Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dié bateklas het in 2018 die beste opbrengs gegee

Dis amptelik: Effekte was in 2018 die beste moontlike plek om jou geld te belê en genoteerde eiendom die slegste. Dit net as die vier groot bateklasse – aandele, genoteerde eiendom, effekte en kontant - in Suid-Afrika vergelyk word.

2018 was ’n rowwe jaar vir mense met ’n aggressiewe portefeulje, maar konserwatiewe beleggers het beter gevaar.

Die voljaaropbrengs van die indeks van plaaslike effekte was 7,74%.

Kontant, met ’n opbrengs van 7,29%, was met net ’n kortkop tweede. Kontant word gemeet aan die Stefi, oftewel die geldmarkindeks.

Albei dié bateklasse het die inflasiekoers getroef. Hoewel die voljaarinflasiesyfer vir 2018 eers oor ’n paar weke uitgereik word, sou dit dalk teruggesak het van November se 5,2% danksy die daling in die petrolprys in Desember.

Aandele het, selfs met alle dividende ingesluit, ’n jaaropbrengs van -8,53% opgelewer, die eerste keer sedert 2008 dat aandele ’n negatiewe opbrengs oplewer. Dis soos gemeet aan die JSE se indeks van alle aandele.

Genoteerde eiendom, wat in 2018 geruk is deur bewerings dat Resilient en verwante maatskappye hul aandeelprys gemanipuleer het, onder meer deur te hoë waardasies van eiendomme, het die jaar -25,26% opgelewer – ’n enorme verlies in ’n sektor wat op lang termyn Suid-Afrika se toppresteerder is. Dis soos gemeet aan die indeks van genoteerde Suid-Afrikaanse eiendom.

Die 2018-syfers, selfs die groei op kontant en effekte, sou beleggers teleurgestel het nadat hulle in 2017 stewige opbrengste behaal het op al vier die bateklasse. In 2017 was aandele voor in die koor met ’n totale opbrengs van 20,95%, daarna genoteerde eiendom (17,15%), effekte (10,19%) en kontant (7,52%).

Aandele was wel in Desember die bateklas wat die beste gevaar het. In dié maand alleen gemeet was die opbrengs op aandele 4,25%, wat baie hoog is as maandopbrengs. Dis vergeleke met net 0,64% vir effekte en 0,6% vir kontant.

Volgens Imdaad Nana, beleggingsontleder van die eiendomsfondsbestuurder Catalyst, gaan die probleme met genoteerde eiendom dalk in 2019 voortduur.

“Genoteerde eiendom gaan op kort tot mediumtermyn steeds moeilike toestande moet trotseer aangesien die ooraanbod oor alle sektore hardnekkig hoog bly, sonder betekenisvolle ekonomiese groei om vraag daarna ’n hupstoot te gee.”

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) ondersoek steeds die Resilient-bewerings.

Individuele beleggers se prestasie sou verskil het na gelang van watter aandele of effektetrustfondse hulle besit. Die verlies is ook net op papier totdat mense aandele verkoop. Aandele en genoteerde eiendom word as langtermynbeleggings beskou wat oor tydperke van langer as drie jaar inflasie kan klop.

Kontant kan in 2019 op sy beurt ’n hupstoot kry indien die Reserwebank weer die rentekoers verhoog. Ontleders is verdeeld daaroor – sommige ekonome verwag ’n verhoging in onderskeidelik Julie, September of November, terwyl ander reken dit sal tot 2020 uitgestel word.

In die truspieël

  • Effekte was agt maande (Maart, April, Mei, julie, Augustus, Oktober, November en Desember) die bateklas wat die beste jaaropbrengs opgelewer het. Effekte was ook vyf maande (Januarie, Februarie, Maart, Julie en November) die bateklas wat die beste maandopbrengs opgelewer het.

  • Aandele was drie maande (Januarie, Februarie en Junie) die bateklas wat die beste jaaropbrengs opgelewer het. Aandele was ook drie maande (Junie, Augustus en Desember) die bateklas wat die beste maandopbrengs opgelewer het. Februarie as 17,44% was die hoogste jaaropbrengs van enige bateklas in 2018.
  • Kontant was in een maand (September) die bateklas met die beste jaaropbrengs en drie maande (Mei, September en Oktober) die bateklas wat die beste maandopbrengs opgelewer het.
  • Genoteerde eiendom was net een maand (April) die beste bateklas op ’n maandgrondslag en nooit op ’n jaargrondslag nie. April se 7,68% was die hoogste maandopbrengs vir enige bateklas in 2018.
Meer oor:  Beleggings  |  Genoteerde Eiendom  |  Bateklasse  |  Effekte  |  Geldmark  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1997,51 (1144)
  • Top 40 51565,16 (-39287)
  • All Share 57636 (-41671)
  • Resource 10 46379,94 (-9014)
  • Financial and Industrial 30 77165,34 (-80113)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.