Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Die toekoms van kriptogeld is blink, beloof Luno

Al hou die prys van bitcoin aan om te daal, is die plaaslike verhandelingsplatform Luno steeds baie positief oor die toekoms van kriptogeld as ’n stabiele betalingsmetode.

Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika.Foto: Verskaf/Luno

Bitcoin het in November sy grootste daling sedert Augustus 2011 gesien toe dit met meer as 37% geval het, berig Bloomberg.

Volgens Coindesk is die prys van een bitcoin tans net meer as $3 960. ’n Jaar gelede was dit $13 461.

Steeds is dit geen rede tot kommer nie, sê Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika.

“Ek hou nie die bitcoin-prys heeldag dop nie,” sê hy. “As die prys met 20% val, traak dit ons nie. Ons gaan voort soos altyd,” sê hy vanuit Luno se byderwetse oopplankantoor in die hart van die Kaapse middestad.

“Doemprofete het al seker driehonderd keer die dood van bitcoin aangekondig; tien jaar later staan dit nog sterk.”

Lees ook: Bitcoin word 10: Só het die prys verander

Beteken dit die tyd is nou reg om jou spaargeld in bitcoin te stoot en voordeel uit die laer prys te trek?

Hokaai eers, waarsku Reitz.

My raad is, begin klein. Koop ’n fraksie van ’n bitcoin en leer meer oor die tegnologie.
Marius Reitz

Hy verwys na verlede jaar se bulmark waartydens die prys van bitcoin uitermatig vinnig in ’n baie kort tyd gestyg het en elke Jan Rap en sy maat geskarrel het om voor die voet kriptogeld te koop.

“Mense het totaal irrasioneel opgetree en talle het hul vingers verbrand.”

Diegene wat geld verloor het, het kriptogeld sommerso as ’n bedrogspul afgemaak, hoewel hulle dit nie regtig verstaan nie, sê Reitz.

“My raad is, begin klein. Koop ’n fraksie van ’n bitcoin en leer meer oor die tegnologie.

“Maak gebruik van ’n verhandelingsplatform wat betroubaar is deur te weet of die maatskappy geïnkorporeer is en wie sy direkteure is.”

Vertroue is juis Luno se grootste bate, sê Reitz. En dit gaan nog jare duur voordat die publiek kriptogeld ten volle verstaan en dit as meer as net ’n riskante belegging sien.

“Nes WhatsApp en Skype die kommunikasiebedryf verander het, dink ons kriptogeld sal nog die finansiële landskap op sy kop keer.”

Luno het navorsing gedoen oor Suid-Afrikaners se begrip van kriptogeld en het bevind dat 69% van respondente minstens weet wat die konsep beteken; 29% besit ’n vorm van kriptogeld en ’n verdere 53% het aangedui hulle stel daarin belang om kriptogeld te koop.

“Ons vind dié syfers merkwaardig hoog, gegewe dat bitcoin nou maar 10 jaar oud is,” sê Reitz.

kriptogeld

As maatskappy verwelkom Luno ook enige beplande regulering van die bedryf. “Ons is baie positief daaroor en die Suid-Afrikaanse Reserwebank doen ongelooflike goeie werk. Hulle is nou in die pylvak om ’n nuwe kriptobeleid uit te reik wat net soveel vir ons as aan kopers sal klarigheid gee.”

Reitz verduidelik die Reserwebank beplan nie noodwendig om kriptogeld soos bitcoin te onderskryf nie, maar wel om meganismes in plek te stel om diegene wat daarin handel dryf, te beskerm.

Dit sluit onder meer in regulasies wat bepaal dat enigeen wat in kriptogeld wil handel dryf, sy identiteit moet bevestig, iets wat Luno in ieder geval reeds vereis.

Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika.Foto: Verskaf/Luno

“Daar is egter baie rolspelers wat dit nie doen nie,” sê Reitz.

Beteken dit daar gaan dalk ’n mate van konsolidasie plaasvind wat betref verhandelingsplatforms, veral in Suid-Afrika?

Tot ’n mate ja, sê Reitz. Hy verduidelik die koste om aan die beplande regulasies te voldoen, sal te hoog wees vir van die kleiner verhandelingsplatforms.

“En omdat hierdie platforms met mense se geld werk, maak hulle staat op gebruikers se vertroue.” Platforms wat nie aan die regulasies voldoen nie sal derhalwe nie noodwendig dieselfde mate van vertroue inboesem nie, sê hy.

“Ons gaan nuwe platforms sien, en die bestaande platforms gaan groter word. Maar hoe meer platforms daar is, hoe beter. Want dit beteken meer mense kan van kriptogeld uitvind en aangemoedig word om daarin te belê.”

Meer oor:  Luno  |  Bitcoin  |  Tegnologie  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2484,77 (9054)
  • Top 40 48545,62 (-10133)
  • All Share 54280,79 (-10551)
  • Resource 10 42993,1 (-27592)
  • Financial and Industrial 30 73252,99 (-2724)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.