrengste wat hulle bied klop, dikwels die opbrengs op effekte en kontant.

Dit is belangrik om by jou langtermynstrategie te bly om jou beleggingsdoelwitte te bereik.

3. Dit kan ’n belegger duur te staan kom om sy buigsame fonds vir kontant te verruil. Wat is die slaggate?

Wanneer ’n belegger probeer om die mark se bewegings te voorspel, onderpresteer sy belegging. ’n Mens is gewoonlik gemotiveer om te onttrek wanneer jou belegging ’n tyd lank onderpresteer, maar dis gewoonlik presies die verkeerde tyd om jou bates te skuif.

Mits jou portefeuljebestuurder oortuig is van sy of haar beleggingstrategie, kan ’n tydperk van onderprestasie opgevolg word deur een waarin jou belegging sterk terugbons wanneer die beleggingsplan realiseer. Verskuif jy jou bates in die onderpresterende tydperk, maak jy daardie onderprestasie vas.

4. Is daar te veel risiko in buigsame fondse te midde van die onstabiliteit in die aandelemarkte?

Elke belegger het ’n mate van “riskante” bates nodig om met ’n redelike marge beter as inflasie te vaar en oor tyd reële kapitaal te bou. ’n Belegging in kontant kan daartoe lei dat jy moontlik nie hierdie doelwit bereik nie.

Die vermoë om by te hou in ’n bulmark (wanneer die mark ’n groeilopie beleef), tesame met uitstekende risikobestuur, lei op lang termyn tot groei wat inflasie klop, veral in tye van groot wisselvalligheid. Portefeuljes word aktief bestuur met bates wat tussen verskillende markte en bateklasse verskuif word om die veranderings in die ekonomie te weerspieël. Die gevolg is dat afwaartse wisselvalligheid verlaag word.

’n Mens sou dink om die afwaartse risiko te bestuur ten koste van prestasie aan die opwaartse kant, maar dit is nie die geval nie.

Die voorste buigsame fondse in die bedryf het dit reggekry om kapitaal te beskerm sonder om prestasie in te boet, en het dit heelwat beter as algemene aandelefondse gedoen. Kliënte wat op lang termyn belê het, is goed beloon.

Sluit by ons aan:

Op Dinsdag 25 September kom ’n span van die land se voorste fondsbestuurders Bloemfontein toe om lesers se vrae oor die geleenthede en slaggate in die huidige beleggingsklimaat te beantwoord.

Die tema vanjaar is: Is onsekerheid die nuwe norm?

Die gasspreker is die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Jenwil BlouSter, Volksblad en Glacier se Welvaartkongres word by Summerwood gehou, om 17:00 vir 17:30. Verversings word bedien en ’n kontantkroeg is beskikbaar. Bywoning is gratis, maar dit is noodsaaklik dat plek bespreek word by office@jenwil.co.za of deur 051 447 0463 te skakel.

Meer oor:  Beleggings  |  Welvaartkongres  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1083,54 (-1255)
  • Top 40 45833,2 (-9504)
  • All Share 52109,79 (-14967)
  • Resource 10 40398,42 (-45920)
  • Financial and Industrial 30 68198,26 (9282)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.