Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Die rand en jou beleggings: Wat val, styg ook weer

Met die skryf hiervan verhandel die rand teen sowat R14,90 teenoor die Amerikaanse dollar. Net twee weke gelede was dit op R15,40 per dollar, die swakste vlak in twee jaar.

Andró Griessel

Die verswakking van die rand het ’n voorspelbare emosionele reaksie veroorsaak met die gepaardgaande oproepe om te hoor of kliënte genoeg geld aan buitelandse bates blootgestel het en of hulle nie maar nog meer moet uitvat nie, “want dit is mos eenrigtingverkeer van hier af, die rand gaan net aanhou verswak”.

Mense het dieselfde van die Springbokke gesê, en daar wen hulle wraggies in Wéllington.

Ek het ’n bietjie gaan kyk na die ergste verswakkings in die rand sedert 1992 en die meegaande tabel opgestel. Die kriteria was dat daar ’n 20% of groter verswakking in die waarde van die rand teenoor die dollar moes wees in minder as ’n jaar. Die rand is eenvoudig te wisselvallig om na 10%-verswakkings te kyk.

Terloops, wanneer ek praat van die rand wat met 20% verswak teenoor die dollar, bedoel ek eintlik dat die dollar met 20% versterk teenoor die rand.

Dit klink na dieselfde ding, maar dit is nie. As die rand met 100% teenoor die dollar sou verswak, sou dit niks werd gewees het nie.

Wanneer die dollar met 100% teenoor die rand versterk, (soos wel in 2000-’01 gebeur het) beteken dit slegs dat jy dubbeld soveel rande moet betaal om ’n dollar te koop of dat die rand se waarde gehalveer het teenoor die dollar.

Stof tot nadenke...

’n Paar goed wat vir my uitstaan uit die meegaande tabel en ander navorsing oor die rand:

Die afgelope 26 jaar het die rand al 11 keer met meer as 20% verswak in minder as 12 maande. In nege uit 11 van hierdie gevalle het die verswakking altesame 30% oorskry.

Ek wil my nek uitsteek om te sê dat suiwer buitelandse aandelebeleggings verseker nie dieselfde opbrengs gaan oplewer as in die voorafgaande vyf jaar nie (ongeag in watter geldeenheid jy dit beskou).

Ons behoort dus eintlik teen hierdie tyd gewoond te wees aan sporadiese tydelike ineenstortings.

Ondanks bogenoemde sporadiese ineenstortings was die gemiddelde versterking van die dollar teenoor die rand van 1990 tot einde 2017 gelyk aan 6,02% per jaar en 6,61% per jaar as ons die mees onlangse waarde van die rand in ag neem.

Die huidige verswakking was die 5de grootste verswakking tot op hede en dit is onseker of R15,40 die swakste vlak in die huidige siklus van verswakking is.

Die huidige siklus van verswakking het ’n standaardafwyking van twee gehad, wat uit ’n statistiese oogpunt meer as net beduidend is, maar ook moontlik op ’n oorreaksie kan dui.

Die mees ekstreme devaluasie van die rand teenoor die dollar was met die eeuwending. Sommige mense het destyds ’n standpunt ingeneem dat die rand in permanente vryval is en geld in die buiteland belê teen R13,54 vir ’n dollar – ’n vlak waaronder die rand met ’n groot mate van waarskynlikheid binnekort weer sal verhandel (18 jaar later).

In geen enkele geval het die rand ses maande later teen ’n swakker koers verhandel nie en in slegs vier gevalle het dit 12 maande later marginaal swakker verhandel. Gemiddeld het die rand in die daaropvolgende ses tot 12 maande sowat 10% veld gewen teenoor die dollar.

Voordat ek sê wat ek dink dit vir jou as belegger of besluitnemer (waar die wisselkoers ’n rol speel) beteken, is dit net weer belangrik om te noem dat ek geen idee het of ons die einde van die huidige siklus van verswakking gesien het nie. Daar is nie iets soos sekerheid nie.

Die geskiedenis het ons wel al die volgende wysgemaak: Jou langtermynbeleggingstrategie behoort op die fundamentele waarde van die onderliggende bates in hul tuisgeldeenheid gegrond te word en nie op wat jy dink met die wisselkoers tussen jou en die ander geldeenheid (indien van toepassing) gaan gebeur nie.

Op lang termyn is wisselkoersbewegings tot dusver baie naby aan ’n nul-som-spel in reële terme.

Die huidige vlakke van die rand lyk na ’n oorreaksie. As jy nou teen versterking verskans, kan jy dalk ’n paar rand wins inboet (as die rand verder verswak), maar dit is die statisties sinvolle ding om te doen.

As jy tot nou toe ’n oorgewig-posisie in buitelandse bates gehad het, het jy die voordeel van ’n verswakking in die rand sowel as ’n baie sterk lopie in buitelandse aandele gehad. Om ván hierdie wins van die tafel af te neem, is waarskynlik nie ’n slegte idee nie.

As jy nuwe geld nóú vir die eerste keer omskakel in dollars om te belê in ’n mark wat in ’n gevorderde stadium van ’n bulmark is (soos die VSA) sal jou opbrengs oor vyf jaar waarskynlik teleurstellend wees.

Ek wil my nek uitsteek om te sê dat suiwer buitelandse aandelebeleggings verseker nie dieselfde opbrengs gaan oplewer as in die voorafgaande vyf jaar nie (ongeag in watter geldeenheid jy dit beskou).

Onthou maar altyd – wanneer beleggingsbesluite maklik en gerieflik voel, is dit gewoonlik verkeerd! 

  • Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.