Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Cobus Kellermann: Geen Ponzi, hoor SA 4 jaar later

Meer as vier jaar nadat ’n bom oor sy kop gebars het oor beweringe van sy betrokkenheid by ’n internasionale Ponzi-skema, het Cobus Kellermann Woensdag uiteindelik die blye nuus gekry dat geen bewys van enige oortreding teen hom gevind is nie.

Cobus Kellermann het geen wet in Suid-Afrika of elders oortree nie, is pas bekend gemaak.

Kellermann was sedert Maart 2015 in die mediakollig weens ’n beweerde Ponzi-skema wat ondernemings waarin hy belange het glo oor verskeie belastingtoevlugsoorde heen internasionaal bedryf het.

Sedertdien veg hy om sy naam skoon te kry en sukkel hy om antwoorde van die verskillende owerhede, insluitende dié in Suid-Afrika, te kry oor wat van hul ondersoeke oor die beweerde skema geword het.

Suid-Afrika se Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) sê Woensdag in ’n verklaring ’n inspeksie oor entiteite waarby Kellermann in Suid-Afrika betrokke was, het “ geen bewyse gevind van enige oortreding van die Suid-Afrikaanse wette in die finansiële sektor nie”.

Lees die volledige verklaring hieronder.

Volgens die FSCA dra hy ook nie kennis van enige stappe wat oorsee teen Kellermann gedoen is nie.

“Nóg die FSCA, nóg sy voorganger, die Raad op Finansiële Dienste (RFD), is in kennis gestel dat enige regulatoriese stappe teen Kellermann deur enige buitelandse reguleerder gedoen is.”

Kellermann reageer

Kellermann was nie juis opgewonde oor die nuus nie.“Ek het te veel gemengde gevoelens, ek weet nie of ek kwaad, hartseer of gelukkig moet wees nie.”

Hy het nog nie die verklaring behoorlik gelees nie.

Hy weet hy is onskuldig en die finansiële owerheid van Guernsey (GFSC) weet dit al vir baie jare, volgens hom.

“Die finansiële owerheid in Guernsey het dit probeer vertraag, want hulle is bang vir hul eie posisie, want baie eise verval ná drie jaar.”

Hy is veral kwaad vir die FSCA se eweknieë in Mauritius en Guernsey by wie hy tot vandag toe sukkel om behoorlik inligting te kry oor die besluite wat hulle geneem het, volgens hom.

Kellermann was sedert 2012 nie meer op bedryfsvlak oorsee betrokke nie.

Hy was ’n uiteindelike aandeelhouer in die bestuursmaatskappye van die fondse wat by die beweringe betrek was. In Mauritius is dié maatskappye se lisensies teruggetrek kort ná die eerste berig oor die beweerde Ponzi verskyn het. Toesighouers is daarna oor die fondse daar en in Guernsey aangestel.

Inspeksies

Die verklaring verwys na die inspeksie wat die FSCA uitgevoer het by verskeie finansiëlediensteverskaffers wat met Kellermann verbind word.

“Die RFD se inspeksie het probeer vasstel of Kellermann by enige Suid-Afrikaanse finansiëlediensteverskaffer betrokke was, en of die geld van enige Suid-Afrikaanse kliënte belê is, in die buitelandse entiteite waaroor die media berig het.”

Die Suid-Afrikaanse finansiëlediensteverskaffers waarby Kellermann in daardie stadium betrokke was, is:

  • RSA Multi Asset Management
  • Governation Investments SA
  • Pensionation Investments SA
  • Multivest Financial Planning
  • Contego Asset Management
  • Clarus Asset Managers

Hy was óf die uiteindelike eienaar van aandele in die ondernemings óf die kernindividu of direkteur van die ondernemings.

Die FSCA sê dis deel van sy mandaat om enige beweringe van finansiële wangedrag en beweerde oortredings te ondersoek. Hy het ook samewerkingsooreenkomste met buitelandse reguleerders om hulp te verleen met ondersoeke wat inligting benodig uit Suid-Afrika.

Die RFD het Kellermann in 2017 per brief verwittig die plaaslike ondersoek is afgehandel, maar dat die inspekteurs nog op reaksie van buitelandse reguleerders wag.

Die FSCA het verlede week by navraag aan Netwerk24 gesê geen negatiewe bevindinge is sedert 2017 van oorsee gekry oor enige beleggingskema of maatskappy waarby Kellermann betrokke was nie.

Hy het twee jaar gelede aan Netwerk24 gesê hy werk nie weer nie weens die skade aan sy reputasie.

LEES OOK: Cobus Kellermann: ‘Ek was slagoffer van vals nuus’

Die FSCA het by navraag of Kellermann weer as ’n finansiëlediensteverskaffer of sleutelindividu van so ’n firma mag registreer of in die batebestuursbedryf mag werk, gesê: “Soos enige individue kan mnr. Kellermann aansoek doen by die owerheid. Hy sal onderhewig wees aan die normale lisensiëringsprosesse en die vereistes van geskiktheid en gepastheid waaraan alle finansiëlediensteverskaffers en sleutelindividue onderworpe is.”

Kellermann en sy sakevennoot David Cosgrove het twee dae nadat die bom gebars het in Maart 2015 reeds aan Die Burger gesê “daar is geen Ponzi-skema nie”.

Cosgrove het in ’n stadium die veldtog teen hulle is begin deur ’n mededinger, die firma DeVere. Cosgrove het gesê die beweringe het ’n “heksejag” deur oorsese reguleerders na hul sake begin.

Die eerste berig oor die beweerde Ponzi het in die oorsese webwerf Offshorealert.com verskyn. Dié webwerf doen verslag oor nuus in sogenaamde belastingtoevlugoorde in die wêreld, insluitende die eilande Mauritius en Guernsey, waar van die beleggingsfondse geregistreer was waarby Kellermann-hulle betrek was.

Meer oor:  Cobus Kellermann  |  Bedrog  |  Ponzi-Skema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.