Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dawie Roodt: Opwindende ontwrigting lê voor
Die digitale geldeenheid bitcoin se waarde het die laaste tyd vreeslik geklim.

Ek het al ’n paar keer geskryf oor die blokketting- (blockchain) tegnologie en hoe private (geïnkripteerde) digitale geld eendag die wêreld van veral bankwese en betaalstelsels heeltemal gaan ontwrig. Maar ek het nie gedink dit gaan so gou gebeur nie!

Facebook het aangekondig dat hy beplan om sy eie geldeenheid, die libra, te loods. Dit kan lei tot reusagtige verandering in van die bankwese en betaalstelsels tot handel. Dit kan selfs die voortbestaan van lande bedreig.

Facebook is ’n baie groot “tegno-maatskappy” met baie, baie geld en byna 2,5 miljard gebruikers. Facebook is dus ideaal geposisioneer om ’n digitale geldeenheid tot stand te bring.

Facebook en ’n paar ander groot maatskappye soos Uber en eBay het ’n groep gevorm wat beplan om die libra binne ’n jaar van stapel te stuur. Selfs ons eie Naspers deur sy PayU-besigheid is onregstreeks deel van dié groep, sowel as groot bestaande maatskappye wat reeds betaalstelsels bedryf, soos Visa en Mastercard. Maar geen bank is deel van die groep nie.

Facebook se bestaande apps soos WhatsApp sal waarskynlik aangepas word om ook ’n digitale beursie in te sluit. Net so maklik soos dit is om ’n boodskap per WhatsApp te stuur, so maklik sal dit wees om geld na enige plek in die wêreld te “stuur”. En dit sal goedkoper, vinniger en veiliger wees.

’n Suksesvolle libra kan Facebook baie magtig maak. Facebook is reeds in besit van baie miljarde mense se persoonlike inligting en nou sal hulle dalk ook alles van jou geldsake af weet.

Daar is baie teenstand teen Facebook se planne, en baie regulatoriese en tegniese vrae en hindernisse wat Facebook sal moet oorkom, maar die totstandkoming van ’n private dominante digitale geldeenheid is net ’n kwessie van tyd.

Daarom is dit nie vreemd dat daar nou oproepe is vir baie strenger beheer oor maatskappye soos Facebook nie.

Tegnies is die plan om aanvanklik ? private blokketting te gebruik wat deur ’n beperkte getal maatskappye beheer sal word, maar om later ’n ware gedesentraliseerde blokketting te gebruik, baie soos bitcoin vandag.

Dan sal Facebook en die ander groot maatskappye teoreties nie meer die stelsel beheer nie.

Dawie Roodt

Een groot probleem tot nou toe met private geld, is dat die prys daarvan geweldig wisselvallig kan wees. Kyk maar hoe het bitcoin se waarde die laaste tyd gestyg en gedaal. Die libra sal egter deur ’n mandjie geldeenhede en ander finansiële bates gerugsteun word.

Die idee is om ’n stabiele geldeenheid tot stand te bring, amper iets soos die goudstandaard van ouds. Die libra sal ’n eie wisselkoers hê teen ander geldeenhede, net soos die dollar ’n wisselkoers teen die euro het.

Indien die libra ’n sukses is, sal dit ? groot impak op die werking van sentrale banke hê. Veral die wêreld se kleiner sentrale banke, soos die Suid-Afrikaanse Reserwebank, kan moontlik tot niet gaan. Monetêre beleid en sentrale banke se beheer oor banke kan dramaties beïnvloed word. Dit kan die vermoë van sentrale banke om in te gryp ten tye van sistemiese krisisse, soos die Lehman Brothers-krisis wat die Groot Resessie ingelui het, aan bande lê.

’n Suksesvolle libra sal dit byna onmoontlik maak vir lande om internasionale kapitaalvloei te beperk. Dit is veral belangrik vir lande soos Suid-Afrika waar valutabeheerregulasies steeds van krag is.

Al die moontlike probleme, gevare en bedreigings wat ’n suksesvolle private digitale geldeenheid inhou, word egter heeltemal oorskadu deur die geweldige voordele wat dit kan inhou.

Daar is bykans twee miljard mense wat nie eens bankrekeninge het nie, veral in arm lande, en ’n libra sal aan hulle goedkoop toegang tot die internasionale finansiële wêreld gee.

Maar dit beteken natuurlik ook dat swakker regerings nou selfs nog minder invloed oor hul mense sal hê. Ek vermoed baie van die wêreld se kleiner geldeenhede gaan verdwyn.

En indien ? land nie meer soveel belasting kan invorder nie, en nie sy eie geldeenheid het nie, en ook min beheer oor betaalstelsels het, en ook geen beheer oor kapitaalvloei het nie, is dit steeds ’n land of net ’n plek?

Selfs die voortbestaan van ryk lande se banke en bankstelsels sal geraak word deur ’n suksesvolle libra.

Wat my opgewonde maak, is dat dié nuwe tegnologie, as ons dit reg aanwend, meer mag in die hande van die individu kan plaas. “Staatsinstellings” soos sentrale banke en belasting-invorderaars sal minder beheer oor ons hê.

'n Suksesvolle libra kan ’n opwindende, nuwe tydperk vir die wêreld inlei van geweldige verandering met baie gevare en verantwoordelikhede vir die individu.

Ek verkies 'n wêreld met gevare en vryheid, eerder as die teenoorgestelde.

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Groep.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Kriptogeld  |  Beleggings  |  Bitcoin  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.